Daniël 11:21-30
Gister het ons gesien hoedat al die intriges tot ‘n hoogtepunt lei totdat die berugte Antiochus IV Epifanes uiteindelik baie selfvoldaan op die troon sit. Hierdie is nie maar net geskiedenis nie, maar die volk van God het direk hierby belang! Epifanes sit op die troon, maar hy kan vir geen oomblik stilsit nie, want sy magsug brand hom. Daar ver in die suide is ‘n baie begeerlike land wat hy brand om te oorwin - Egipte. Die ongeluk is dat sy eie nefie, die 18-jarige japsnoet Ptolomeüs VI, sy suster Cleopatra se seun daar regeer. Egipte het ‘n gedugte leër gehad - baie sterker as dié van Sirië, maar die slinkse Antiochus het nogtans (met die hulp van ’n bietjie verraad) geseëvier. Die gevolg van die nederlaag vir Egipte was dat sy jeugdige koning in ballingskap weggestuur is, en sy broer, Ptolomeüs VII koning gemaak is.
Antiochus was so slinks soos die houtjie van die galg, en hy het die jong balling-koning uitgenooi om te kom gesels. Terwyl die wyn waarskynlik heerlik gevloei het, vertel Antiochus vir die mannetjie dat hy hom graag weer op die troon sou wou sien, want dis waar hy hoort. Listig smeer hy hom heuning om die mond, maar sy éintlike doel was om volle beheer oor Egipte met al sy fabelagtige rykdomme te verkry. Sluheid en bedrog was aan die orde van die dag, en selfs onder bloedfamilie was daar ’n gedurige gekonkel en gerugstekery. Maar is dit nie presies wat vandag aan die gang is nie? Rondom die konferensietafels van die ganse wêreld (ook Suid-Afrika) floreer valse diplomasie. Kyk maar watter groot rol omkoopgeld in ons eie regering speel - selfs onder die hoogste leiers!
Antiochus het met ‘n groot buit van Egipte af teruggekeer na sy land. Op sy pad was die klein landjie, Palestina, waar die volk van God woon. Terwyl sy troepe daar deurtrek hoor hy van ‘n klein opstandjie daar, en hy besluit om hierdie klomp Jode ‘n les te leer. Die gevolg was ‘n bloedbad in Jerusalem. Die tempel word ontheilig, en die altaar, goue kandelare en tafel met toonbrode word geroof, saam met allerhande kosbaarhede in die tempel. Alles word as buit weggevoer toe hy ‘n paar dae later vertrek na Sirië. Intussen moet hy hoor dat al sy gekonkel niks opgelewer het nie, want die twee Ptolomeüs broers het vrede gemaak!
Twee jaar later trek Antiochus wéér af na Egipte om ‘n verdere veldtog te loods. Hierdie slag het hy hom egter lelik misgis, want hy het nie rekening gehou met die Romeine nie. Rome het ‘n afvaardiging gestuur na Egipte met die eis dat Antiochus onmiddellik die verowerde gebied aan Egipte moet teruggee. Antiochus laat hom natuurlik nie afskrik deur ‘n geblaf nie, maar die nors Romeinse gesant, Laenas konfronteer hom. Hy loop Antiochus trompop en trek ‘n kring in die stof rondom die verbouereerde koning. Toe knor hy: “Sê my wat ek vir die senaat moet antwoord voordat jy uit hierdie kring uit loop!” Antiochus het hom asvaal geskrik en stert tussen die bene die aftog geblaas. Hy was woedend oor hierdie vernedering en dan gaan haal hy sy woede uit op die arme Joodse volk wat net mooi op sy pad terug was. Maar daaroor gesels ons DV more.
Deurgaans lees ons in hierdie Skrifgedeelte woorde soos “op die bestemde tyd” en “hulle einde is klaar bepaal”. Ons het dit al by herhaling gesien dat hierdie dinge nie maar gebeur nie, maar dat God bepaal wanneer dit mag gebeur en dat God die finale oordeel oor hulle sou fel. Al die gebeure loop op na ‘n geweldige, ongekende klimaks, en die middelpunt van dit alles is die klein, niksseggende landjie wat elke keer op Antiochus sowel as die Romeine se pad is. Die grootste verlossingsplan van alle tye was besig om vorm aan te neem, en God was besig om die grootste en sterkste nasies op aarde te gebruik as blote pionne om Sy groot doel te bereik.
Vandag kan ons die verloop van die verhaal sien, en maar net in verwondering staan oor hoe God alles laat saamloop het. Die tragedie is egter dat ons elke ding wat gebeur vandag bevraagteken. “Waarom laat God toe dat Israel volksmoord pleeg? Kan Hy nie maar ingryp nie? Hoor God ooit ons ernstige gebede?” Uit die geskiedenis wat ons in Daniël lees, moet dit vir ons duidelik wees dat God vandag steeds nét so in beheer is van alle gebeure as in Daniël se tyd. Kyk ons maar net na die geheelprentjie wat vandag aan die gebeur is, dan kan ons sien dat alles na ‘n klimaks loop teen ‘n skrikwekkende tempo - die tweede groot klimaks in die geskiedenis van die wêreld. Die eerste het tweeduisend jaar gelede tot uitbarsting gekom met Jesus se koms as Verlosser-Baba. Die tweede wat sekerlik nou op hande is, is die wederkoms van Jesus, wanneer Hy as Verlosser-Koning in volle glorie kom om te kom haal, dié wat aan Hom behoort.
Maranatha! Kom Here Jesus, kom gou!
Gebed:
Almagtige God, ons aanbid U vanoggend as die Een wat oor alles beskik!