My Doel op Aarde?

21 June, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie My Doel op Aarde?

Kolossense Inleiding

VIDEO   *  OUDIO

Wat is die doel van Christengelowiges op aarde? Waarom is ons hier? Die antwoord is eintlik héél eenvoudig: Omdat Christus hier is! Hy is die Een wat ál die verskil kom maak het en steeds maak. Met Sy koms het daar ‘n nuwe lig geval op alles wat tot op daardie stadium as Godsdiens bekend was en Hy het aanbidding van God ‘n totale nuwe belewenis gegee! As ons dus wil weet wie ons as Christene is, moet ons eers vir Christus ken. Ons moet weet wie Hy is, wat Hy vir ons gedoen het en wat dit alles vir ons beteken. Hierdie dinge word duidelik uit die brief aan die Kolossense. Hierdie boek leer ons om Christenskap in ‘n nuwe perspektief te sien, een van praktiese Christenskap.

Meeste gemeentes is vandag baie bevoorreg om een of meer toegewyde, geleerde leiers te hê, ‘n dominee, pastoor of ander opgeleide persoon om leiding te neem en die Woord te bedien. Daar is egter gemeentes wat nie so bevoorreg is nie. Kolosse was juis só 'n gemeente!

Kolosse het nie so ‘n geleerde leier gehad om hulle te help met hulle daaglikse geestelike probleme nie. Ten spyte hiervan moes hierdie Christene egter nie alleen geestelik oorleef nie, maar hulle moes ook die sendelinge wees wat die Christelike geloof moes uitdra aan al die heidene in die stad Kolosse. Die probleem was egter dat jong Christene sonder die nodige leiding maklik op ‘n dwaalspoor kon beland, of nóg erger, dat hulle Jesus se unieke gesag kon begin prysgee! Hy het dikwels maar net nóg ‘n manier geword om by God uit te kom!

Een van die gemeentelede, Eprafas was 'n baie bekommerde man. Hy het gesien wat besig was om te gebeur en hy kon nie langer sy kommer oor die stand van sake wegsteek nie. Die enigste persoon waarvan hy geweet het wat raad sou hê vir hulle probleem, was die groot sendeling Paulus. Paulus was egter in die tronk in Rome. Eprafas se kommer was só groot dat hy besluit om al die pad na Rome te reis om die probleem daar met Paulus te gaan bespreek.

Paulus het aandagtig geluister na Eprafas se droewige verhaal en toe skryf hy ‘n brief aan die gemeente om hulle op die regte pad te lei. Dit was géén maklike taak nie! Hy moes by die kern van die Evangelie bly, want die gemeentelede was gekonfronteer met nie-Christelike idees, waar die klem dikwels geval het op wat ‘n mens moes “doen” om by God uit te kom. 

Dit klink natuurlik logies en baie edel om te vra wat my te doen staan om by God uit te kom. By die Kolossense was die antwoord egter om allerhande kultiese wette na te kom. Dit het onder meer behels dat hulle engele moes vereer en allerhande godsdienstige gebruike moes navolg. Dit het dus gladnie eers meer gegaan oor Christus nie! Paulus moes dit vir hierdie gemeente baie duidelik maak dat daar sonder Christus en Sy verlossingswerk géén redding moontlik is nie.

Paulus het verskeie briewe geskryf, waarvan baie verlore gegaan het. Altesaam dertien van sy briewe is uiteindelik in die Nuwe Testament opgeneem. Soos ons reeds kon aflei, was hierdie een van die briewe wat hy geskryf het terwyl hy in die tronk was in Rome, iewers tussen 61 en 63 nC. Hy het ook etlike ander briewe uit die tronk geskryf, soos dié aan die Efesiërs, Filippense en Filemon. 

Net iets oor die antieke stad Kolosse: dit is gebou op 'n groot handelsroete deur die Lycusriviervallei in die Romeinse provinsie Klein-Asië, die hedendaagse Turkye. Kolosse was veral beroemd vir 'n pragtige donkerrooi materiaal, kolossinum wat daar vervaardig was. Maar Kolosse se belangrikheid as 'n sakesentrum het aansienlik verminder rondom 100 vC, toe die naburige stad Laodisea gestig is. Die twee dorpe, saam met die naburige Hiërapolis, is vernietig deur 'n aardbewing in 17nC en toe weer  tydens die bewind van Nero in 60nC. Kolosse is ná elke aardbewing herbou, maar dit het nooit sy vroeë prominensie herwin nie. Teen 400nC het die stad nie meer bestaan nie en vandag is daar nog net ruïnes oor van die eens-belangrike handelstad. 

Die stad het ‘n gemengde Grieks-Joodse kultuur gehad, wat ook in die gemeente weerspieël het. Paulus het vir ‘n lang ruk in Efese gebly, sowat 200 km van Kolosse af. Van die inwoners van die omliggende dorpe het die boodskap by Paulus gehoor in Efese en so het die Evangelie na die buurdorpe versprei. Op hierdie manier het Eprafas waarskynlik ook die goeie nuus gehoor en dit op sy beurt weer gaan oorvertel in Kolosse. Elke gelowige was in werklikheid ’n “lekeprediker”. Toe dinge egter nie meer sin maak nie, het Eprafas by Paulus gaan aanklop vir hulp.

Vandag wil ons as gelowiges gemaklik terugsit en slegs die leraar betaal om die Woord te verkondig. Wanneer ons egter die Kolossense brief lees, moet ons tot die slotsom kom dat elke gelowige vandag steeds die taak het om op die een of ander wyse prakties deel te neem aan die verkondiging van die Evangelie. Kom ons leer weer wat dit waarlik prakties beteken om ‘n Christen-gelowige te wees.

Gebed:

Here, ek wil vanoggend dankie sê dat U my U kind gemaak het. Ek besef dat dit baie verantwoordelikhede vir my meebring. Help my om prakties my Christenskap uit te leef volgens U wil.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026