1 Korintiërs 9:24-27
Het jy geweet? In Paulus se tyd was daar vier groot Panhelleense spele – die Olimpiese-, Pytiaanse- Nemeaanse- en Isthmiese spele. Die Isthmiese Spele is gehou op die smal landstrook of isthmus naby Korinte, by die heiligdom van Poseidon. Dit het reeds in 582vC ontstaan en het atletiek, stoei, boks, pankrasie, wa-renne en selfs musiek- en poësiewedstryde ingesluit. Die wenners het ’n krans van denneblare of seldery as simbool van eer en roem ontvang.
Wanneer die spele plaasgevind het, het duisende besoekers, atlete, handelaars en filosowe die stad binnegestroom. Dit het ’n enorme ekonomiese hupstoot gegee. Dit is selfs moontlik dat Paulus as tentmaker tydens sy verblyf in Korinte ekstra werk gekry het tydens die spele, aangesien besoekers tydelike skuiling benodig het.
Paulus het sékerlik sélf daar op die stadion gesit en kyk na die atlete, want hy gebruik atletiek dikwels as voorbeeld om waarhede tuis te bring, soos nou ook in sy briewe aan die Korintiërs. Hy het immers geweet dat hierdie mense dit baie goed sou verstaan. Dit het gewerk, want as jy eers ‘n prentjie in jou kop het waarmee jy ‘n sekere waarheid kan assosieer, dan vergeet jy die waarheid nie sommer nie. Ek is Sondag skaars uit die kerk, dan het ek klaar die dominee se preek vergeet. As hy egter ‘n aangrypende storie vertel om sy boodskap tuis te bring, dan onthou ek dit dikwels vir baie jare!
Jesus het óók Sy boodskappe met beelde of gelykenisse oorgedra. Dit is egter interessant om te weet dat Paulus se voorbeelde hemelsbreed van dié van Jesus verskil het. Jesus se totale bediening het op die platteland afgespeel, met uitsondering van enkele kere wat Hy in Jerusalem was. Die beelde wat Jesus dus gebruik, het feitlik alles te make met plattelandse dinge, gelykenisse van plaasboere, saailande en wingerde.
In teenstelling hiermee is Paulus se totale bediening weer in stede. Sy beelde het altyd iets te doene met die stadslewe en dinge wat in die stad gebeur. Dinge waarmee die mense bekend is en wat dadelik hulle aandag vang.
Wanneer Paulus dan hierdie baie belangrike waarheid by die Korintiërs wil tuisbring, gebruik hy juis ‘n beeld wat by hulle baie bekend is - atlete op die Isthmiese Spele. In hulle gedagtes kan hulle sien hoe die frisgeboude manne daar op die baan staan, spiere rimpelend in afwagting op die afsetter. Dan val die vlag, en die atlete is weg. Elke greintjie krag word ingespan wanneer hulle voortbeur. Die skare raak histeries as elkeen sy eie held aanmoedig. Wanneer die atlete die eindstreep begin nader, klink dit asof die stadion gaan ontplof. Gedryf deur adrenalien en die aanmoediging van die skare, gee elke atleet absoluut alles wat hy het om daardie blarekroon te kan dra.
Paulus gebruik bekende spele-beelde: Hardloop om te wen. ’n Bokser wat nie in die lug slaan nie. ’n Verganklike blarekrans vs. ’n onverganklike krans. Selfdissipline en selfbeheersing.
Paulus se boodskap was dus baie kragtig: As atlete só dissipline toon vir ’n tydelike krans – hoeveel te meer behoort gelowiges toegewyd te wees vir ’n ewige beloning?
Wanneer jy ‘n wedloop hardloop, dan moet jy besef dat jy nie noodwendig ‘n prys gaan wen nie. Dis egter steeds belangrik om die wedloop te voltooi! Daar is hope selfdissipline nodig om waarlik bo te kan uitkom. ‘n Top atleet weet byvoorbeeld dat hy baie dinge moet prysgee as hy wil wen. Lekker kos is beslis nie op sy spyskaart nie. Hy moet eet wat hom die nodige krag gee, en dikwels is dit vervelige kos. Hy moet oefen en oefen, en baie tyd in sy voorbereiding sit, tyd wat hy heerlik kon gebruik het vir ontspanning.
As gelowige moet ek ‘n besluit neem: gaan ek maar net tevrede wees om agterna te draf, of gaan ek voluit op hierdie lewenswedloop? Draf ek halfhartig, kan ek uiteindelik ook by die wenstreep uitkom, maar dit sal afgewater wees. Alleen diegene wat alles in die stryd werp, kry die oorwinnaarskroon! Net soos in sport, is voorbereiding uiters belangrik. Ek móét bereid wees om sommige dinge prys te gee. Sonde is een van hulle!
My Handleiding is die Bybel, en ek moet sorg dat ek dit verstaan en deeglik ken. Dit help nie om maar net 'n versie of twee te lees om my gewete te sus nie. Ek moet verstaan wat ek lees, en ek moet die agtergrond waarteen ‘n Bybelgedeelte geskryf is begryp om sodoende te verstaan wat die ware bedoeling is.
Gebed is my geestelike asemhaling. Daarsonder kan ek die wedloop maar vergeet! My krag en toerusting kom van die Heilige Gees, en ek moet Hom toelaat om my lewe te rig. Maar dan moet ek natuurlik ook die wil hê om die wedloop te wen! Daarsonder gooi ek halfpad al tou op!
Elke gelowige is alreeds ‘n wenner! Rig vandag jou oog op die wenstreep, en sit álles in om daardie belangrikste van alle wedlope te hardloop!
Gebed:
Here, ek wil hierdie wedloop voluit hardloop! Gee my asseblief die dissipline en uithouvermoë en wees U asseblief my Afrigter!