Johannes 19:1-16
Die grootste drama van alle tye ontvou reg voor Johannes se oë, ‘n drama wat hom diep in die binneste ruk. Daar is vier partye in hierdie aangrypende drama - nee vyf! In die hoofrol is Jesus, die Koning van die heelal. Hier lyk hy gladnie na enige soort heerser nie. Hy is verslae, uitgeput, in boeie, skynbaar totaal magteloos. Teenoor Hom staan een van die magtigste manne op aarde, die man wat totale beheer het oor die ganse Judea. Sy woord is bevel en hy kan maak en breek soos hy wil. Selfs Koning Herodus swig voor sy blaf! Maar ook hiér is alles nie wat dit op die oog af lyk nie, want onder daardie klipharde dop skuil ‘n bang en bitter onseker mens.
Die derde karakter is ‘n groep vloekende, spottende, wrede, klipharde, bang-vir-niks soldate. Hulle doen wat hulle moet, en hoe meer wreedheid hulle in hulle dagtaak kan insit, hoe meer geniet hulle dit. Maar selfs die bevelvoerder onder hulle het ‘n hart iewers onder al daardie pantser.
Die vierde is ‘n groep vrome, Godvresende, wetsonderhoudende manne wat op geestelike vlak die volk van Israel lei soos ‘n herder sy skape lei. Dag-vir-dag is hulle in die tempel en in sinagoges, waar hulle die mense leer van God. Onder daardie skitterwit kleed van vroomheid skuil egter ‘n vuil-swart gewaad van haat, wraaksug, moord en opgekropte woede.
En die Vyfde Speler? God Almagtig! Met een enkele woord kan Hy al hierdie spelers verdelg, in rook laat opgaan. Nogtans doen Hy dit nie, want die grootste Verlossingsplan van alle tye moet binne enkele ure uitgevoer word. Hy laat dus toe dat elke speler sy mag, haat, wraak en wreedheid uitleef, want alleen só kan God se reddingsplan slaag.
Op Pilatus se bevel word Jesus eers gegésel. Elke slag van die gésel en elke angsvolle kreet van sy Meester, skeur deur Johannes se wese. Trane stroom oor sy wange as hy die geluide hoor, want hy weet dat stukke rou vleis uit my Meester se rug geruk word, elke keer as daardie sweep met die loodballetjies Hom tref. Die verskriklike pyn wat Hy moet verduur! Dis onmenslik, verskriklik wreed! Oor en oor en oor tref die hale Hom. Johannes hoor die soldate lag en spot en vloek. En omdat Hy nou kwansuis ‘n Koning is, moet Hy mos ‘n kroon dra. Johannes sien hoedat ‘n kroon van giftige dorings in sy Meester se kopvel inboor. Daardie dorings brand ongenadiglik en laat die bloed deur Sy oë stroom. Ook die purper mantel wat spot met Sy koningskap, word Hom nie gespaar nie.
Die magteloosheid en besluiteloosheid van die magtige, ongenaakbare Goewerneur Pilatus, word al duideliker. Hy het gedink dat hy al die mag in sy hande het, maar nou kom hy agter dat hy in die moeilikheid is met wát hy ookal besluit. Sy hart sê baie duidelik vir hom dat hierdie Man onskuldig is, maar dan is daar die Jode en die Keiser, in wie se slegte boekies hy beslis nie wil kom nie. Hy probeer na alle kante toe om uit die tameletjie te kom, maar hy raak net meer en meer verstrengel in die taai gemors. En dan is daar nog hierdie voosgeslane, bebloede Man hier voor hom wat ewe kalm vir hom wil wysmaak dat hy, die magtige Pontius Pilatus, absoluut géén gesag oor Hom het nie, en dat hy alleen kan doen wat hy doen omdat God dit toelaat. Watter vermetelheid! Maar sê nou net dit is waar...? Weereens probeer hy hom hier uitwurm, maar hy is magteloos.
Johannes krimp inmekaar as hy die Jode bloedstollend hoor gil: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”, daar voor Pilatus se weelderige paleis. “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Johannes kan nie glo dat dit dieselfde mense is wat ‘n paar dae gelede nog gesing het: “Hosanna! Hosanna!” nie.
Dit is twaalfuur die middag. ‘n Lang, uitmergelende nag en dag van marteling, beskuldigings, hofsake ens. ens. druk alreeds bitter swaar op die bebloede skouers van Jesus. Verwytende haatgille weergalm oor die plein: “Vat Hom weg! Vat Hom weg! Kruisig Hom!” Op Pilatus se vraag of hy dan nou hulle Koning moet kruisig, kom die skokkende antwoord van die priesterhoofde: “Ons het nie ‘n koning nie; ons het net die keiser.” Hulle kies ‘n Goddelose keiser wat hulle met ‘n passie haat, bo die heilige Hemelkoning. Skokkend! Onverstaanbaar! En so sny daardie Jode hulleself finaal van die Koning van die Jode, en so ook van God af.
Sou dit ooit moontlik wees vir God om hierdie verskriklike daad van hulle te vergewe? “Nooit in der ewigheid nie!” hoor ek ‘n koor van stemme opgaan. Nie baie lank daarna nie, stap een van die voorbokke, ’n haatlike Fariseër, na Damaskus om nóg Christene te vervolg. Daar ontmoet Saulus van Tarsus die opgestane Jesus, en word hy die grootste sendeling ooit. God se vergifnis vir hom was volkome! Sit jy dalk met sonde wat jy dink onvergeeflik is? As Hy daardie verskriklike sonde kon vergewe - niemand se sonde is te groot vir Hom nie, ook nie joune nie. Bring dit vandag nog na Hom!
Gebed:
Here, dankie dat U bereid is om selfs die grootste sonde te vergewe.