Handelinge 22:22-23:5
Soms kan baie ernstige dinge komies raak, soos daardie storie oor die beroemde (of is dit dalk berugte?) C J Langenhoven wat per geleentheid tydens ‘n hewige debat in die parlement opgespring en woedend die stywe spul parlementariërs toegesnou het met: “Die helfte van julle is ‘n spul bobbejane!” Toe die woedende klomp eis dat hy sy woorde terugtrek sê hy doodluiters: "Goed, ek trek my woorde terug: Die helfte van julle is NIE bobbejane nie!" Dit het 'n hele ruk geneem voordat hulle besef het dat hy hulle eintlik nog steeds sleggesê het!
Die skare was woedend toe Paulus vertel dat hy deur God geroep is om die Evangelie aan die heidene te gaan bring en hulle het aanhou skreeu: “Weg met hom! Weg met hom!” Hulle het stof in die lug gegooi om hulle bittere misnoë te kenne te gee en dit ook duidelik te maak dat hulle nie Paulus se “Godslastering” oor hulle wou laat kom nie.
Die kommandant kon sien dat hier 'n baie lelike ding aan die kom was, dus gryp hy in om die saak te beredder en vat Paulus in die kaserne in. “Gésel hom, dan sal ons uitvind wat hy werklik gedoen het!” beveel hy sy soldate. 'n Goeie dosis lyfstraf sou die belhamel beslis aan die praat kry! Omdat Paulus die skare in Aramees toegespreek het, het hy nie verstaan waaroor die hele ding gegaan het nie en hoekom die mense hom dan wou doodhê nie.
Die manne gehoorsaam en hulle bind vir Paulus aan 'n paal vas. Dit sou nie die eerste keer wees wat Paulus hierdie wrede straf sou deurmaak nie en hy het geweet presíés watter nagmerrie op hom sou wag. Dan draai Paulus ewe kalm na die kaptein: “Sê my, mag julle 'n Romeinse burger gésel? En dít boonop nog sonder 'n verhoor?”
Die man skrik hom spierwit! As hulle vandag vir Paulus gésel, is hulle kniediep in die sop, want hy het die Romeinse reg aan sy kant. “Wat gaan u doen?” vra hy verskrik vir die kommandant, “Hierdie man is 'n Romeinse burger!”
Die kommandant wou dóódseker maak dat hulle nie vandag hier 'n gruwelike fout begaan nie: “Sê my, is jy 'n Romeinse burger?” As Paulus bevestigend antwoord, vertel hy dat hy sélf Romeinse burgerreg het, maar dat hy duur moes betaal vir daardie voorreg.
“Ek het dit deur geboorte gekry,” deel Paulus hom mee.
Nou het die offisier sommer groot respek vir Paulus: “Maak hom los! Toe, góú!” skree hy vir die verskrikte soldate. Hy besef dat hy eintlik al klaar in die moeilikheid is nét omdat hy vir Paulus laat boei het. Nou moet hy báie versigtig wees hoe hy die saak verder gaan hanteer. As Paulus maar net 'n gewone Jood was, kon hy hom verinneweer nés hy wou. Maar 'n Romeinse burger is 'n bevoorregte mens. Aan hom mag jy nie raak sonder baie goeie rede nie! Hy ril as hy dink wat die gevolge sou wees as hy voortgegaan het en Paulus laat gésel het. Dit sou die einde van sy loopbaan beteken het, en dalk nog baie erger. Hy wil nie eers daaraan dink nie!
Die volgende dag roep die kommandant, Klaudius Lisius, die Joodse Raad en priesterhoofde bymekaar. Hy wil agter die kap van die byl kom. Hy wil nou weet waarom hierdie gesiene manne dan so giftig is teenoor Paulus. Wat het hy so verskriklik verkeerd gedoen?
Wanneer almal bymekaar is, bring hy vir Paulus in. Vreesloos kyk Paulus die klomp nors gesigte vierkant in die oë: “Broers, ek het heeltemal 'n skoon gewete oor hoe ek tot vandag toe my lewe in diens van God gelei het.”
Annanias, die hoëpriester is sommer dadelik woedend. Hoe kan hy nog sê dat sy gewete skoon is na alles? “Slaan hom op sy mond!” skree hy vir een van sy onderdaniges.
Annanias was 'n berugte figuur, gierig en gewelddadig en boonop was hy baie danig met die Romeine. Hieroor is hy uiteindelik in 66nC vermoor deur Joodse nasionaliste.
“God sal jou slaan, jou skynheilige witgeverfde graf!” snou Paulus hom toe wanneer die vuishou hom vol in die gesig tref. “Jy sit hier om my volgens ons wet te verhoor en dan handel jy sélf teen die wet deur my te laat slaan!” Die wet is baie duidelik dat jy nie iemand mag slaan voordat hy nie skuldig bevind is nie.
Die mense is geskok oor Paulus se heftige reaksie: “Skel jy die hoëpriester van God uit?”
Vir 'n oomblik is Paulus uit die veld geslaan. Hy het nie besef dat Annanias die hoëpriester is nie en dan vra hy dadelik om verskoning en hy voeg by dat 'n mens respek moet hê vir jou volksleiers.
Paulus kan sy tong afbyt oor sy uitbarsting want hiermee het hy nou ál sy kanse om die Raad se goedgesindheid te wen, verbrou. Nou sal hy blitsvinnig 'n nuwe strategie moet uitdink as hy sy eie bas wil red.
Skielik tref ‘n gedagte hom. Heimlik vorm 'n glimlag om sy mondhoeke. Al wat hy moet doen is om die twee faksies, die Fariseërs en Sadduseërs teen mekaar af te speel......
Maar vir hierdie slim plan van Paulus sal ons maar tot Maandag moet wag!
As gelowiges moet ons te alle tye ons liefde uitleef, selfs wanneer ons vervolg word. Dit beteken egter nie dat ons nou maar 'n vloermat moet word en gelate toelaat dat almal op ons trap nie! Gelowiges het óók regte nés al die ander mense en ons mag nie toelaat dat ons regte van ons ontneem word nie.
Die vraag is of jy dit maar net gelate moet aanvaar as jou werkgewer jou byvoorbeeld soos 'n vloerlap behandel? Nee beslis nie! Maar jou optrede teen hierdie buffel moet voldoen aan die voorskrifte van die Bybel. Paulus het baie slim van sy regte gebruik gemaak. Ons moet dieselfde doen!
Gebed:
Here, dankie dat ek die reg aan my kant het. Gee my asseblief die wysheid om dit met vrug te gebruik!