Eksodus 8:16-9:12
Die Farao het nie sy belofte nagekom om die Israeliete verlof te gee om te gaan aanid nie, dus stuur God 'n derde plaag: muggies.
Nou sal jy dalk wil sê dat muggies darem nie so erg is nie. Hulle is maar net piepklein skadelose goggatjies. Bloot 'n lastigheid! Maar asf jy al ooit in ‘n swerm muggies beland het, dan sal jy weet dat daardie lasitige goggatjies oral inkruip - in jou neus en ore, en as hulle in jou oog beland, dan brand dit soos vuur! Eksodus 8:17 vertel dat “elke krieseltjie stof ‘n muggie geword het”. Hulle was oral, in hulle miljoene en die irritasie was ondraaglik. Die Farao se towenaars het hom gewaarsku: “Dis die vinger van God!” Hy het hom egter nie daaraan gesteur nie en hy het hardkoppig en onversetlik gebly.
Dan besluit God om ’n vierde plaag - steekvlieë te stuur. Vooraf waarsku die Here vir Moses van hierdie plaag wat Egipte sou tref, maar Hy sê vir Moses dat die Gosenstreek waar die Israeliete bly, gespaar sou word. Almal moes besef dat Hy God is en dat Hy Sy volk bewaar!
Vroeg daardie oggend wag Moses weer die Farao langs die Nyl in en deel hom mee van die verskrikking wat hom te wagte is as hy weier dat die volk in die woestyn hulle offers aan die Here kan gaan bring “En jy kan maar gaan kyk,” deel Moses hom mee, “in Gosen sal jy nie ‘n enkele steekvlieg kry nie!”
Nou begin die Farao geïrriteerd raak met hierdie lastige ou man en sy plae. Maar skaars is Moses weg, of die swerms steekvlieë sak op Egipte toe. Die pyn van elke steek is ondraaglik en die gekerm van die Egiptenare weerklink oor die land. Het jy al gevoel hoe brand so ’n steekvlieg se byt? Jy krul van die pyn! Die luukse paleis word nie gespaar nie en in swerms sak hierdie bitsige insekte op Farao en sy gesin toe. “Gaan roep daardie woestynrot!” skree die gemartelde koning vir sy amptenare, terwyl hy klap na ‘n vlieg wat hom genadeloos toetakel. Moses het gesit en wag vir hierdie oproep. As hy en Aäron te midde van ‘n swerm steekvlieë die paleis binnekom, is die Farao bitter omgesukkel. “Loop offer maar. Maar julle verlaat nie die land nie!”
Moses bring dit onder die koning se aandag dat hy dit mos nie kan doen nie, want die Egiptenare gaan erg aanstoot neem as hulle daar offer. Hulle moet juis diep in die woestyn in sodat Farao se mense nie kan sien wat hulle doen nie.
“Nou gaan dan maar,” sug hy, “maar net nie te ver nie hoor!” Hy is bang dat hy dalk sy slawearbeid gaan verloor en dit kan hy beslis nie bekostig nie! Dan tref ‘n ander gedagte hom: “En bid nou asseblief vir my.....”
“Ja,” antwoord Moses hom, “ek sal vir u bid dat God die steekvlieë sal wegneem.” Dan voeg hy by: “Maar moenie weer op u woord teruggaan soos die vorige keer nie!”
Moses het die Here gevra om die steekvlieë weg te neem en dan verdwyn hulle soos mis voor die son. Nie ‘n enkele een bly oor nie! God doen nie halwe werk nie!
Besef ons werklik die krag van gebed? Hier is dit nou al die tweede keer dat selfs die magtigste man op aarde daardie tyd besef dat gebed tot die enigste Almagtige God kragtig is. En wanneer Moses bid, gebeur dit. Behoorlik!
Maar soos verwag, verbreek die Farao ook hierdie keer sy woord die oomblik toe hy sien dat die irritasie verby is.
Dan tref die Here Egipte op ‘n plek waar dit baie seer maak - sy vee. Ons weet nie of dit bek-en-klouseer was of malkoeisiekte nie, maar die Egiptenare se vee vrek op hope terwyl die Israeliete se koeitjies vrolik wei tussen die riete sonder dat ‘n enkele een siek word. Die skade vir Egipte is enorm - nie alleen finansieel nie, maar ook godsdienstig. Baie van hulle gode word uitgebeeld met die kop van ‘n bees of bul. Hier wil God vir hulle dit baie duidelik stel dat Hy die enigste ware God is en dat hulle gode magteloos is teen Hom!
Weereens bly die Farao steeds onversetlik. Vir die sesde keer nou al stuur God vir Moses na die koning om nóg 'n oordeel oor hom aan te kondig. Dan gaan staan Moses en sy broer voor die Farao, en baie dramaties gooi Aäron ‘n handvol roet op in die lug.
Die Farao word met afgryse vervul as hy sien hoedat sy liggaam vol swere uitbreek. Presies dieselfde gebeur so ook met sy amptenare en selfs sy towenaars. Hulle word kragteloos - so ‘n ding het hulle nog nooit beleef nie. Deur Farao se hardkoppigheid word die ganse Egipte in pyn en ellende gedompel. Maar steeds bly die man onversetlik soos ‘n steeks donkie!
‘n Mens sou dink dat na ses ernstige waarskuwings van God, die Farao darem sou begin insien dat hy vir God moet luister. Maar dit gebeur nie......
God praat ook dikwels met my en jou, nes Hy met die Farao gepraat het. Dit wat Hy van ons vra is moontlik nie so dramaties as wat Sy versoek aan die Farao was nie. Dalk vra Hy jou om Ouderling te wees of die een of ander taak te aanvaar. Maar dan bly ons “Nee” sê vir Hom, of dalk sê ons wél: "Ja” om net weer later kop uit te trek. Doen wat God jou vra voordat dit dalk hééltemal te laat geword het!
Gebed:
Here, vandag wil ek antwoord op U roepstem en die opdrag uitvoer wat U my vra!