Inleiding tot Titus
As ek vandag die algemene toestand van Suid-Afrika moet beskryf, dan is dit seker maar ‘n baie droewige prentjie. Ekonomiese agteruitgang, verlies van kundiges na die buiteland, werkloosheid, armoede, lae produktiwiteit, sosiale onverdraagsaamheid, korrupsie, misdaad, moord, verkragtings, drankmisbruik, dwelmverslawing, transitoroof en onsekerheid. Dan was daar die afgelope maande se onwettige grondbesettings en gewelddadige stakings wat oral opduik, vragmotors en busse wat aan die brand gesteek word en geboue wat vernietig word. Al hierdie dinge dra by tot ‘n honger na iets meer konkreet in die lewe. Hoe harder die polisiemag probeer om misdaad te bekamp, hoe erger raak dit. Boonop werk die polisiemanne dikwels saam met misdadigers, kop in een mus met misdaad! Die morele peil van die samelewing raak al hoe laer en laer. ‘n Bleek prentjie, inderdaad!
Op die eiland Kreta, in die eerste eeu na Christus word dieselfde soort van omstandighede beleef as wat ons vandag in Suid Afrika het. Inderdaad was Kreta, net soos Suid-Afrika, ’n land met ’n baie roemryke geskiedenis en pragtige potensiaal. Die beskawing van Kreta het oor ‘n lang tydperk, van 3000 tot 1550 vC ‘n hoogbloei beleef in welvarendheid, kuns, kultuur en alles wat mooi en goed is. Terloops, die Filistyne van die Ou Testament was waarskynlik van Kreta afkomstig! Kreta se boukuns was asemrowend, en die regeerders het in manjifieke paleise gewoon. Een hiervan, die paleis van Knossos, word as een van die sewe wonders van die antieke wêreld beskou. Die strate was selfs in sommige van die klein gehuggies ook geplavei. Die Kretensers se kuns, en veral pottebakkerskuns, was meesterstukke, en is tot vandag toe nog wêreldberoemd. Kreta kan met reg beskou word as die bakermat van Griekse kultuur. En dan weet ons natuurlik dat die Westerse beskawing uiteindelik uit die Griekse kultuur gebore is. Dus kan ons met reg sê dat die Westerse beskawing waarskynlik sy geboorte in Kreta gekry het.
Maar helaas! Hierdie hoogbloei van Kreta kon nie volgehou word nie en sy meer onlangse verlede het vasgevang geraak in ’n spiraal van geweld en agteruitgang. Aardbewings en vulkaniese uitbarstings het die land ‘n ernstige knou gegee. Die Kretense het probeer opstaan uit die puin, maar hoe harder hulle probeer het, hoe meer het hulle agteruit geboer. Kansvat, bedrog en diefstal was kitsresepte om uit die gemors te kom, maar die resultate was, nodeloos om te sê, gedoem. In 72 vC het die Kretense skepe byvoorbeeld ’n Romeinse vloot met kosvoorrade aangeval en geplunder, maar Rome stuur ’n strafekspedisie wat Kreta inval en verwoes.
Titus was aangestel as ‘n tydelike leraar in Kreta te midde van al hierdie gemors. Die Kreta waar Titus hom dus bevind, was iets soos die middestad van Johannesburg of Durban. Daar was ’n roemryke verlede, maar ’n desperate, verwaarloosde hede. Ek onthou Durban middestad as ‘n heerlike kuierplek, waar ons saans rustig kon rondloop en winkelvensters kyk, baie jare gelede. Dieselfde het gegeld vir Hillbrow. Maar vandag? Sal jy dit steeds kan waag?
Titus was van Griekse afkoms. Hy kon dus die mense van Kreta se taal, kultuur en gewoontes baie goed verstaan. Nadat hy onder Paulus se bediening tot bekering gekom het, het hy baie nou saamgewerk met Paulus in gemeentes soos Korinte en Dalmasië. Hy vergesel ook vir Paulus op sy belangrike reis na Jerusalem vir daardie eerste berugte “Sinodesitting.” Wanneer Paulus oor Titus skryf, blyk dit dat hy ’n baie taktvolle persoon was wat veral in die probleemgemeentes soos Korinte en Kreta ingespan kon word. In Paulus se tweede brief aan die Korintiërs (2 Kor. 12:18) gee hy ‘n pragtige getuigskrif oor Titus: “Handel hy en ek nie in dieselfde gees nie, en loop ons nie dieselfde spore nie?” Sou dit nie pragtig wees as dieselfde getuienis van my en jou gelewer kon word nie? Deur die spore wat ons in die Titusbrief kry, kan ek en jy inderdaad ook in dieselfde gees as Paulus optree.
Hierdie brief van Paulus is spesifiek persoonlik aan Titus geskryf. Die fokus van die brief is egter eerder op die besondere omstandighede en roeping van die eerste-eeuse gelowiges op die eiland Kreta. Deur die oë van Paulus en Titus gaan daar vir ons ’n venster oop na die leefwêreld van die Christene van daardie tyd. As ek en jy die moeite doen om deur daardie venster te loer, sien ons dat ons deur die boodskap van die brief ook ons eie geestelike en sosiale lewe reg kan verstaan. Die wonder is dat die Evangelie van God se genade ook na die mense van Kreta gekom het, al was hulle lewe in so ‘n gemors. Maar presies dieselfde geld vir ons hier in Suid-Arika, en waarskynlik ook vir baie ander lande in die wêreld! Hierdie Evangelie wys mense die uitkoms uit verslawing aan eie begeertes na ware geestelike heropbou. En dit is vandag in Suid Afrika steeds nét so relevant soos wat dit was in Titus se tyd.
Gebed:
Here, wek asseblief in my hart ook ‘n honger na ware geestelike vernuwing.