1 Timoteus 2:8-15
En daar staan dit, swart op wit: vrouens moet stil en onderdanig wees, mag nie haarvlegsels, goud, pêrels of duur klere dra nie en hulle mag nie onderrig gee, of oor 'n man gesag uitoefen nie! Gaan lees dit maar sélf in 1 Tim 2:8-15!
Ai toggie! Oor hierdie gedeelte is vrouens deur die eeue al baie verontreg, want dit word totaal misverstaan! Maar voordat ons by die vroue kom, moet ons eers ‘n slaggie oor die manne gesels. Hier raak Paulus ‘n baie teer sakie aan as hy sê dat ons met ‘n skoon gewete, sonder enige woede en rusie die Here moet aanbid. O, daardie woede en rusie is twee dinge waarvoor ons manne maar ál te berug is. Ek was al by kerkraadsvergaderings waar die manne vuiste geswaai het uit woede vir mekaar. Is dit die beeld van liefde wat ons na die ongelowiges wil uitdra? Waar die liefde van Jesus heers, durf daar nie sulke haat in ‘n man se gedagtes opkom nie. As jy met onmin in jou hart sit, kan jy beslis nie met ‘n skoon gewete tot die Here bid nie. Dus is dit baie nodig om eers versoening te bewerkstellig.
Nou ja, oor die arme vrouens se lot moet ek dit net eers baie duidelik stel dat dit vir Paulus in die eerste plek gaan oor die eer van God en dus die beeld wat die vrou van Efese in daardie tyd moes uitdra om ‘n bydrae te lewer tot mense se redding. Om te kan verstaan waarom Paulus hier so hard op die vrouens was, moet ons gaan kyk na die agtergrond van die lewe van ‘n vrou in Efese.
Daardie tyd het die manne die septer geswaai en vrouens moes maak soos vir hulle voorgeskryf was. Om mee te begin het ‘n vrou nie eers ‘n sê gehad in die keuse van ‘n lewensmaat nie. Huwelike was gereël sonder dat sy eers kon kies en sy moes maar inval by ander se reëlings. Haar belangrikste taak was om kinders (dis nou seuns) in die wêreld te bring. ‘n Vrou het nie sommer in die openbaar verskyn nie. Dit was by uitstek die man se domein! Sy moes tuisbly en die huishouding behartig “soos dit ‘n goeie vrou betaam!” Die gevolg was dus ook dat vrouens géén formele onderrig gekry het nie en baie beslis nie in eie reg as gelyke met enige man gereken was nie. Hulle hele lewe het hulle onder die gesag van ‘n man gestaan en hulle moes maar net eenvoudig maak wat hy gebied het!
Wat Paulus dus probeer sê het, is bloot dat die nuwe vryheid wat die vrouens in Jesus gekry het nie moes maak dat alle sosiale reëls omvergewerp moes word nie. Om ‘n rewolusie uit te roep en te skree dat vrouens nou vry was en nie meer die gesag van manne moes aanvaar nie, sou oorlog beteken het. Hy wou nie die indruk skep dat Christene die sosiale orde wou ondermyn nie.
Om hierdie gedeelte in perspektief te plaas, moet ons die geheelprentjie sien en gaan lees wat dieselfde Paulus in ander gedeeltes in die Bybel skryf. In Romeine 16, Filippense 4, 2 Timoteus 1 en 1 Timoteus 5 skryf Paulus byvoorbeeld met groot lof oor vrouens in die gemeentes. Christenvroue het dikwels uitgestyg in die samelewing en was op bykans alle vlakke in diens van die Evangelie ingespan as leiers waar hulle uitgeblink het. Om die waarheid te sê, as ons maar lees wat Paulus in Galasiërs 3:28 skryf, dan kom ons baie gou agter dat mans en vrouens in Christus absoluut gelyk is!
Dus moet ons tot die slotsom kom dat 1 Tim 2:9-15 slegs betrekking het op die vrouens van Efese van die jaar 63 nC. Die boodskap wat hy daardie vroue wou gee, was dat hulle stil en rustige lewens die getuienis moes wees van die herstelde verhouding met God, sodat mense gered kon word. Op ‘n manier gaan dit oor hoe die gelowige vroue van Efese deur hulle mede-inwoners verstaan sou word en dat hulle met hulle gedrag openlik moes bely dat hulle God dien.
Nou moet ons nie die kind met die badwater uitgooi en sê dat ons absoluut niks hieruit kan leer vandag nie. Die boodskap is baie duidelik: As Christenleier moet jy rekening hou met die persepsies van die samelewing waarin God jou roep. Jou doel is om nie ontsteltenis te veroorsaak nie maar eerder ‘n voorbeeld te stel van die herstelde verhouding met God. Die implikasies is dat gelowiges dikwels sekere beperkende voorskrifte moet nakom tot hulle eie verontregting. Soos wat die Christenvroue in Efese nie in opstand moes kom teen die verskriklike diskriminasie wat hulle lewens oorheers het nie, moet ek en jy soms ons eie menseregte prysgee tot voordeel van die Evangelie sodat God se groot doel, die redding van alle mense, gedien kan word.
As Christenleier stel die samelewing sekere rolverwagtings aan jou. Jou kleredrag, openbare pligte, bywoning van funksies ens. moet aan die wêreld verkondig waarvoor jy staan. En dit kan soms inbreuk op jou privaatheid maak. Deur dit wat Paulus hierbo skryf, vra hy dat ons dit ter wille van die Evangelie moet verdra. Ja, ons moet eintlik ‘n stappie verder gaan en uitblink in daardie dinge en sodoende die getuienis uitdra, dat om Jesus in jou lewe te hê ‘n vol lewe bied waarin jy steeds volhard in geloof, liefde en ‘n heilige lewe.
Gebed:
Here, dit is dikwels moeilik om staande te bly in die wêreld. Gee my asseblief die krag om deur my lewe U Naam groot te maak in my samelewing!