Genesis 22:1-8
Dit is ‘n verhaal wat jou koue rillings gee - “Hoe kon God.....?” wil ons vra, “Hoe kon God óóit so ‘n wrede ding aan ‘n mens doen? Eers gee Hy, en nou wil Hy dít wat Hy gegee het terugneem?”
Isak was ‘n springlewendige jong seuntjie toe God eendag helder en duidelik met Abraham praat. Dit was weereens een van daardie rare gebeurtenisse toe God hoorbaar met ‘n mens gepraat het. Dit gebeur slegs in baie spesiale gevalle, en Abraham het onmiddellik geweet toe hy God se stem hoor, dat hier iets baie groot gaan gebeur. “Hier is ek Here!” kom Abraham se opgewonde antwoord. Maar Abraham sou nooit in sy lewe voorbereid kon wees vir die opdrag wat hy daardie dag sou kry nie.
“Vat jou seun,” Abraham se hart bokspring ‘n slag as hy net aan sy kosbare klein Isak dink. Watter wonderlike ding beplan die Here vandag vir hom en klein Isak? “jou enigste,” (Vir Abraham kan daar tog sékerlik nie nog kinders kom nie!) “wat jy liefhet,” (O ja, die Here sal nie eers weet hóé lief hy daardie kind het nie!) “en gaan na die landstreek Moria toe.”
“Maar dis baie ver Here,” wil Abraham nog protesteer. “Ek is darem al diep in die honderd!” Maar dan kom die gedagte dat daar verséker iets baie opwindend daar op hulle wag. Hoe reg was Abraham nie, maar die volgende woorde slaan hom soos ‘n voorhamer teen die kop: “En offer jou seun daar op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.”
Abraham is verslae. Hoe kan God so ‘n verskriklike ding van hom verwag? Wat sê hy vir Isak as dié wil weet waarheen hulle op pad is? “Die Here sal voorsien! Hy het nog altyd. Ek sal maak soos Hy sê. Ek verstaan dit nie, maar ek sal so maak.” Abraham het sekerlik daardie hele nag deur gehuil. Maar vroeg die volgende oggend is die donkies gepak en die slawe gereed. Klein Isak hardloop opgewonde rond oor hierdie opwindende avontuur wat op hulle wag, min wetende watter afgryslike lot vir hom beplan is.
Dit was sekerlik die langste drie dae in Abraham se ganse lewe, daardie reis na Moria. Hoe het hy nie dalk op die pad met die Here geworstel oor hierdie moeilike opdrag nie? En dan is dit asof die Here vir hom sê: Abraham, onthou jy nog toe Ek vir jou die vorige keer gevra het om saam met My ‘n risiko te loop?”
“Ja Here, sal ek dit óóit vergeet?”
“Sékerlik onthou jy tog wat die gevolg was? Kom, doen dit weer ‘n slag saam met My!”
Tot watter mate is ons bereid om God te vertrou en te gehoorsaam? Moontlik moet ons eerder vra: Wat is die kern van jou geloof? Is dit om sekere voordele daaruit te put? Om ‘n kind van God genoem te kan word? Om die ewige lewe te kan verwerf? Of gaan dit eerder vir jou oor God Sélf - om Hom alleen te dien. Só ‘n geloof kan dikwels baie duur wees! As jy die dag besluit dat jou geloof slegs gaan om God te dien, kan God dalk groot eise aan jou stel.
Dikwels hoor ons van mense wat op uitreike gaan na lande waar die Evangelie taboe is. Daar gooi hulle hulleself letterlik vir die wolwe om Bybels en Christelike lektuur te versprei waar dit totaal verbied is. Daar bid hulle saam met mede-Christene waar hulle onder die strengste geheimhouding bymekaar moet kom. Dit is lewensgevaarlike werk. ‘n Goedkoop offer is beswaarlik ‘n offer! Die prys wat jy bereid is om te betaal is dikwels die barometer van die ware erns van jou geloof. Bid asseblieftog vir elkeen wat so uitreik, dat die Here hulle in Sy hand van bewaring sal hou, elke oomblik van die gevaarlike uitreik.
Op die derde dag sien Abraham die berg waarvan die Here hom vertel het in die verte. Die arme man se hart klop in sy keel. “Wat nou?” wonder hy. “Bly julle hier by die donkie,” beveel hy die twee slawe. Hy tel die brandhoud van die donkie se rug af en plaas dit op Isak se skouers. “Ons gaan daar aanbid,” vertel hy vir die slawe, met groot vraagtekens op hulle gesigte. Gewapen met ‘n mes en vuur, begin Abraham en Isak die hoogte bestyg. Abraham was ‘n bitter bekommerde man. Weereens moet hy totaal op God vertrou. Die verskil is net dat hy hierdie slag géén uitkoms vorentoe sien nie. Sulke vertroue is menslik onmoontlik tensy God dit vir jou gee.
En dan kom staan en vra klein Isak nog sulke moeilike vrae ook, en Abraham moet baie mooi dink hoe om te antwoord: “Pa, hier is die hout en die vuur, maar waar is die lam dan wat ons moet offer?”
“My seun, God sal Sy eie offerlam voorsien.” Hieroor was Abraham dalk maar half skepties. Maar watter wonderlike profesie was hierdie nie! Tweeduisend jaar later het God ‘n Offerlam voorsien - ‘n Offerlam wat elke greintjie skuld betaal! Sy eie, enigste, kosbare Seun, Jesus!
(Word vervolg!)
Gebed:
Here, hierdie aangrypende verhaal herinner my aan U offer aan die kruis. Dankie dat U dit ook vir my betaal het.