Eksodus 16:1-13
Voorsien God nog elke dag in my behoeftes? Of nee, dalk moet ek die vraag totaal anders vra: Vertrou ek God werklik om elke dag in my behoeftes te voorsien? In die gebed wat Jesus ons geleer het, vra ons: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” En nee, die gebed lui nie “Maak asseblief voorsiening vir die volgende ses maande vir ons brood” nie, maar ons vra slegs dat die Here vandag sal voorsien. Bedoel ons wat ons bid? Of is dit maar net ‘n rympie wat ons opsê omdat ons so geleer is of erger nog, uit bygeloof? Dit is baie kras gestel, is dit nie?
Maar die Israeliete moes leer van die Here se voorsiening elke dag. En dit het gepaard gegaan daarmee om gehoorsaamheid aan te leer.
Maar kom ons begin voor. Gister het ons gesien hoedat die Israeliete mor en kla en kerm, eers oor water en nou omdat hulle kos opgeraak het. Hulle dink terug aan die vleispotte van Egipte, en dan vergeet hulle gerieflikheidshalwe van die dwangarbeid en slawerny en die geniepsige sweep van die slawedrywers. Erger nog, hulle vergeet totaal van al die wonderdade van God die afgelope ruk. Hulle vergeet hoedat die Egiptenare met peste en plae en selfs die dood getref is terwyl hulle skotvry daarvan afgekom het. So pas het hulle die grootste wonderwerk in menseheugenis beleef toe die Here ‘n pad deur die see gemaak het, maar selfs dít het hulle vergeet. Al wat hulle nou in gedagte het, is kos!
Die Here het geluister na Israel se jeremiades, en dan sê Hy vir Moses dat Hy vir die volk kos sal laat reën uit die hemel - nie maar net eenmalig nie, maar elke dag! Maar hierdie sal ook weer dien om die volk te leer wat gehoorsaamheid beteken. Hulle moet die kos optel, maar hulle mag net genoeg vat vir een dag op ‘n slag. Maar dan hoor ons ook vir die eerste keer dat die Here ‘n rusdag vir hulle beplan. Op die sesde dag moet hulle dubbel soveel van die kos optel, want op die sewende dag sal daar niks wees nie want hulle moet dan rus.
Moses roep daarna die volk bymekaar en Moses maak dit vir hulle baie duidelik dat hierdie verset-aksie van hulle baie verkeerd is. As dit maar net verset was teen hom en Aäron, was dit niks, maar hulle het in opstand gekom teen die Here God! Maar ten spyte daarvan sal die Here hulle steeds versorg - “Vanaand sal julle besef dat dit die Here is wat julle uit Egipte bevry het!” sê Moses vir hulle.
“Wat gaan vanaand gebeur?” wonder die Israeliete, “Gaan God ons straf?”
Maar hulle het nooit kon droom op watter asemrowende wyse Hy sou optree nie. Moses het egter nog nie klaar gepraat nie - as hulle gedink het vanaand se gebeurtenis is groot, dan sou hulle môreoggend totaal stomgeslaan wees!
En dan, terwyl die hele volk voor Moses en Aäron staan, word hulle bewus van iets wat agter hulle besig is om te gebeur. As die volk omkyk, sien hulle hoe die wolk stadig voor hulle oë verander en ’n Goddelike glans kry. Stomgeslaan aanskou hulle die Almagtige teenwoordigheid van God helder en duidelik in die wolk. As daar nog enige twyfel was oor God, dan is dit nou hier finaal uit die weg geruim. Wie kan nog twyfel na so ‘n verskynsel!
Hierna is hulle uitmekaar - elkeen na sy staanplekkie toe. Hierdie verskynsel in die wolk is op almal se lippe. “Maar wat het Moses bedoel toe hy gesê het dat daar vanaand iets groot sou gebeur?” wonder hulle hardop.
En dan gebeur dit - daardie selfde aand nog, wanneer die skemer begin daal oor die woestyn. ‘n Paar kwartels vlieg die kamp van Israel binne. “Kos!” skree iemand, “Vang hulle!” ‘n Paar manne hardloop agter die plomp voëls aan - sulke vleis is beslis nie te versmaaie nie! Die volgende oomblik word die lug eintlik swart soos derduisende kwartels die kamp ingevlieg kom en tussen die Israeliete kom land. Waar sou kwartels vandaan kom in die dorre woestyn? En in sulke reuse swerms? Maar wie gee nou om - hulle is daar en hulle is beslis baie eetbaar. Hierdie is lekker vleis - baie beter as die taai vleis van Egipte se ou beeste! Die Israeliete is buite hulleself van opgewondenheid - dat so ‘n ou gelukkie hulle nou moes tref! Daardie aand brand die vreugdevure hoog - daar is kos in die laer, en oorgenoeg daarvan! “Dit is God wat voorsien het,” sê die wyse ou manne, en hulle is dankbaar.
Maar wat die volgende oggend sou gebeur, sou vir hulle nog ‘n groter raaisel wees. Maar daaroor gesels ons môre!
Gebed:
Here, dankie dat U voorsien. Ek wil vandag bid vir vandag se brood - leer my asseblief om daarmee tevrede te wees!