Markus 2:1-12
Jesus se boodskap word onderbreek deur ‘n lawaai op die huis se dak. Stukkies dakmateriaal val op die gehoor se koppe, en hulle kyk vies op na bo. Skielik breek die helder daglig deur. Stukkie-vir-stukkie word die dak bokant hulle koppe oopgebreek. “Wat gaan aan?” fluister dit deur die vertrek.
“Wat maak julle daar bo? Staak julle nonsens onmiddellik!” Die Skrifgeleerde vererg hom bloedig vir hierdie onderbreking! Die manne is egter só oorweldig deur hulle taak, dat hulle nie eers agterkom dat hulle ‘n konsternasie veroorsaak nie.
“Staak julle streke onmiddellik!” wil Petrus vir die “belhamels” skree. Dis immers sý huis wat hulle besig is om bo sy kop af te breek! Maar dan val sy blik op Jesus se gesig, ‘n vreemde glimlag wat liefde uitstraal as Jesus kyk hoe die manne werskaf. En dan bedink Petrus hom: “Hier is iets baie vreemd aan die gang!”
Uiteindelik is die gat groot genoeg dat ‘n man op ‘n draagbaar daardeur kan pas. Nou heers daar totale chaos in die klein vertrekkie. Met oop monde kyk almal toe terwyl ‘n draagbaar aan toue deur die dakopening verskyn en stadig afsak vloer toe. As hy onder kom, snak die mense na hulle asems. Almal herken die arme man op die draagbaar. “Is dit nie Joram nie? Arme man is al vir jare verlam.”
Joram voel duidelik baie ongemaklik. Vir ‘n verlamde om deur só ‘n toertjie te gaan, is géén grap nie. Uitasem lê hy daar. Deur die dakopening loer vier baie tevrede gesigte, elkeen met ‘n reuse, selfvoldane glimlag op die bakkies. Dankbaar kyk Jesus op na hulle: sulke geloof is uiters skaars.
Jy kan ‘n speld hoor val as Jesus afbuk na die man op die draagbaar. “Kind, jou sondes word vergewe!”
‘n Geruis gaan deur die vertrek: “Hoe kan Hy dit sê? Dis mos Godslasterlik! Niemand kan sondes vergewe nie, buiten God alleen! Dink Hy miskien dat Hy God is?”
Jesus merk dadelik die antagonisme: “Waarom het julle bedenkinge in julle harte hieroor? Wat is makliker, om vir die verlamde te sê, ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op, tel jou slaapmat op en loop’?” Hy kyk reguit vir die Skrifgeleerdes. Op hulle rooi gesigte is die woede duidelik te lees. “Maar sodat julle kan weet dat die Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe …..” Dan buk hy af na die man, met ’n gesig wat straal van liefde en deernis: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.”
Jy kan letterlik hoor hoe die mense snak na hulle asems. Almal is skielik doodstil, en alle oë is gevestig op die verlamde: Gaan hy opstaan? Gaan ons vandag hier ‘n wonderwerk sien soos niemand nog ooit gesien het nie? Pynlik stadig kom die man orent op sy draagbaar. Vir die eerste keer in baie jare kry hy dit reg om sy bene sélf van die draagbaar af te tel. Die stilte is so dik dat jy dit met ‘n mes kan sny, en die kollig val (deur die dak natuurlik) op die verlamde. Skielik voel hy lewe in sy twee uitgeteerde, dooie bene. Hy toets die grond, en dan, wankelrig staan hy op. Skielik bars hy in trane uit, trane van blydskap wat stroom oor sy wange!
Die oomblik is gelaai met emosie, en daar is nie ‘n droë oog in die vertrek nie. Die man gee ‘n huppel, en dan moet almal net keer vir hulle tone, want in die klein spasietjie dans hy ‘n riel dat die stof so staan. Oral uit die vertrek klink dit op: “Loof die Here! Loof die Here!” Niemand het nog óóit so ‘n ding sien gebeur nie! Hierdie wonderwerk sal in die geskiedenis van Kapernaum nooit óóit vergeet word nie!
Wanneer Markus vir ons hierdie gebeurtenis beskryf, laat val hy die klem daarop dat Jesus nie in die eerste plek in Petrus se huis was om wonderwerke te doen nie, maar om met die mense te praat oor Sy boodskap. Die inhoud van hierdie boodskap was natuurlik dat die Koninkryk van God gekom het. Mense moes voorberei word om deel te wees van hierdie Koninkryk. Vandag moet ons nog steeds wel baie deeglik begryp waaroor dit alles gaan. Alles draai om God se Koninkryk. Die tyd van wonderwerke is natuurlik ook nog baie lank nie verby nie. As jy maar net jou oë oopmaak, sien jy daagliks asemrowende wonderwerke om jou gebeur, dinge wat net eenvoudig nie anders beskryf kan word as dat God alleen hiervoor verantwoordelik kan wees nie.
Wat ons egter óók moet besef, is dat as ons die wonderwerke wil losmaak van die koms van die Koninkryk van God, dan raak wonderwerke vir ons hol en betekenisloos. Wonderwerke was 2000 jaar gelede bedoel om Jesus se boodskap prakties te illustreer. In die geval van die verlamde was dit om te sê dat die Seun van God in staat is om sondes te vergewe. Die Skrifgeleerdes moes kennis neem! As dit die geval was, dan was Jesus werklik God! Vandag gebeur wonderwerke nog steeds om Jesus se boodskap prakties te illustreer. En ons mag dit nooit losmaak van die boodskap nie.
‘n Verdere boodskap is die feit dat die verlamde se vriende hom na Jesus gebring het. Bring ons ooit ons vriende na Jesus? Dit behoort deel van elke gelowige se lewe te wees om só om te gee vir ons vriende, dat ons hulle na Hom bring.
Gebed:
Here, dankie vir hierdie mooi verhaal. Dankie vir die lesse wat ons hieruit kan leer. Help ons om hierdie lesse prakties uit te leef.