Moses Sterf

30 July, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Moses Sterf

Deuteronomium 34

VIDEO | OUDIO

Moses is ‘n stokou man - 120 jaar oud! Die laaste veertig jaar het hom oud gemaak, want vir veertig jaar lank het hy opgeskeep gesit met hierdie weerbarstige klomp Israeliete en al hulle streke. Kort-kort moes hy net wal gooi, of die Here het hulle totaal van die gesig van die aarde afgevee. Maar nou besef Moses dat sy tyd gekom het. Die einde van sy lewe is naby.

Ja, dit was ‘n rowwe veertig jaar in die woestyn. En hulle was só naby daaraan om veertig jaar gelede al die beloofde land in besit te gaan neem! Was dit nie vir hierdie volk wat weer alles kom opmors het met hulle gedwarstrekkery nie…... Dankie tóg vir die jongman Josua - hy was die enigste ou ligpuntjie - hy en sy vriend Kaleb. Was dit nie vir hulle nie, dan het Moses al lankal boedel oorgegee! Ja, jonk is Josua al lankal nie meer nie - trek seker nou al by die sewentig rond. Maar in Moses se oë is hy steeds ‘n jong mannetjie. Maar propvol wysheid en liefde vir God!

Moses wou so graag die beloofde land beleef, maar dit was hom nie beskore nie. En dit alles net die skuld van hierdie spul moeilikheidmakers! Hy is sommer opnuut weer kwaad. Hulle het hom uitgelok en toe verloor hy sy humeur. En toe sondig hy teen God. O ja, die Here het hom lankal daarvoor vergewe, maar die gevolg is dat hy nie die land kan ingaan nie. Ja, hy kan maklik die skuld pak op die Israeliete, maar eintlik was dit gladnie hulle skuld nie. Hy, Moses, het van beter geweet. Het hy nie elke dag met die Here gesels nie? Het hy nie die Here geken as ‘n Vriend nie? Hy het groot verantwoordelikheid op sy skouers gedra, maar die Here het hom genoeg toerusting gegee om dit te kon doen. Dit was net ‘n oomblik van waansin, ‘n oomblik toe hy die Here uit sy gedagte geskuif het, toe die sonde kom. O hoe bitter het hy nie berou oor daardie dag nie! Maar die skade is gedoen - dit kon nie weer heelgemaak word nie.

Maar daar is darem ‘n troos: God het hom belowe dat hy die land sal kan sien. Wanneer hulle getrek het tot reg oorkant Jerigo, sal Moses die hele land kan sien as hy die berg uitklim. Hy kan nie wág dat hulle daar kom nie!

Maar Moses dra ‘n effense bekommernis in hom: “Here, maar wie gaan my opvolg? Wie gaan hierdie volk die beloofde land inlei?” Moses is gladnie verbaas as die Here hom antwoord dat Josua daardie taak sou kry nie. “Daardie jongman gaan dit nog ver in die lewe bring!” glimlag Moses. Nou kan hy maar in vrede sterf, want hy weet dat die volk in goeie hande sal wees!

Maar Moses het nog ‘n vraag: “Here, hoe gaan die volk weet waar hulle grense nou eintlik is?” Dan verduidelik die Here vir Moses dat die nuwe land sal strek van die suidpunt van die Soutsee in die suide tot by die Horberg in die noorde, en van die Jordaanrivier in die ooste tot by die groot see in die weste. Moses slaan sy hande saam in verwondering: “So baie grond!” Hy is opnuut sommer opgewonde as hy vir Josua roep en vir hom vertel van die landsgrense. Hy wens só dat hy dit kan sien!

Nie baie maande later nie laat roep Moses die volk bymekaar: “Ek is nou 120 jaar oud,” sê hy vir hulle. Hy kyk hulle deur, waar die derduisende mense voor hom staan. Nie ‘n enkele een van hulle was daar toe hulle oorspronklik die land sou ingaan nie, buiten Josua en Kaleb. Die res is almal dood in die woestyn - net hulle kinders is vandag hier. “Anderkant hierdie berg lê die Jordaanrivier” gaan hy voort, “en oorkant dit, die Beloofde Land. Ek kan nie saam met julle daar oorstap nie.” Verbeel hy hom, of sien hy die volk huil? “Maar Josua is julle nuwe leier, en hy sal julle daar deurlei die beloofde land in. Hou moed, wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir die inwoners skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, en Hy sal julle nooit alleen laat nie.”

Terwyl Moses praat, is hy bewus van die Here se teenwoordigheid. Hy hoor duidelik dat die Here vir hom sê dat sy einde aangebreek het - hy gaan binnekort sterf. Sy hart klop vinniger by die gedagte, want hy weet dat hy dan vir altyd by God sal wees! En dan begin Moses ‘n aangrypende lied sing: “Hoor hemele, ek praat, luister na my woorde aarde!” Klokhelder sweef die klanke van Moses se lied oor die vlaktes van Moab. “Dit gaan goed met jou, Israel! Wie is soos jy? Jy is ’n volk wat deur die Here verlos is!”

Daar is nie ‘n droë oog in die hele groot gehoor nie. Moses se lied raak elke hart diep aan as hy sing van God se grootheid - van sy lewenslange Vriend wat hom deur dit alles gelei het en hom tot hier gebring het.

Die volgende oggend vroeg klim Moses die berg uit. Daar is, ten spyte van sy hoë ouderdom, steeds ‘n huppel in sy stap en ‘n glimlag op sy gesig. Wanneer hy die top bereik, tuur hy met ‘n helder oog oor die landstreek oorkant die Jordaan, tot waar dit verdwyn in die verte oor die horison. “Dankie Here, nou kan ek rus - nou het ek die land gesien wat U aan my voorvader Abraham beloof het soveel jare gelede!”

Moses se liggaam lê iewers op die Moabvlakte begrawe. Niemand weet waar nie, want God het hom Persoonlik daar begrawe.  Die groot man sal vir ewig onthou word vir sy leierskap en veral vir sy wonderlike verhouding met God.

Gebed:

Here, dankie vir die lewe van Moses en die wonderlike voorbeeld wat hy vir ons elkeen gestel het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026