Matteus 8:1-17
In die wonderlike preek van Jesus op die berg, waarvan ons in Matteus 5 lees, sien ons met watter gesag Jesus gepraat het. Wat Hy daar gesê het, het die skares stom gelaat, en duisende mense het behóórlik aan Sy lippe gehang. Maar blote woorde beteken niks as dit nie met dade bevestig kan word nie. Hierdie waarheid sien ons dikwels by die manne en vroue in hoë politieke kringe. Daar word keer op keer die mooiste inspirerende toesprake gehou en die wonderlikste beloftes gemaak. En dan kom daar gewoonlik dadels van. Ons sien dit in ons land gebeur, en die man op straat raak woedend omdat die beloftes leeg bly. Die afgelope jare het ons gesien hoe mense woedend in opstand kom omdat daar net beloftes van huise en dienslewering is, maar daar kom absoluut niks van nie. Vullis en rommel lê die dorpe vol en die rioolstelsels werk nie meer nie. Ons riviere en damme word vergiftig omdat dit net by praat bly en die woorde nie in dade oorgaan nie.
Matteus haal drie insidente aan wat wys dat Jesus soveel anders is. Die eerste is van ‘n melaatse man wat sy lewe waag om Jesus te kom opsoek tussen die groot skare mense. Slegs ‘n enkele woord van Jesus was genoeg om hom van sy verskriklike siekte te genees. Iemand met melaatsheid was in daardie jare ‘n uitgeworpene uit die samelewing. Niemand wou of kon enigiets met hulle te doene gehad het nie. Die wet het hulle selfs verbied om enige kontak met mense te hê, want hulle velkwaal kon dodelik aansteeklik wees. Hy kon swaar gestraf word as hy tussen ander mense sou instap. Hierdie desperate man waag dus baie deur na Jesus te gaan en boonop tussen die skare deur te loop. Aan die ander kant, durf ‘n gesonde persoon nie ‘n melaatse aanraak nie, want dan was hy sélf onrein. Jesus skroom nie om die melaatse aan te raak nie. Hy plaas Sy eie reputasie op die spel en wys so dat liefde dus van jou meer vra as wat gewoonlik verwag word.
Die tweede persoon waarvan ons vanoggend hoor, is iemand wat die Jode met haat vervul het by die blote noem van sy naam. Alhoewel hy ‘n man van aansien was, en ‘n goeie posisie in die weermag beklee het, was hy nie ‘n Jood nie, en die Jode het hom geminag met ‘n passie, want hy was deel van hulle vyand, hulle onderdrukkers, die Romeine. Hoe durf hy, wat absoluut geen deel het aan die Jode en hulle geloof nie, by Jesus, die Seun van Dawid, kom aanklop om hulp? Maar die situasie was nog veel erger: dit was nie eers vir homself of sy familie nie, maar vir ‘n stuk nikswerd eiendom, ‘n slaaf! Hierdie offisier kom verneder homself om vir ‘n Jood om hulp te kom vra vir ‘n slaaf! Ek sien hier ‘n man wat werklik omgegee het, want ‘n slaaf was in daardie dae die absolute laagste klas mens, en hulle was dikwels soos diere behandel. Nogtans het hierdie geharde Romein die deernis in sy hart gehad om om te gee vir daardie slaaf. Jesus sien sy deernis en sy geloof raak, en die man word oombliklik genees. Hiermee wys Jesus dat Hy nie alleen mooi dinge kon sê nie, maar dit prakties uitgeleef het. As Hy sê dat jy jou vyand moet liefhê, wys Hy hoe jy daardie liefde in die praktyk moet toepas.
Die derde insident het ook te doene met ‘n uitgeworpene uit die samelewing. Nie alleen was sy ‘n vrou, wat terloops ook maar net ‘n stuk eiendom in die Joodse kultuur was nie, maar sy was boonop ‘n skoonma! Sy het daar gelê met ‘n hoë koors, en sy het nie eers vir hulp gevra nie, want sy het geweet dat sy nie hulp werd was nie. As vrou was sy minder belangrik, maar vir Jesus was sy van die uiterste belang, want sy is ‘n mens! Sonder dat sy daarvoor vra, vat Jesus haar aan die hand, en skielik is die koors weg, en is sy sprankelend gesond!
Matteus skryf dat daar daardie nag nog talle mense na Jesus gekom het, en Hy het al die siekes gesond gemaak en bose geeste uitgedryf!
Ek het aan die begin gesê dat woorde sonder dade betekenisloos is. Jesus het hier gedemonstreer hoe ons die dinge waarvan Hy gepraat het kan en moet uitleef. Vir ‘n gelowige om bloot maar te sê: “Ek glo in Jesus!” is betekenisloos as die dinge wat jy doen nie wys wat daardie geloof beteken nie. Jou dade is in werklikheid ‘n stempel op dít wat jy bely. Vandag demonstreer Jesus prakties dat dit nie alleen maar genoeg is om te sê dat jy lief is vir jou naaste nie, maar dat jy moet uitspring en iets daadwerklik doen om sy nood te verlig. Maar Hy gaan veel verder, en Hy demonstreer dat dit nie noodwendig die mense is in jou vriendekring of jou familiekring wat jou praktiese liefde moet ontvang nie, maar ook die mense daar buite. Die uitgeworpenes uit die samelewing het dikwels jou praktiese liefde baie nodiger as die mense wat vir jou maklik is om lief te hê. Die vuil, stinkende boemelaar, die bedelaar, die buurman wat jou so baie moeilikheid gee, die omgesukkelde baas wat almal haat, hulle is almal mense en ook God se kinders!
Kom ons maak ‘n punt daarvan om vandag ons liefde prakties uit te leef aan elkeen wat oor ons pad kom!
Gebed:
Here, ek moet vanoggend bely dat my geloof dikwels net teoreties is, en dat die praktiese ontbreek. Help my asseblief om my liefde waarlik uit te leef.