Lig en Duisternis

9 August, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Lig en Duisternis

1 Johannes 1:5-2:2

Ek het grootgeword in die era van kerse en paraffienlampe. Op ons plaas by Waterval Boven was daar aanvanklik nie die luukse van elektrisiteit nie, dus was ons aangewese op ‘n ou vlammetjie om vir ons lig te verskaf. Buiten die kerse en gewone ou paraffienlampies, was daar natuurlik ook die hoogs-temperamentele “Aladdin” lampe. Sy vlammetjie het gebrand onder ‘n ragfyn asbessakkie wat aan ‘n klein raamwerk geheg was. Hierdie sakkie het gegloei, en ‘n helder lig verskaf. As die vlammetjie te klein gedraai was, het die sakkie nie verhit nie, en dan was daar nie lig nie. As die vlammetjie egter net so ‘n aks te groot gedraai was, het die sakkie pikswart gebrand, en dan was dit ure se geduldige werk om die sakkie weer skoongebrand te kry.

En toe koop Oupa vir ons ‘n Lister kragopwekker. Wat ‘n wonderwerk! Lig! En dít sonder die temperamentele sakkielampe en kerse! Maar die Lister het met ‘n prys gekom. As dit saans donker raak, was dit my taak om die masjien aan die gang te kry. Met my ou dun armpies moes ek die slinger draai totdat ek naderhand lam in die knieë is, en dan, sonder om spoed te verloor, moes ek ‘n hefboompie met een hand vorentoe druk en hoop dat die masjien vat, anders is dit die hele proses van vooraf oor.

Die groot riller vir my was egter die afskakel van die masjien wanneer almal al in die kooi was. Sonder om te sukkel met ‘n kers, het ek die stopknoppie gaan druk, en dan gehardlop so vinnig as wat my twee beentjies my kon dra, terwyl die ou Lister al stadiger doef-doef-doef, en die ligte al flouer en flouer gloei. En dan, as die gloeilampie in my slaapkamer sy ogies finaal knip, spring ek met een lang sprong, reg van die deur af tot binne-in die kooi sodat die pikswart-nag-donker my nie vang nie!

Wonderlike ding - lig! En dis presies die uitgangspunt van Johannes, wanneer hy verduidelik dat, omdat God Lig is, daar absoluut geen duisternis in Hom is nie. Johannes gebruik, om die waarheid te sê, die kontraste tussen lig en duisternis om te beskryf hoe die gelowige se leefstyl behoort te lyk. In vers 5-10 verduidelik hy van sonde en vergifnis uit die beeld van duisternis en lig. Hy maak 'n reeks negatiewe en positiewe stellings, soos: As jy beweer dat jy deel het aan Jesus, maar jy leef in die duister, dan lieg jy mos. Maar as jy in die lig lewe, reinig Jesus jou.

Johannes se boodskap is dat die gelowige se leefstyl moet ooreenstem met die oorsprong van sy geloof. God is Lig, en ons Sy eiendom. Daarom moet ons lewenswyse, optrede, dade en gedagtes natuurlik ook God se lig weerspieël. Ek kan beslis nie in God se ligkring lewe as my lewe verduister is deur sonde nie. Natúúrlik kan ons nie ontken dat sonde bestaan nie, maar wanneer ons ons sonde bely, het ons die sekerheid dat God ons vergewe. Hy het immers vir Jesus as Middelaar aan ons gegee om ons sondes weg te neem.

Lig word simbolies verbind met egtheid, waarheid en die goeie. In die Ou Testament word God met lig geassosieer. Kyk maar byvoorbeeld na die skeppingsverhaal, waar lig geskep word, selfs nog voor die son, maan en sterre. In teenstelling hiermee beeld duisternis valsheid, onegtheid en die bose uit. Het jy al gevoel watter bose, yskoue rilling ‘n pikdonker nag op ‘n plaas, agter jou rugstring kan laat afhardloop? Veral as jy by die ou spookhuis verbyloop?

Wanneer daar sonde in jou lewe is, kan jy beslis onsekerheid in jou geloofslewe beleef. Sonde bring ‘n skeiding tussen jou en God. Deur sonde te doen, bou jy (nie God nie!) ‘n muur tussen jou en God, ‘n muur wat keer dat God se lig jou lewe verlig. Natúúrlik kan geen mens beweer dat hy nie sonde doen nie, maar God verwag van ons om uit die duisternis te tree en doelbewus weg te beweeg van die sonde af. Dan moet jy ‘n egte, intieme, persoonlike verhouding met Hom aanknoop. Wanneer dit gebeur, beweeg die sonde soos ‘n donker skaduwee vanself by die agterdeur uit. Natuurlik gebeur dit nie pynloos nie - daar is ‘n prys te betaal. Ons kan nie maar net vergeet dat ons sonde gedoen het nie, maar jy moet jou sondes bely. Wanneer jy dit doen, en erken dat jy gesondig het en dat jy berou het daaroor, beteken dit dat jy verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Terselfdertyd erken jy God ook werklik as die God van die Lig, die Een wat getrou is en wat versoening gedoen het vir jou sondes op Golgota.

Wanneer jou verhouding met God reg is, volg die ander stap in jou lewe, om ook jou verhouding met jou mede-gelowiges reg te kry. Om ‘n persoonlike verhouding met medegelowiges te hê, beteken nie alleen om liefde uit te leef nie, maar om saam met mekaar die verlossing van Jesus Christus te beleef. Wanneer dit gebeur, sien jy hoedat God die skeidingsmuur wat ons gebou het, afbreek sodat Sy wonderbare lig ons ganse lewe kan verlig.

Gebed:

Here, ek moet vanoggend met droefheid bely dat daar nog soveel sonde in my lewe is. Help my asseblief om daarmee te breek sodat ek in U lig kan wandel.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026