Moeilike Opdrag

12 November, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Moeilike Opdrag

Rut 3:1-5

Rut kry so ‘n benoude gevoel op haar maag wanneer Naomi haar baie vroeg die oggend wakker skud. Naomi het al vir haar vertel dat Boas familie is en dat hy hulle losser is. Nou wonder Rut waarom Naomi haar kom wakker maak en op haar nugter maag weer daaraan kom herinner. Maar sy sien sommer dadelik dat haar skoonma vandag op ‘n ernstige missie is.

Boas en sy werkers gaan vandag gars dors op die dorsvloer. Vanaand is jou kans om te sorg dat hy met jou sal móét trou!”

Rut se hart klop in haar keel, dit is sowaar baie erger as wat sy gedink het. “Ek kan dit mos nie doen nie?” wil sy vir Naomi sê, maar die woorde kan nie eers oor haar lippe kom nie. “Ek ken die man skaars, en ek is dan ‘n Moabiet! En boonop, die vriendskap wat hy aan my bewys het - hy is maar met almal so vriendelik......”

Rut, gaan was jou en maak vir jou mooi. En trek jou mooiste klere aan. En dan gaan jy na die dorsvloer toe.” Rut wil nog probeer protesteer, maar Naomi het klaar besluit, en Rut kan sommer sien dat hierdie skoonma van haar vandag bitter ernstig is. Niks en niemand gaan haar van gedagte laat verander nie.

Ma, wat presies moet ek daar by die dorsvloer gaan maak? En wat sê ek vir Boas wanner ek daar kom? Dis mos ‘n plek vir die manne om te werk, en hulle sal beslis nie ‘n vrou daar wil hê wat in hulle pad is nie?”

Maar Naomi het ander planne. “Rut, jy sal niks vir Boas sê nie. Jy moet hóm die sêwerk laat doen!”

Rut is skoon bewerig van angs. Sy weet nie mooi van hierdie ding nie. Maar sy sien klaar dat sy beslis nie vir Skoonma van plan sal laat verander nie.

Rut, wanneer jy vanmiddag by die dorsvloer kom, moet jy sorg dat Boas jou nie sien nie, want dan gaan dit ál die planne verongeluk. Jy moet hom dophou, en wanneer hulle ophou werk vir aandete, dan moet jy gereed staan.”

Moet ek dan by hom gaan sit en gesels, Ma?”

Nee, beslis nie! Wag, laat ek klaar verduidelik. Almal gaan doodmoeg wees van die dag se harde werk, en ek dink hulle gaan sommer vroeg-vroeg al inkruip. As hulle dus klaar gëeet het en wyn gedrink het en vrolik is, gaan hy sékerlik vir hom ‘n lêplekkie soek. En dan moet jy toeslaan!”

Nou is Rut éérs bekommerd, hierdie ding begin vir haar nagmerries gee! “Ma, hoe bedoel Ma nou dat ek moet toeslaan? Wat presies moet ek doen? Ek gaan hom tog nie verlei nie Ma? Ma kan dit nie van my verwag nie!”

Nee, so erg is dit darem nie heeltemal nie,” lag Naomi vir haar skoondogter se ongemak. “Jy gaan kruip maar net ongemerk by sy voete in en danjy daar. Dis al! Jy hoef niks verder te doen nie.”

Rut se mond hang oop, haar oë is gerek soos twee pierings. Haar mond is kurkdroog. “Moet ek dit rêrag doen?” wil sy vra, maar sy kry nie ‘n geluid uit nie. Rut het al die skinderstories gehoor oor die dinge wat op ‘n dorsvloer kan gebeur. “Sê nou net die mense dink dat ek en Boas.....” Sy maak haar oë toe. Sy wil nie eers dink aan die gevolge nie.

Dan ruk sy haarself reg. Vasberade kyk sy haar skoonma in die oë: “Ek sal dit doen Ma!”

Maar sy neem haarself terselfdertyd ook voor dat hierdie aand by Boas niks verder sal gaan as dat sy slegs by sy voete gaan lê, en haar Skoonma se opdrag uitvoer nie. Sy wil ‘n rein lewe lei en sy wil niemand anders in enige versoeking stel nie, veral nie die dierbare Boas nie.

Soms vra dit baie groot opofferinge van ons om te doen wat die Here van ons vra. Ons reputasie kan selfs op die spel wees!

n Predikant vertel my eendag dat hulle as deel van hulle opleiding bordele in Durban moes gaan besoek om daar die evangelie te verkondig. Dit was vir hom ‘n bitter ongemaklike situasie om met die vroue van die nag te gesels onder verdagte omstandighede.

Jesus het egter die voorbeeld gestel deur Sy eie reputasie op die spel te plaas deur met ‘n Samaritaanse vrou te gesels, saam met die skuim van die aarde te eet en selfs deur die totaal onaanvaarbare te doen om aan melaatses te raak.

Jesus het nooit vir Sy dissipels beloof dat dit maklik sou wees om Hom te volg nie. Inteendeel, Hy het gewaarsku dat dit soms baie van hulle sou vra en dat hulle hande sou vuil word in die proses.

Vandag vra Hy ook van my en jou dat ons bereid moet wees om ons hande vuil te maak. Dat ons soms langs ‘n baie ongure karakter sal moet gaan sit om oor Jesus te gesels. Dat ek soms dinge moet doen wat vir my bitter ongemaklik is, ter wille van die Koninkryk van God.

Die vraag is: Is ek en jy bereid om daardie opofferinge te maak?

Gebed:

Here, maak my asseblief gewillig om te doen wat U van my vra, al lyk dit soms vir my na te veel gevra.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024