Markus 6:30-44
Sarie, ‘n goeie vriendin van ons, is betrokke by Campus Crusade for Christ. ‘n Paar jaar gelede het sy en ‘n paar vriende op ‘n uitreik van die Masedonië Projek na Turkye gegaan. Hulle doel was om Bybels en Christelike lektuur te versprei in ‘n land waar dit verbode is.
‘n Maklike uitreik was dit beslis nie! Hulle was die hele tyd dopgehou met valkoë, en hulle het nie durf kontak maak met enige van die inwoners nie, want Christene het kans gestaan om wreed vervolg te word. Daar was vir die groepie baie benoude oomblikke toe ‘n man van die gereg hulle trompop geloop het en wou weet wat in hulle groot sak was. Die sak was propvol Bybels! Na ‘n niksseggende antwoord besluit hy om nie eers in die sak te kyk nie. Die spanning het die hele tyd ondraaglik hoog geloop, en hulle moes ure in gebed spandeer vir krag om hulle gevaarlike taak af te handel. Na hulle terugkeer van hulle spanningvolle reis, was hulle uitgeput. Maar die wete dat die Evangelie talle nuwe harte bereik het, was oorgenoeg!
Jesus se dissipels het aan die einde gekom van hulle uitstappie, waar hulle dít wat Jesus hulle geleer het prakties moes gaan toepas. Soos met Sarie se uitstappie, was hierdie een ook géén piekniek nie. Maar as hulle gedink het dat hulle nou ‘n bietjie kon uitrus, het hulle dit mis gehad, want by Jesus was die ark oop. Mense het die hele tyd na Hom gestroom, en die manne moes net bontstaan om die skare te beheer. Daar was nie eers tyd om te eet nie!
Jesus het besluit dat hulle nou genoeg gehad het, en toe klim hulle in ‘n skuit en vaar na ‘n stil plekkie om ‘n bietjie asem te skep. Maar die mense het klaar gesien wat hulle plan was, en toe hulle by die afgeleë plek kom, het daar alreeds ‘n klomp mense vir hulle gewag. Verder het hulle ook die stroom nuuskieriges gesien wat van ver af aangehardloop gekom het. Die nuus van Jesus het soos ‘n veldbrand versprei. Van hulle blaaskansie het daar dadels gekom!
Jesus het Sy oog laat gaan oor die see van honger gesigte, en Hy het hulle innig jammer gekry. Hulle het kompleet gelyk soos ‘n trop verdwaalde skape sonder ‘n herder. Sonder om eers behoorlik asem te skep, het Hy hulle begin leer, terwyl die skare al groter en groter geword het.
Die twaalf manne praat saggies onder mekaar: “Manne, ek is half bekommerd: dit begin al baie laat word, en hier sit ons ver van enige dorp af. Hierdie mense raak honger, wat gaan ons doen?”
“Kom ons stuur iemand dorp toe om brood te koop.”
“Moenie laf wees nie! Hier is duisende mense! Ek het netnou probeer tel, en is maklik 5000 mans alleen! Dan het ek nog nie eers die vrouens en kinders getel nie. Ek skat dat hier niks minder as tienduisend mense kan wees nie. Waar dink jy miskien gaan ons geld kry om vir almal kos te koop?”
Dan word een afgevaardig om Jesus in Sy prediking te onderbreek: “Meester, die mense moet eet....”
Jesus glimlag vir hom: “Nou dan moet julle manne vir hulle iets gee om te eet!”
Hy keer terug na die manne: “Die Meester sê óns moet vir hulle kos gee! Hoe verwag Hy dat ons so ‘n klomp mense moet voer? Hy het gesê ons moet kyk wat hier is. Wie dink Hy miskien gaan hier sit met mandjiesvol kos?”
‘n Seuntjie hoor hulle gesprek: “Ek het vyf garsbroodjies en twee gedroogde vissies wat Ma my gegee het vir padkos. Julle kan dit kry!”
Half spottend vat hulle dit vir Jesus. Tot hulle groot verbasing is die Meester tevrede met hulle vonds. Hy neem dit by hulle, kyk op na die hemel en vra die seën. Dan begin Jesus die brode en vissies in stukke breek en gee dit vir die dissipels om onder die mense uit te deel. Elkeen by wie die brood kom, breek vir hom ‘n stuk af, en dan gee hy die res vir sy buurman. En so versprei die brood en vis deur die hele massa, totdat almal genoeg gehad het.
En dan volg ‘n ou Joodse tradisie: om niks te vermors nie. Al die oorskiet word bymekaargemaak, twaalf mandjies vol!
Die dissipels het pas teruggekom van hulle baie suksesvolle praktiese uitreik waar hulle sélf mense gesond kon maak en selfs duiwels kon uitdryf. Maar dan lyk dit asof hulle hopeloos misluk wanneer Jesus hulle ‘n “eenvoudige” opdrag gee. Ten spyte van hulle onbeholpenheid, gebruik Jesus hulle egter steeds om hierdie wonderwerk te laat gebeur. Die boodskap hier is natuurlik dat Jesus, die Seun in die middelpunt van die wonderwerk staan. Ons mag dit nooit vergeet nie.
Vir my is daar egter ook ‘n ander boodskap wat duidelik hier uitkom. Soos wat elke persoon die brood geneem het, het hy vir homself ‘n stuk afgebreek en die res aangestuur. Op dieselfde wyse het elke gelowige ‘n “stuk brood” ontvang, die brood van die lewe. Dit het gebeur toe Jesus se liggaam gebreek is soos ’n stuk brood om te betaal vir ons versoening met God. Die vraag is, wat ons daarmee maak? Hou ons daardie lewensbrood wat Jesus ons gegee het vir onsself? Dan is ons mos baie selfsugtig! Nes daardie mense dit aangestuur het, is dit elke gelowige se taak en plig om ook die lewensbrood wat ons kry met ander te deel. Die groot wonder is dat daardie brood óók nooit opraak nie! Dus kan ons maar oorvloedig uitdeel! Daar sal altyd nog genoeg oorbly.
Gebed:
Here, gee my asseblief die wil en krag en visie om die lewensbrood wat U my gegee het vryelik met ander te deel.