Naomi verduidelik vir Rut dat mense baie maklik vergeet van hulle familie verantwoordelikhede, en dan is dit veral die weduwees wat daaronder ly.
“Daarom is een van die voorskrifte van Moses dat daar ‘n ‘losser-stelsel’ moet wees. Boas is juis een van ons lossers.”
Daar is ‘n groot vraagteken op Rut se gesig: “Losser? Wat is dit?”
Dan verduidelik Naomi: “‘n Losser het eintlik verskeie pligte binne die familiekring. Een van sy pligte is as ’n familielid byvoorbeeld in ‘n ongeluk sou omkom as gevolg van iemand se nalatigheid, dan moet hy sorg dat die familielid se dood gewreek word.”
Rut trek ‘n suur gesig: “Wat het dit dan met ons situasie uit te waaie?”
“Wag Rut, dis maar slegs één van baie pligte. Verder, as ‘n familielid op die een of ander manier ‘n slaaf word, dan is dit ook die losser se plig om die slaaf los te koop. Dit kan so maklik gebeur dat jy ‘n slaaf word. As jy te diep in die skuld raak, en nie meer kan betaal nie, kan jou skuldeiser jou verkoop as slaaf om sy skuld te kry!”
Maar Rut verstaan nog steeds nie wat dit met hulle twee te doen het nie. “Rut, as ‘n familielid sou sterf, moet die losser sorg dat die persoon se grond binne die familie bly. En as daar nog nie kinders uit die huwelik gebore is nie, is dit selfs sy plig om met die weduwee te trou en by haar kinders te verwek sodat die familienaam kan voortleef.”
Rut bloos bloedrooi. En dan besef sy skielik met ‘n skok dat Naomi mos eintlik die weduwee in die familie is. As Boas dan die familie-losser is, dan beteken dit dat hy met Naomi moet trou! “Ma.....?” begin sy, maar Naomi sien sommer dadelik waarop Rut se vraag wil afstuur.
“Rut, jy is nou onlosmaaklik deel van die familie. Ek is al te oud om kinders te kry, so dit sal nie help dat hy met my trou nie. Jy is nou die volgende skakel in ons familie, want alhoewel jy van ‘n ander land is, was jy met jou oorlede skoonpa se seun getroud. Jy is dus die een wat Pa Elimeleg se familienaam moet voortdra!”
Rut se oë rek groot, en haar hart klop in haar keel. Skielik sit sy met ‘n baie groter verantwoordelikheid op haar skouers as wat sy besef het.
“Maar daar is ‘n probleempie, Rut. Boas is nie die enigste losser in ons familie nie. Daar is ook nog ‘n ander jong man. En ek het al klaar gesien hoe hy met begerige oë na jou kyk. Hy is nou wel familie, maar ek dink nie dat julle twee ooit bymekaar gaan pas nie.”
Naomi besef maar al te deeglik dat Rut haar kaarte mooi sal moet speel. “Boas,” dink Naomi, en daar speel ‘n glimlag om haar mondhoeke, “Boas sal die ideale man vir Rut wees. Maar ek sal nog hard moet werk aan ‘n plan om die tweetjies bymekaar te kry! En dan is daar nog die probleem van daardie ander jong losser wat sy flikkers so vir Rut gooi! Hoe raak mens van hom ontslae?”
Die volgende paar weke is Rut elke dag dou-voor-dag op om in Boas se landerye te gaan graan optel. Met groot tevredenheid sien sy hoe hulle voorraad graan daagliks aangroei. Daar is sekerlik al genoeg om haar en Naomi deur te sien tot die volgende oestyd. Maar steeds gaan sy terug, want op die land is daar ‘n groot trekpleister. Sy hoop maar net elke keer om vir Boas te siene te kry. Wanneer hy die dag nie daar is nie, is haar dag nie volmaak nie. Hoe sien sy nie uit na elke dag nie! Rut is stralend!
Ongelukkig vir haar, breek daar ‘n dag aan wat die laaste gerwe by Boas se landerye uitgedra word. Daardie volgende dag sug Rut swaar. Daar is ‘n leegheid in haar. Wat nou? Wat gaan sy nou doen? Hoe gaan sy óóit die dae omkry sonder daardie heerlike tye saam met Boas en sy werkers?
Is daar ook Iemand in jou lewe wat jou so borrelend opgewonde maak? Nee, ek bedoel nie daardie aantreklike man of beeldskone meisie nie. Ek praat eintlik van Jesus. Is jy ook gretig om die dag saam met Hom te begin? Is daar by jou die onblusbare begeerte om die hele dag saam met Hom deur te bring? My dag is leeg as ek Hom nie kan sien nie, of die hele tyd bewus is van Sy teenwoordigheid in my lewe nie. Om maar net met Hom te kan praat en vir Hom te vertel van die vreugdes en vrese in my lewe, en om die sagte fluistering van Sy stem te kan hoor, wanneer Hy my verseker: “Moenie bekommerd wees nie My kind, Ek is by jou - Ek hou jou hand styf vas.”
Jy hoef nooit óóit alleen of eensaam te voel nie, want in Matt. 28 het Jesus ons die versekering, die belofte gegee: “Onthou: Ek is by julle al die dae, tot die voleinding van die wêreld.” Hy is dus nou hier by my waar ek sit en werk of waar ek alleen in ‘n ouetehuis sit. Ek hoef dus nooit weer eensaam te wees nie. Jesus is te alle tye langs my. En ek kan selfs met Hom gesels!
Gebed:
Here Jesus, baie dankie dat ek vandag kan weet dat daar nooit ‘n einde sal kom aan U teenwoordigheid by my nie - dat U altyd by my is, tot aan die voleinding van die tyd.