2 Petrus 1:12-21
Jare gelede sien ek eenmaal ‘n fliek wat begin met die een of ander boef wat sy rieme styfgeloop het weens loodvergiftiging toe hy te veel lood ingekry het uit ‘n polisieman se pistool. Hy het ‘n fabelagtige klomp geld geroof, maar hy het nooit vir iemand vertel wat hy daarmee gedoen het nie. En daar lê die kêrel op ‘n klipkoppie, besig om te hyg na sy laaste bietjie asem. Die polisieman is binne sekondes by hom, en begin hom aanpor oor waar hy die geld weggesteek het. Voor jy kan sê: “Sikspens!” staan daar ‘n kring van gierige belangstellendes rondom die sterwende man, almal met slegs één begeerte: om te hoor van die fortuin. Hy lig sy hand floutjies, en dan sak daar ‘n doodse stilte toe. Hy begin verduidelik wat hy met die fortuin gedoen het, baie kripties, en almal hang oor hom om beter te kan hoor. Dit is bitter belangrike dinge wat hy daar in sy vinnig-kwynende asempie prewel, die laaste dinge wat hy ooit in sy lewe sou sê. Toevallig staan daar ‘n blik emmer, en die volgende oomblik gee die man sy laaste stuiptrekkings en skop die emmer dat hy teen die randjie afrol. Morsdood! En die malle jaagtog na die fortuin begin!
Die laaste dinge wat ‘n man sê net voor sy dood was in Petrus se jare van uiterste belang, en dit is neergeskryf om sy voortgesette invloed selfs ná sy dood te verseker. In die storietjie hier bo het die man se lewe uit net een ding bestaan: om te steel. Sy laaste woorde se invloed op die omstanders het ook net een ding tot gevolg gehad: gierigheid.
Kyk ons egter na Petrus se lewe, dan sien ons ‘n man wat ‘n kosbare erfenis agterlaat. Die wonderlike inspirasie wat ons uit sy lewe kan kry is onskatbaar. Petrus het besef dat sy einde baie naby is, want Nero soek sy bloed. Petrus wil dus baie seker maak dat sy lewe onthou sal word. Nee, dit is nie ‘n selfsugtige versugting nie, want uit sy lewe is daar soveel dinge van onskatbare waarde vir enige gelowige om te leer. Hy het dinge beleef wat min mense óóit beskore was. En anders as die verhaaltjie hier bo, is dit beslis nie net ‘n storie nie, maar ’n ware lewensverhaal.
Dinge waarvan ons vandag net kan lees, het Petrus persoonlik, eerstehands beleef. Daardie dag toe Jesus deur die Vader verheerlik is, en die stem van God die Vader uit die hemel weerklink het, toe Hy gesê het: “Dit is My geliefde Seun oor Wie Ek My verheug!” Petrus was persoonlik daar! Hy het oopmond staan en kyk toe hierdie Godsverskyning hier vlakvoor sy oë plaasvind. Petrus was een van slegs drie mense wat die asemrowende voorreg gehad het om daardie ervaring te beleef, toe Moses en Elia uit die hemel verskyn het, eeue na hulle dood. Natúúrlik durf Petrus nie stilbly oor hierdie dinge nie, en baie beslis moet dit oorgedra word van geslag na geslag sodat die ganse wêreld sal kennis neem daarvan!
Die getuienis van ‘n ooggetuie was in daardie jare as van uiterste belang beskou. Dit was ‘n betroubare getuienis! Vandag is dit beslis nog steeds so. As Petrus, as ooggetuie van die asemrowende gebeurtenis op die berg se getuienis in ag geneem word, dan het ons geen ander keuse as om te glo dat Jesus God is nie.
Petrus was ook by toe Jesus vir die mense gesê het: “Ek is die Lig vir die wêreld.” Ai, sou die lewe nie piknagdonker gewees het vandag, as Jesus nie die Lig in ons lewe was nie, en ons Verlosser was nie? Misdaad - moord, roof, verkragtings, korrupsie, oorloë en nog baie meer, is genoeg om enige ongelowige te laat ineenkrimp van wanhoop. En wat van die dinge waaroor ons geen beheer het nie, soos die huidige klimaatskrisis wat dreig om die aarde te verswelg. Die oorstromings, orkane, droogtes, besoedeling, sinkgate wat die aarde insluk. Vroeër vanjaar was dit byvoorbeeld die oorstromings in KwaZulu-Natal, en die afgelope week weer Johannesburg! In Petrus se tyd was daar Nero, moontlik die wreedste monster in die geskiedenis. Die verskrikking en dood wat hy gesaai het was angswekkend!
Petrus het egter by Jesus geleer van die Lig. Wanneer hy hierdie brief in die skadu van die dood skryf, is hy jubelend, en propvol blydskap en hoop. Hy het daardie wonderbare lig in sy lewe, en beslis sal dit hom deur die pikdonker nag dra totdat die Blinkende Môrester met die dagbreek verskyn. Dit is die wonderlike dag wanneer Jesus in glansende lig terugkom vir Sy kinders.
Petrus se laaste woorde is dus nie vol smart, pyn, angs of selfs hooploosheid as hy wag op sy grusame marteldood nie, maar propvol hoop, verwagting en blydskap. Wat ‘n wonderlike inspirasie om elkeen van ons deur die donkerste tye te dra. Dit is dus nie nodig vir jou om in die donker voort te ploeter as die laste van die lewe ondraaglik begin raak nie. As die dood jou in die oë staar, of as alles net eenvoudig te veel raak vir jou, wéét dan dat alles hier op aarde net baie tydelik en verganklik is. Die wonderbare lig van die splinternuwe lewe saam met Jesus skyn alreeds helder!
Kom ons luister dus na Petrus se woorde en volg sy voorbeeld na!
Gebed:
Dankie vir hierdie bemoedigende boodskap van Petrus, Here. Hou my asseblief op U regte pad!