Korrupsie

25 January, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Korrupsie

Miga 6:9-16

Video - Oudio

As jy die nuus aanskakel, hoor jy net “Korrupsie!” En as jy die koerant oopmaak, lees jy net “Korrupsie!” Dit het ‘n algemene woord geword in ons samelewing. In die parlement word dit ten sterkste veroordeel, en koerante skryf giftige berigte daaroor. In Amerika skreeu Donald Trump: “Korrupsie!” met die verkiesingsuitslae. En selfs in die hoogste raad van ons land, die parlement, broei korrupsie soos ‘n stinkende rottingstenk. En omdat dit die parlement besoedel het, sypel dit deur na alle vlakke van die samelewing. Korrupsie is aan die orde van die dag in die meeste groot maatskappye - kort-kort is die een of ander invloedryke sakeman in die nuus oor korrupsie. Reuse maatskappye word met miljoene rande beboet oor sogenaamde prysvasstelling - iets wat die arm man tref waar dit die seerste maak, soos die prys van brood.

Miga praat hard en reguit oor hierdie saak, en hy noem dit by die naam. Korrupsie is niks anders nie as blatante roof! Hy sê dat die winkelier aspris sy maatlyn verander het, sodat wanneer hy ‘n meter materiaal uitmeet, jy eintlik net 90cm kry. Dan is dit mos diefstal! Dieselfde word gedoen met die maatbeker, sodat jy slegs 900ml melk kry as jy betaal vir ‘n volle liter. En jou “kilogram” koring weeg eintlik heelwat minder.

Korrupsie beteken vandag dikwels om ‘n regeringskontrak aan te gaan teen ‘n baie hoër prys as wat dit veronderstel is om te wees, omdat jy omkoopgeld gekry het. Die belastingbetaler is dan die een wat daaronder ly.

Maar ons is baie vinnig om die vinger te wys na die regeringsamptenare, en dan vergeet ons die korrupsie in ons eie lewens. Om iemand anders in te doen, selfs op klein skaal, is steeds korrupsie. Om iemand te kul uit ‘n paar sente uit, is ook korrupsie. Inderdaad praat Miga met die volk, maar hy praat terselfdertyd ook met jou en my.

Die probleem is dat gelowiges dikwels die kerk van die werk wil skei. Sondag gaan ons kerk toe, en dan is ons engeltjies, sê ons die mooiste dinge en filosofeer ons oor die waarheid en liefde en jou houding teenoor jou naaste. Maar dit is vir Sondag. Kom Maandag, dan word Sondag skoon vergeet, want hy is mos nou verby. En dan is dit maar weer die ou ekke wat net aan myself dink, en nie omgee hoe ek ‘n ander verneuk om my wins te maak nie. Nie omgee hoe ek my medemens uitbuit sodat ek goed kan lewe nie!

Inderdaad is dieselfde God wat ons Sondag aanbid, ook God waar ons sakekontrakte opstel of waar handelstransaksies beklink word. En dieselfde God is ook teenwoordig waar ons werkers se salarisse betaal. En natuurlik is Hy ook teenwoordig waar ons winsgrense vasstel. Of daar waar ek my belastingopgawe invul.

Maar korrupsie kom die een of ander tyd tot ‘n einde, en gewoonlik is dit nie ‘n aangename einde nie. Jy sal die een of ander tyd uitgevang word, en so wreek korrupsie homself. ‘n Land wat bestuur word deur ‘n korrupte regering kom gewoonlik verarm anderkant uit. Sy ekonomie word vernietig. Kyk maar wat het met Zimbabwe gebeur. En wanneer dit eers gebeur, word daardie land ‘n maklike prooi vir sy vyande want dan het hy net eenvoudig nie meer die infrastruktuur om homself te verdedig nie. Hy kan sy politieke onafhanklikheid verloor en ‘n internasionale skande word.

Is daar ‘n antwoord vir hierdie soort situasie? Ek en jy as eenvoudige gelowiges het miskien nie die mag om grootskaalse korrupsie teë te werk nie, maar ons kan ten minste by onsself begin. Die groot geheim is: Leef liefde uit. Jesus het dit opgesom dat ons God moet liefhê en ook ons naaste. Paulus het hierdie begrip wyd omskryf, veral in 1 Kor. 13, waar hy in helder woorde vertel wat ware liefde beteken. In die tien gebooie word jou liefde teenoor jou naaste helder en duidelik beskryf.

Wanneer ons hierdie Bybelse beginsels toepas in ons lewe, dan is daar net eenvoudig nie plek vir korrupsie nie. En dit beteken geensins om “wetties” te lewe nie, maar bloot die basiese beginsels van liefde toe te pas. Nie ‘n negatiewe: “Jy mag nie steel nie” maar ‘n positiewe: respekteer jou naaste se eiendom. Doen jy dit nie, gaan jou naaste skade ly, en dit is baie beslis liefdeloos. Wees eerlik in saketransaksies, anders kan dit jou medemense dalk groot skade berokken, en dan het jy beslis liefdeloos opgetree!

Ons mag nooit ooit vergeet nie van die groot, onbaatsugtige liefde wat Jesus ons bewys het nie. Die minste wat ons kan doen om dankie te sê daarvoor is om sélf liefde uit te leef teenoor ons naaste, op alle vlakke van die lewe - ook in die handelswêreld.

Gebed:

Here, lei my om in alle vlakke van my lewe sonder korrupsie te lewe, en my liefde ten volle uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026