Romeine 12:1-2
Ons het gekom by die laaste afdeling van Paulus se brief aan die Romeine. Hierin skryf hy oor die praktiese implikasies vir jou as gelowige in die alledaagse lewe.
Dit is so tragies dat ons as gelowiges al te dikwels in twee wêrelde leef. Ons het ‘n Sondagwêreld en ‘n Weekwêreld. Sondae sit ons onse mooi gesiggies op en gaan ewe vroom kerk toe en Bybelstudie toe, en my gedrag word grootliks bepaal deur die Bybel. Maar kom Maandagmôre, dan is al my mooi voornemens van Sondag totaal vergete, en my lewensomstandighede bepaal hoe ek optree. Dikwels is dit nou nie juis baie Bybels nie! Kerk en wêreld - so weet ons maar al te goed - mag nie so geskei word nie, maar glo my: dis nie maklik nie! Dis daarom dat gelowiges maar maak soos die res.
In hierdie laaste vier hoofstukke wil Paulus ons leer dat dit ‘n absolute onvermydelike implikasie van God se vryspraak is dat ons in elke omstandigheid van ons lewe wys dat ons kind van God is. Om ‘n ruggraatlose navolger van die wêreld te wees, is ‘n besliste NEE! Dit is hééltemal binne ons vermoë om voluit as Koninkrykskinders te lewe. Nie alleen gee God ons die opdrag om so te leef nie, maar Hy leer ons ook HOE om dit te doen. Boonop is die Heilige Gees daar om ons die krag te gee, en die moed om dit in die praktyk toe te pas.
Ons moet vanoggend baie duidelik kennis neem dat Paulus nie hier besig is om weer vir ons ‘n klomp wette te gee wat ons eers moet nakom om gered te kan word nie. Inteendeel, hy wys ons hoedat ons ons hele lewe kan gebruik om dankie te sê vir God vir die redding wat ons ALREEDS ontvang het. Júís omdat God ons vrygespreek het, beteken dit dat ons nou in ‘n nuwe verhouding met Hom kan en moet lewe. Hierdie is ‘n verhouding wat nie alleen jou binnekant raak nie, maar jou totale openbare optrede. Jy moet só optree in die wêreld dat almal kan sien dat jy met God versoen is, en dat jy in ‘n herstelde verhouding met Hom leef. Om maar net kennis te hê van jou vryspraak, en te glo dat jy verlossing gesmaak het, is nie vir God goed genoeg nie. Paulus gee in die eerste paar verse vir ons die algemene beginsels van hierdie soort lewe wat God graag wil hê dat ons moet leef.
Eerstens moet ons baie duidelik besef wat die motief is vir hierdie nuwe lewe. Dit is nou maar eenmaal so, dat as jy prakties soos ‘n Christen lewe, dan gaan jy teenstand kry. Dit is dán dat jy vir jouself die vraag moet afvra waarom jy dan hierdie soort lewe kies. Die antwoord kom uit Romeine 12:1: op grond van God se groot ontferming! Ons optrede in die wêreld teenoor ander mense mag alleen bepaal word deur God se optrede teenoor ons. Agter elke ding wat ek doen moet ek kan skryf: “Ek maak so omdat God my liefhet, vrygespreek en verlos het.”
Tweedens moet ons onthou dat God se liefde aan ons ‘n opofferende liefde is: Jesus het Sy Godsbestaan opgeoffer vir ons om mens te word. Hy het verder gegaan en selfs Sy menswaardigheid opgeoffer om as misdadiger gebrandmerk te word. Maar dit was nie al nie: Hy het selfs so ver gegaan om Sy lewe op te offer aan die kruis vir jou en my.
En nou vra Hy van ons ook ‘n opofferende liefde teenoor ons medemens. Paulus vergelyk hierdie soort lewe met die Ou-Testamentiese dankoffer. Daar is egter ‘n baie groot verskil: hier gee jy nie IETS aan God nie, maar JOUSELF! Die implikasie is dat ons bereid moet wees om totaal opgebruik te kan word in diens van God. Met só ‘n offer maak ons deur ons gedrag Jesus se liefde sigbaar vir die wêreld.
Die derde beginsel is dat, as ons nou in ag neem wat hier bo geskryf is, ons nie kan maak soos die wêreldling nie, of soos ons natuurlike instinkte ons dryf nie. Die hele wese van die wêreld daar buite is totaal liefdeloos en egoïsties, en alleen God kan ‘n mens verander. Het jy al ooit gesien hoedat ‘n vaal, vormlose papie oornag in ‘n kleurvolle, vrolike skoenlapper kan verander? Net so kan God ons aaklige wêreldse voorkoms verander om vir Hom mooi en aanneemlik te wees. Wanneer ons God se vryspraak ervaar het, durf ons nie meer gelykvormig aan die wêreld wees nie.
As ons hele lewe en denke dan vernuwe is, loop dit uit op ‘n lewe wat vir God goed, aanneemlik en volmaak is. Dit is met ander woorde ‘n totale verandering van hart wat ons moet nastreef. Die vraag is of hierdie volmaakte soort lewe ooit moontlik is? Ja, maar slegs op een manier: deur die geloof dat Christus ook vir alle onvolmaaktheid gesterf het. Ons moet daarna streef met alle mag om te doen wat vir God aanneemlik is, maar waar ons beste pogings misluk of te kort skiet, daar vul Jesus aan met die offer wat Hy gebring het op Golgota. Sodoende word jou nuwe lewe in die bloed (die KOSBARE bloed!) van Jesus geheilig.
Gebed:
Here, as ek my lewe aanskou, dan sien ek so baie tekortkominge, en plekke waar ek nog aan die wêreld gelykvormig is. Lei my deur U Heilige Gees om nader en nader aan U te leef.