Lofprysing in die Tronk

7 November, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Lofprysing in die Tronk

Handelinge 16:11-40

VIDEO | OUDIO

Van Troas af neem Paulus, Silas en Timoteus ‘n skip oor die Egeïse see. Voor hulle lê die oneindige Europese vasteland. Dit moes seker vir Paulus ‘n groot oomblik gewees het toe hy voet aan wal sit in Europa. Vir hom is dit ‘n totale nuwe uitdaging. Hulle vertrek dadelik na ‘n baie bekende Romeinse kolonie in Masedonië, Filippi. Lukas vertel opgewonde van twee insidente wat in hierdie belangrike stad plaasgevind het. In die eerste beskryf hy die bekering van Lidia. Die tweede - wel, as dit nie was dat Paulus-hulle wreed gemartel was nie, kon jy dit amper as komies beskryf het, maar beslis ook asemrowend!

In Filippi aangekom, gaan soek Paulus-hulle oudergewoonte op die eerste Sabbat ‘n Joodse bidplek. Soos ons al gehoor het was sy metode om altyd eers die sinagoges te gaan opsoek om eerste vir die Jode te begin preek om hom sodoende 'n platform te gee vanwaar hy sy werk kan doen. Sodra dit gevestig was, het hy die heidene begin betrek. Daar was egter te min Jode in Filippi om ‘n sinagoge te regverdig. Dus moes die handjievol Jode van Filippi noodgedwonge buite die stadsmure by ‘n rivier gaan aanbid. Die norm was dat daar minstens tien Joodse mans moes wees om ’n sinagoge te kon stig.

Dis dáár langs die rivier waar Paulus vir Lidia aangetref het. Sy was afkomstig uit die stad Tiatire. Lidea was ‘n handelaar in pers wolmateriaal, ‘n peperduur, kosbare stof wat hoofsaaklik deur adelstand en rykes gedra was. Sy word die eerste bekeerling op Europese bodem en Lidea en haar huisgesin word gedoop. Sy verskaf toe ook huisvesting aan Paulus en sy geselskap tydens hulle verblyf in Filippi. Ons moet verstaan dat die Griekse woord “oikos” wat Lukas hier gebruik vir huisgesin, die ganse huishouding insluit. Dit beteken die uitgebreide gesinstelsel wat nie alleen die kinders behels het nie maar ook die slawe en werkers asook hulle gesinne. Dit was inderdaad 'n blye dag!

Lukas vertel egter ook van 'n tweede, minder aangename insident wat begin het met ‘n slavin wat ‘n “waarsêersgees” in haar gehad het. Sy was soos 'n stertjie al agter Paulus aan en sy het hom knaend kom lastig val waar hy wou preek. Dit het sy werk belemmer en hy móés net eenvoudig iets aan die saak doen! Toe Paulus die gees in die Naam van Jesus uit haar verdryf, was hy sommer dadelik in die moeilikheid want die eienaar van hierdie slavin het sakke vol geld uit haar bonatuurlike “gawe” gemaak en nou het Paulus sy bron van inkomste vernietig! Uit weerwraak sleep hy en sy trawante vir Paulus-hulle na die stadsbestuur en hulle word daarvan aangekla dat hulle Joodse oproermakers sou wees!

Paulus en Silas word albei skuldig bevind wat beteken het dat hulle eers lyfstraf moes kry. Lukas vertel dat hulle klere van hulle lywe afgeskeur was en dat hulle “baie houe geslaan” was, dus kan jy dink hoe seer die arme twee se lywe moes wees toe hulle boonop nog in die tronk gesmyt word in die maksimum gevangenis. Om sout in hulle wonde te vryf, word hulle voete boonop bitter ongemaklik in ‘n houtblok vasgeklem. En daar sit die twee teen middernag, so bitter seer dat hulle nie kan slaap nie en hulle kerm oor die verskriklike onreg en die pyn wat hulle moes verduur......

Nee, nee, eintlik het hulle gladnie gekerm nie - hulle het die totaal ondenkbare gedoen en lofliedere gesing! In vandag se taal sou hulle seker gesing het: “Dit borrel in my, want ek is so bly: Jesus het my lief!” Oopmond van verbasing lê die ander gevangenes en luister na die pragtige klanke van Paulus en Silas se lofliedere. Die tronk word gevul met die heerlike musiek wat lof bring aan God Almagtig.

Maar skielik skrik die gevangenes hulle yskoud. ‘n Ander geluid vul skielik die tronk: ‘n onaardse rammeling wat begin om die mure te skud. Dit word al hewiger en meer skrikwekkend totdat die aardbewing so erg is dat die tronkdeure almal oopval. Hierdie is egter g’n gewone aardbewing nie want ondenkbare gebeur en al die gevangenes se boeie raak los. Die bewaarder skrik wakker en storm in om te sien wat aangaan. Wat hy daar aantref laat hom nog groter skrik want sy tronk staan wawyd oop! Dadelik besef hy dis klaarpraat met hom want hy sou verantwoordelik gehou word en besluit dat selfmoord die enigste uitweg sou wees om 'n gruwelike marteling vry te spring. Paulus keer hom betyds en stel hom gerus want al die gevangenes was steeds daar!

Wat moet ek doen om gered te word?” snik die man as hy voor Paulus en Silas se voete neerval.

Glo in die Here Jesus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin!” Nóg ‘n siel (en saam met hom sy hele uitgebreide gesin) is bygevoeg in die huisgesin van God!

Die volgende oggend kry die bewaarder ‘n boodskap van die stadsbestuur terwyl hy besig is om sy twee nuwe broers te onthaal: “Jy kan hulle maar loslaat. Hulle kan gerus hulle reis voortsit!”

Nie so haastig nie!” reageer Paulus dadelik. “Ons is Romeinse burgers en julle het die vermetelheid gehad om ons só te behandel! Nou wil julle stilletjies van ons ontslae raak? Dit werk nie só nie!” Druipstert word die stadsbestuur verplig om hulle in die openbaar om verskoning te kom vra. Paulus het sékerlik in sy mou gelag oor die hogere manne se vernederende verleentheid!

Alles gebeur met ‘n doel - onthou dit altyd! Selfs Paulus-hulle se marteling het tot gevolg gehad dat die bewaarder en sy gesin, asook waarskynlik ‘n paar van die gevangenes tot bekering gekom het. Moenie kla en kerm as teëspoed jou tref nie. Wees in alles dankbaar en “sing lofliedere!”

Gebed:

Here, vanoggend wil ek dit uitjubel: “Dit borrel in my, want ek is so bly …..” Help my asseblief om my hele dag ‘n loflied te maak, ten spyte van die dinge wat my probeer onderkry!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026