Markus 2:13-17
Hy het alles wat ‘n man wil hê: genoeg geld, genoeg vriende en boonop het hy ook genoeg gesag, sodat mense spring as hy iets sê. Dat die breë samelewing hom minag en vermy, daarmee het hy lankal vrede gemaak. Om as belasting gaarder te werk, maak vir jou baie meer vyande as vriende. Dit is basies net die skuim van die samelewing wat sy vriende geword het, ‘n rowwe klomp wat hulle gladnie steur aan die kerk se eng wette nie. Hy kry eintlik groot lag as die Fariseërs met hulle stywe nekke sulke wye draaie om hom stap, te bang dat daar iets van sy “onreinheid” op hulle sal afspring. Spul huigelaars! Dink mos hulle is so hoog-heilig, maar hy, Levi, het ook al gesien hoe hulle die kat in die donker knyp as hulle dink niemand sien nie!
Kyk, Levi sou homself nou nie juis as “heilig” beskryf nie. Eintlik is hy baie ver daarvandaan! Maar wie wil in elkgeval dan nou so heilig wees? Kyk maar net hoe verskriklik eng moet hierdie arme Fariseërs leef. Mag niks doen wat lekker is nie. Hulle mag nie eers saam met iemand eet as die gasheer nie sélf ‘n Fariseër is nie. Nee wat, hy is doodgelukkig om maar net ‘n tollenaar te wees, al word hy dan ook so geminag deur sy eie mense. Hulle dink mos hy verneuk hulle om elke hoek en draai. Hy doen maar net sy werk!
In die nou straatjie hoor Levi ‘n gedruis van baie stemme. Wanneer die optog om die draai kom, sien hy ‘n groot skare baie opgewonde mense. Hulle fokus op Iemand daar in die middel van die groep. Hy kan nie uitmaak wie dit is nie. Sy nuuskierigheid kry die oorhand. “Wie is dit daardie?” vra hy ‘n verbyganger wat haastig op pad is om by die groep aan te sluit.
“Aag Levi, jy sal tog nie belangstel nie, dis geestelike dinge!” Die kêrel verduidelik haastig van die Man wat sulke asemrowende wonderwerke doen, Jesus.
Levi raak weer verdiep in sy werk, maar kort-kort kyk hy op, want die massa kom al nader aan sy tolhuis. As Levi weer opkyk, kyk hy reg in die oë van daardie Man. Sulke oë het hy nog nooit gesien nie! Dit voel asof hulle dwarsdeur jou kyk en al jou sondes en skelmstreke raaksien. Levi sien hoedat die man tussen al die mense deur, reguit na hom toe aangestap kom. “Volg My”, sê die Man vir hom, en Levi skrik hom byna in ‘n ander geloof in, nie dat hy veel van ‘n geloof gehad het nie. Dan sê die Man vir hom iets wat sy verstand totaal laat bollemakiesie slaan: “Ek wil vanaand by jou kom eet.”
Levi is totaal uit die veld geslaan. Waarvoor sou daardie heilige Man dan nou by hom, ‘n vuil sondaar wil kom eet? Hy sal mos “onrein” word! En dan is die Man weer weg, geabsorbeer deur die skare, wat ál Sy aandag vra.
Levi sit behoorlik en bewe van opwinding en senuwees. Wat moet hy vir die Man voorsit? Moet hy streng volgens die voorskrifte gaan wat die Fariseërs neerlê? Levi stap na een van sy kollegas vir raad oor die netelige saak. “Kan ek saamkom, Levi?” Sy tollenaar-vriend is sommer dadelik baie opgewonde. “Ek sou bitter graag ook daardie Profeet wil ontmoet. Asseblief ou maat?”
Die nuus versprei soos ‘n veldbrand onder die tollenaars en uitgeworpenes. Álmal wil kom saam eet! Levi staan hande in die hare. Hoe kan hy hulle tog wegwys? “Aag, toe dan maar,” gee hy uiteindelik in. “Hoe meer siele, hoe meer vreugde”. En saam met die siele kom die hande om te help dat hierdie een reuse partytjie sou wees. Almal wil Jesus ontmoet, maar omdat hulle nie sulke “rein” mense is nie, is dit niemand beskore nie. Hier is nou die kans van ‘n leeftyd!
Daar heers groot vreugde aan die huis van Levi wanneer Jesus en Sy twaalf volgelinge daar opdaag. As die manne die spul tollenaars sien, voel hulle bitter ongemaklik. Maar hulle Meester val onmiddellik in by die spul, en dit lyk vir hulle asof dit tweede natuur is vir Hom om met hulle te gesels en te meng. Petrus en sy broer, Andreas huiwer nog buite. Pa het hulle immers geleer dat ‘n mens nooit jou voete in ‘n tollenaar se huis sit nie. ‘n Skrifgeleerde kom staan hier in Petrus se nekhare en blaas: “Wat máák julle Rabbi? Waarom eet Hy saam met die spul slegte mense?” En dan antwoord sy Meester daar van binne af, bo die lawaai uit: “Gesonde mense het nie ‘n dokter nodig nie!”
“Kom, Simon”, por Andreas hom aan, “Ons Meester wag!”
Wat sou gebeur as ‘n vuil boemelaar die kerk instap op ‘n Sondagoggend? Sou almal hom onvoorwaardelik aanvaar? Sou ek…..? Is ek beter as die tollenaars en uitgeworpenes? Ons is almal sondaars, en die een sonde is nie groter as ‘n ander nie. Jesus het nie onderskeid getref nie. Wat gee my die reg om dan onderskeid te tref? Dit is nie net goeie en voorbeeldige mense wat deel vorm van God se Koninkryk nie. Die enigste “toegangskaartjie” is geloof in Jesus.
Gebed:
Here, U stuur dikwels uitgeworpenes en “sondaars” op my pad. Vergewe my asseblief waar ek al so dikwels onsensitief en hard teenoor hulle opgetree het. Gee vir my ‘n hart van liefde vir almal.