Hebreërs 13:7-8
Die Nuwe Testament vertel vir ons van Jesus - Sy lewe op aarde, en wat Hy vir ons beteken het. En dan is daar al die briewe van Paulus, Petrus, Jakobus en andere wat ons leer oor die Christelike lewe. Hulle gee riglyne oor hoe dit ‘n gelowige betaam om sy lewe in te rig. Maar vir my, een van die mees treffende aspekte van die Nuwe Testament, is die interessante mense wat jy daar ontmoet: Paulus, Petrus, Timoteus, Matteus, Filemon, Johannes, Stefanus, Lidia, Priscilla - watter wonderlike voorbeelde het hierdie manne en vroue nie vir ons gestel nie! Ja, Paulus het baie geskryf, en sy briewe is uiters belangrik om ons te leer van wat reg is, maar die voorbeeld wat hy gestel het met sy lewe is van onskatbare waarde. Dieselfde geld vir die ander. Die Hebreërskrywer wil dit vir ons op die hart lê om te kyk na hierdie mense se lewens en die eienskappe wat hulle daarin uitdra, na te volg.
Vat nou maar vir Paulus as voorbeeld: Hy was ‘n geharde Fariseër, en hierdie nuwe “Christen-sekte” het ingedruis teen alles wat hy deur die jare geleer het. En toe ontmoet hy vir Jesus op een van sy wrede vervolgingstogte, op pad na Damaskus, en hy kom kragdadig tot bekering. Van toe af werp Paulus ál sy kragte in die stryd om die Evangelie te verkondig. Absoluut niks het in sy pad durf kom nie. Toe hy dit eers in sy kop kry om die Evangelie na die heidenwêreld uit te dra, het hy verskeie sendingreise onderneem wat dikwels jarelank geduur het en uitmergelend was.
Teenstand was vir Paulus die alledaagse, en dit het al gekom uit sy eie geledere - sy mede-gelowiges wat nie tevrede was met sy metodes nie. Maar die teenstand wat hy sou kry daar in die vreemde was ongekend. Dit was veral die Jode wat met alle geweld van hom ontslae wou raak. Talle male is hy uit ‘n stad uitgejaag, in die tronk gesmyt, geslaan en selfs met klippe bestook, so erg dat almal by een geleentheid gedink het dat hy dood was. Hierdie dinge het Paulus egter nie afgesit nie, maar eerder aangespoor om nóg harder te werk!
Ten spyte van al die swaarkry, sien ons Paulus as iemand wat die lewe as ‘n lied beleef het. Toe hy en Silas, ‘n mede-prediker, eenmaal deur die owerhede gearresteer is, is hulle in ’n stinkende, vuil kerker aan kettings vasgeboei, maar eers nadat hulle met swepe voos geslaan is. In die grootste pyn het hulle daar in die stikdonker gelê en hulleself jammer gekry. Jammer gekry? Nee, nie Paulus nie! Hulle het gelê en sing! Vrolike lofliedere tot eer van God! Nooit het ons gehoor dat hulle God verwyt vir dít wat met hulle gebeur het nie!
Later sien ons Paulus waar hy in die gevangenis in Rome beland. Aanvanklik was hy net onder huisarres, maar later is hy in die tronk opgesluit. Paulus het nie in sak en as gaan sit nie, maar hy het die tyd uitgekoop en begin briewe skryf aan die talle gemeentes wat hy en sy medewerkers oor die wêreld gestig het. Nooit sien ons ‘n enkele klagte in hierdie briewe oor sy haglike omstandighede nie, maar ons sien blydskap wat borrel uit hierdie merkwaardige man. Wat ‘n wonderlike voorbeeld vir elkeen van ons om na te volg! Hoe dikwels kerm en kla ons nie oor ons omstandighede nie. “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”, skryf Paulus, terwyl hy in die tronk krepeer van ellende.
Stefanus is ‘n ander voorbeeld vir ons vandag - terwyl hy gemartel en met klippe doodgegooi is deur sy eie mense, vir die verskriklike “sonde” om ‘n Christen te wees, bid hy dat die Here sy moordenaars asseblief moet vergewe. Hoe aangrypend! Hoe vergewensgesind is ek en jy?
Petrus is ook een van my groot helde uit die Nuwe Testament: ‘n Eenvoudige, rowwe visserman wat besluit het om Jesus te volg. Hier is ‘n voorbeeld van ‘n doodgewone mens nes ek en jy - iemand wat óók maar nés ons gewemel het van foute. Petrus het groot ideale gehad, maar dikwels het alles verkrummel tot as. Hy het homself gesien as die een wat Jesus sou volg en beskerm tot die bitter einde toe, maar toe die diensmeisie hom vra of hy vir Jesus ken, is ál sy waagmoed skoonveld weg! Petrus is die een wat onomwonde verklaar dat Jesus die Seun van God is, maar later as Jesus hom vra of hy Hom liefhet, dan bars Petrus in trane uit - sy liefde skiet so ver tekort…...
Nogtans sien ons later dieselfde bang, ongeletterde Petrus, waar hy onverskrokke voor die hoogs-geleerde, intimiderende Joodse raad getuig, en hulle selfs aanvat op hulle eie terrein, en vir hulle presies vertel waar Dawid die wortels gegrawe het! Petrus het nou nie meer op sy eie krag staatgemaak nie, maar op die Heilige Gees. As ek byvoorbeeld vir een oomblik op my eie krag sou staatmaak om hierdie dagstukkie te skryf, dan sou ek liederlik in die stof byt! Ons moet, soos Petrus, leer om die Heilige Gees te vertrou om ons te lei in die lewe, en ons krag van Hom te kry. Dan sal ons nooit nodig hê om bang te wees om die Evangelie te verkondig nie, selfs al is ons “ongeletterd”.
Kom ons leer vandag van die groot manne en vroue uit die verlede, en pas die wonderlike voorbeelde wat hulle stel, toe op ons eie lewens!
Gebed:
Here, dankie vir sulke wonderlike voorbeelde wat Paulus, Petrus en al die ander vir ons gestel het. Leer my asseblief om hulle voorbeeld na te volg!