Filippense 2:12-18
My eerste kennismaking met die Voortrekkers sal ek nooit vergeet nie. Ek was nog maar ‘n klein seuntjie, toe Oupa my een aand saamneem na ’n Voortrekkerfunksie. Ek onthou die reuse kampvuur en hoe ek in verwondering na die vlamme sit en staar het en die liedjies wat almal saam gesing het. Dit was ’n vrolike affêre en daar was ’n skare van kinders. Maar toe kom die hoogtepunt van die aand. Almal raak baie opgewonde as daar aan elke Voortrekkertjie ’n lang stok gegee word met ’n jêmblik op die punt vasgebind. Die reuk van paraffien het swaar in die lug gehang. Grootoog staan ek en kyk hoe hierdie jêmblikke een-vir-een brandgemaak word, en dan begin die kinders in ’n lang, uitgerekte ry die nag instap met hulle fakkels hoog bo hulle koppe. Ek het nie mooi verstaan wat aan die gang was nie, maar later, toe die lang ry liggies daar teen die hang van Suid Heuwel soos ’n reuse, gloeiende shongololo opkronkel, toe het ek hande geklap in verwondering.
Baie jare later, toe ek sélf ’n Voortrekkeroffisier was, het ek talle male die voorreg gehad om fakkellope te organiseer en elke keer was die opgewondenheid van die kinders, as hulle die pikdonker nag verlig met hulle lang ry fakkels, vir my ’n groot lekkerte. Die hele simboliek agter die fakkels is dan ook dat hulle ligdraers is in ’n duister wêreld, waar die lig van die Evangelie uitgedra word.
En dit is dan presies wat Paulus skryf vir die lesers van die Filippense-brief. Hulle moet optree as ligdraers in die wêreld! Eintlik nog meer, hulle moet skyn want hulle IS die lig vir die wêreld! Maar die vraag is: Hoe word jy ’n ligdraer?
Paulus het vir ’n tydlank in Filippi gewerk om die Evangelie te verkondig. Die eerste bekeerling was Lidia, die vrou wat handel gedryf het in pers materiaal. Daarna het hy talle mense gelei om die verlossing van Jesus te ervaar. En toe vertrek hy weer na ’n volgende bestemming. Nou, tien jaar later, wil Paulus seker maak dat die bekeerlinge van destyds nie maar net stagnant gebly het nie. Wanneer jy die dag tot bekering kom is dit nie maar ’n geval van dat alles nou afgehandel is nie. Nee, dan begin die groot werk eers, want dan verg dit uiterste inspanning om as ’n verloste mens te lewe. Dit is nie iets wat sommer maar net gebeur nie, dit vra van jou ’n doelbewuste aksie wat jy met baie eerbied en ontsag moet uitvoer, want dit is absoluut lewensbelangrik.
Daar is egter ’n baie groot troos - jy hoef dit nie te doen in jou eie krag nie! Uit jouself gaan jy net ’n gemors maak van alles. Die wonderlike is egter dat wanneer jy jou volle vertroue en afhanklikheid op God stel, dan maak Hy jou gewillig en gee Hy jou die bekwaamheid om dit te kan doen. Maar dan moet jy onthou om altyd die eer aan Hom te gee en nie te wil voorgee dat dit jou eie goedheid is dat jy so ’n “heilige” lewe leef nie. Onthou die Fariseër wat op die straathoek staan en bid het sodat almal kon sien hoe verhewe sy heiligheid was!
Om as verloste te leef vra opoffering en harde werk en dikwels is dit gladnie maklik nie. Dis egter baie belangrik dat ons hierdie lewenstaak uitvoer sonder om te kla of teë te praat. Die hele gedagte van blydskap eggo deur die hele brief van Paulus en hy stel die voorbeeld van hoe jy met vreugde, sonder om te kla in God se wingerd werk.
Dit vra egter ook van jou om ‘n rein lewe te leef. Ons leef in ‘n wêreld waar korrupsie, losbandigheid, dwelms, diefstal, geweld en al die lelike dinge in die lewe die norm geword het. Ons aanvaar dit maar as deel van die lewe en dan kan ek so maklik afgestomp raak en maar deel word van die stroom. Al die ander het buite-egtelike verhoudinge. As ek sélf so 'n bietjie die kat in die donker knyp gaan dit mos nie so verskriklik wees nie? Almal dink plannetjies uit om van die werk te steel, waarom sal ek dan nou sit en arm bly? In vers 15 skryf Paulus dat ons "sonder blaam en onskuldig moet wees, kinders van God, smetteloos, te midde van 'n krom en ontaarde geslag.” Wanneer jy só lewe, dan word jy ‘n ligdraer, oftewel die lig vir mense! Ek onthou die keer toe ek ‘n walglike uitnodiging gekry het na ‘n wilde kantoorpartytjie. Alhoewel ek niks gesê het nie, het hulle my later om verskoning kom vra daarvoor, want my lewe het getuig dat sulke goed my nie aanstaan nie. Uiteindelik het die man wat daarvoor verantwoordelik was, tot bekering gekom en later ‘n predikant geword.
Dit is nie maklik om in ‘n verwronge wêreld steeds jou ligfakkel hoog te hou nie. Daarvan kon Paulus deeglik getuig! Nogtans het hy vir ons die voorbeeld gestel van borrelende blydskap te midde van al sy swaarkry. En hy vra dan ook in vers 18 dat daardie selfde blydskap baie prominent moet wees in ons lewens. “Verbly julle ook so, ja, verbly julle saam met my.” Daardie blydskap moet uit jou hart kom, maar dit vra van jou om pertinent daaraan te werk en jouself oor en oor te herinner aan die wonderlike blydskap in jou. Nie alleen doen dit wondere aan ander mense rondom jou nie maar ook vir jouself.
Gebed:
Here, ek wil elke dag U ligdraer wees - help my om dit met groot vreugde en blydskap te doen.