Eksodus 33
Moses is platgeslaan: “Here, hoe gaan ek dit alleen uithou met hierdie klomp?” Hy worstel met die Here.
Moses - Baba in die riete, Egiptiese prins, moordenaar, vlugteling, bokwagter! Dit is hoe ons hierdie grootste van al die leiers aanvanklik leer ken. Dan ontmoet hy God teen die hang van ‘n berg in die woestyn. Die Here gesels met Moses uit ‘n brandende doringbos. En daar begin die wonderlike verhouding tussen God en Moses. Weliswaar eers op ‘n baie wankelrige noot, want hy kry ‘n opdrag van God, maar hy probeer met elke moontlike verskoning om homself uit hierdie opdrag uit te wurm!
In groot liefde begin God om Moses te vorm en sterk te maak vir sy groot taak om ‘n volk te red. En uiteindelik breek die groot dag aan dat hulle die jare se slawerny afskud en die woestyn intrek.
Die nuwe Moses wat ons hiervandaan leer ken, is ‘n man wat God innig liefgehad het en gedurig met God in gesprek was. Maar die gedurige gemor en hardkoppigheid van hierdie moeilike volk het uiteindelik sy tol geëis. God besluit dat Hy nie verder met die Israeliete gaan saamtrek nie! Dan volg hierdie gesprek tussen God en Moses:
“As Ek nog ‘n oomblik saam met hulle trek, sal Ek hulle uitdelg!” sê die Here vir Moses, “Maar Ek sal later besluit wat ek met hulle sal doen.” Vir die volk is dit ‘n groot skok as hulle hoor dat God nie meer daar gaan wees nie. As ‘n teken van rou, haal hulle al hulle juwele af. Wat sal God se besluit inhou? Wat sal Hy later met hulle doen? God vra gehoorsaamheid van Sy volk, maar daar is g’n teken van gehoorsaamheid by hulle nie.
As Moses terugdink oor die laaste paar maande se trek deur die woestyn, dan wonder hy waarom die Here dan nog so genadig is met hierdie klomp. As hy die Here was, het hy hulle lankal van die gesig van die aarde af weggevee. Al wat hulle kan doen is mor en kerm en kla, en as hy vir ‘n oomblik sy rug draai, dan gaan staan en bou hulle afgodsbeelde!
Dan neem Moses ‘n besluit: Hy gaan vir hom ‘n tent opslaan ver buite die kamp van die Israeliete. Daar kan hy alleen met God gaan gesels, want hy wéét dat God steeds sy Vriend is, al is die volk so afvallig. Hy noem hierdie ontmoetingsplek met die Here “Die Tent van Ontmoeting.” Baie gou kom die volk agter dat Moses gereeld na hierdie geheimsinnige tent daar eenkant stap. En wanneer die gryse ou man daar instap, dan sien hulle ‘n eienaardige ding gebeur. Die wolkkolom, wat nog steeds saam met hulle is van die eerste dag dat hulle uit Egipte getrek het, daal neer op Moses se tent en gaan hang voor die ingang. “Dit is God wat Moses ontmoet.” fluister hulle vir mekaar, en dan word hulle gevul met groot ontsag. Uit eerbied vir wat daar besig is om te gebeur, staan hulle op. Later word dit ‘n ritueel - wanneer hulle vir Moses na die tent sien stap, staan die volk soos een man op, en wanneer die wolkkolom neerdaal, dan buig hulle in aanbidding. Het daar werklik iets met hulle gebeur? Het hulle berou oor die manier wat hulle vir Moses en God behandel het? Slegs die tyd sal leer.
Wanneer Moses die tent instap, voel hy die heilige teenwoordigheid van God. Die Here is nie meer vir hom ‘n Vreemdeling soos by daardie héél eerste ontmoeting nie. Moses het geleer dat hy waarlik sy hart kan oopmaak teenoor die Here, en hy gesels dan ook met die Allerhoogste soos met ‘n Vriend.
Daar was ‘n jong man in Israel wat nie voor die goue kalf gebuig het nie - ‘n man van integriteit, wat in totale verwondering aanskou het hoe Moses met die Here gesels. Joshua het mettertyd Moses se assistent geword, en saam met sy meester na die Tent van Ontmoeting gegaan, en in stilswye geluister na die gesprekke tussen Moses en God. Hierdie jong man sou dit nog baie ver bring in die lewe, en Moses het kennis geneem.
“Here,” pleit Moses tydens een van hulle vele gesprekke, “moet ons asseblief nie hiervandaan laat wegtrek as U nie met die volk saamgaan nie”, smeek die desperate Moses, “dit is U wat ons anders maak as al die ander volke!”
“Ek ken jou op jou naam, Moses, en daarom sal Ek doen wat jy vra.” kom God se antwoord.
Hoe lyk my en jou verhouding met God? Sal die Here ook van my kan sê dat Hy my op my naam ken? Of het Hy al van my vergeet omdat ek so selde met Hom gesels? En hoe lyk my gesprekke met God? Is dit maar net vinnige wenslysies, of is dit waarlik ‘n gesprek soos met ‘n intieme Vriend, waar jy jou hart oopmaak en sommer net gesels? Is daar nog ‘n brandende liefde vir God in my hart? Hy het mý steeds innig lief! Moses moes in die tent gaan gesels - vandag kan ek en jy enige plek en enige tyd, heeldag lank met Hom gesels. Is dit nie wonderlik nie!
Gebed:
Here, my God, dankie dat ek met U kan gesels, en dat U my Vriend en Vertroueling is!