Konings Wik, maar God Beskik

8 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Konings Wik, maar God Beskik

Daniël 11:2-4

VIDEO | LUISTER

Op my boekrak staan ‘n baie interessante boek, geskryf deur Generaal J C Kemp: “Vir Vryheid en Reg”. Dit handel oor die Anglo-Boere Oorlog. Hierdie generaal het gepoog om ‘n baie akkurate geskiedenis te skryf oor die oorlog wat totaal die verloop van Suid-Afrika se bestaan verander het. Wat egter baie interessant is, is die Britse koerantberigte wat hy deurentyd in die boek aanhaal, wat ‘n totaal ander prentjie skets as wat die generaal teken. Die feite wat weergegee word, verskil hemelsbreed van mekaar. Dit bring ‘n mens by die uitleg van geskiedenis - twee mense wat na presies dieselfde stukkie geskiedenis kyk, sal dit totaal verskillend oordra, afhangende van uit watter oogpunt daarna gekyk word.

Juis om hierdie rede is die volgende twee hoofstukke van Daniël eintlik baie moeilike hoofstukke om uit te lê, want dit gaan hier oor wêreldgeskiedenis wat die engel aan Daniël openbaar. Daar is egter nie datums of name bygevoeg nie, dus kan ons nie altyd met sekerheid sê dat dit op hierdie of daardie koning van toepassing is nie. Dit is wél gemik op die koninkryke van die paar-honderd-jaar tydperk na Daniël, maar dit kan net sowel ook gelees word in ons moderne opset - afhangende van uit watter oogpunt jy dit beskou. Hierdie gedagte kan ons dalk opsom in die woorde van Dan. 12:4: “Baie mense sal oor die gebeurtenisse navraag doen om begrip daarvan te probeer kry.” Ja, selfs ou Daniël het nie eers mooi verstaan oor wie presies dit gaan nie - lees maar Dan, 12:8.

Wanneer ons hierdie twee hoofstukke lees, moet ons nie onsself blind staar teen die koue, afgryslike feite van die geskiedenis nie. Ons moet ‘n bietjie dieper kyk, en dan sien ons dat die geskiedenis ‘n doel het. Dit is nie ‘n grillerige mengsel van noodlottighede en toevallighede nie, maar dit het ’n onstuitbare gang en ‘n onbuigbare vaste koers. Uit die koue feite leer jy niks, maar wanneer jy na die geskiedenis kyk deur die bril van God se Woord, dan word dit vir jou ‘n openbaring. Dan sien jy dat hierdie afgryslike geskiedenis uitloop op God se Verlossing. Hoofstuk 11 van Daniël vertel die geskiedenis tot met die dood van Antiochus Epifanes, die skrikwekkende, goddelose kneg van die duiwel. En daarna volg hoofstuk 12 wat die wonderlike troos gee van die verlossingswerk van God.

In ‘n paar verse skets Daniël vir ons die wêreldgeskiedenis in ‘n neutedop. Ontleed ons wat die engel sê, dan sien ons die “vierde koning” wat uitstaan bo die ander. Hierdie koning kan ons moontlik identifiseer as Xerxes, ‘n Persiese koning wat ontsaglik ryk was. Maar dit is sy leër wat ‘n mens se asem skoon wegslaan. Hy het oor ‘n tydperk van vier jaar vir hom soldate gewerf oor sy hele uitgestrekte koninkryk, en uiteindelik ‘n enorme leër saamgestel van twee en ‘n half miljoen manskappe. Hoe hy dit kon regkry om so ‘n verskriklike klomp honger soldate kos te gee, en boonop te beheer, gaan ‘n mens se verstand te bowe. Aan die Westelike front was daar ‘n Griekse reus aan die ontwikkel, en Xerxes het sy kolossale weermag teen die Grieke laat optrek. Daniël noem nie eers wat die uitslag was nie, want hierdie titaniese onderneming het absoluut niks opgelewer nie. Na hulle nederlaag by Salamis, was Persië se wêreldrol iets van die verlede. Die “vierde koning” kon egter ook gewys het op Darius III, die laaste van tien Persiese konings wat oor ‘n tydpek van 220 jaar regeer het. Wie presies bedoel was, is van minder belang, want weereens gaan dit nie oor die persoon nie, maar oor God se almag en Sy raadsplan.

Die volgende bergtop wat die profeet sien uitsteek in die geskiedenis, is Alexander die Grote. Soos ons in vorige dagstukkies gesien het, het hierdie Griek die ganse bekende wêreld oorrompel in sy kort drie-en-dertig jaar wat hom op aarde gegun was. Hy het gemaak net wat hy wou, en het koninkryk na koninkryk ingepalm in sy gierige, magshonger oorlogs-vraatsug. En toe laat God hom sterf toe hy in die fleur van sy lewe was - ‘n drie-en-dertigjarige jongman.. Nie een van sy twee kinders erf sy wêreldryk nie - albei word vermoor. Twaalf generaals baklei om die beheer van die wêreld oor te neem, en uiteindelik slaag vier van hulle daarin om die ryk tussen hulle vier te verdeel. Die groot mag van Alexander is gebreek, verdeel, afgewater en verflou…...

Die afgelope klompie jare het ons keer op keer gesien hoedat wêreldreuse skielik tot ‘n val kom. Banke en instansies met enorme bates en kapitaal het inmekaar getuimel toe die wêreldekonomie skielik omswaai en hulle ‘n klap gee. Skatryk mense het oornag brandarm geword toe die effektebeurs in duie stort, soos 1987 se Swart Maandag, toe die effektebeurs met 22% gedaal het in een dag. In 2020 word die ganse wêreld op sy knieë gedwing deur Covid-19. 11 Maart 2011 tref die tsoenami Japan en eis 20’000 lewens. Almal onthou nog die 11 September ramp toe die reus onder die geboue binne minute in ‘n puinhoop verander. Die mens raak dikwels verwaand, en sy mags- en geldsug dryf hom tot groot hoogtes, sodat hy hom bo God verhef. Hy hou egter nie rekening daarmee dat God steeds almagtig is, en dat Hy die Een is wat die geskiedenis bepaal nie!

Gebed:

Here, hou my asseblief nederig, en herinner my elke oomblik daaraan dat ek so baie afhanklik is van U alleen!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026