Kleipotte en Sosiale Media

5 April, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Kleipotte en Sosiale Media

2 Timoteus 2:19-21

VIDEO | OUDIO

Ons het ’n paar dae gelede gepraat van daardie boodskappies op sosiale media wat so op jou emosies wil speel en jou skuldig wil laat voel as jy dit nie aanstuur nie. Soms is daar egter tóg Skrifgefundeerde en opbouende gedeeltes uit die boodskappies wat jy met ander kan deel. Stuur dan slegs daardie deel aan want sodoende verneuk jy die duiwel! Los egter maar liewer die soetsappige rympies wat jou net goed laat voel weg!

In ‘n sekere sin is hierdie sosiale media boodskappies soos kleipotte. My Mosbolletjie was nog altyd baie lief om kleipotte te koop by die stalletjies langs die pad en dan beland hulle êrens in ons tuin. Daar is kleipotte wat nou al jare se wind en weer deurstaan het en steeds mooi lyk. Maar ander het net ‘n maand of wat gehou en toe begin verkrummel totdat hulle uiteindelik stuk-stuk deur die miere weggedra was. Toets daardie beriggie, of hy werklik soos ‘n goedgebakte kleipot is wat jare lank die boodskap sal uitdra. Ek kry soms WhatsApp boodskappies of e-pos wat ek herken as iets wat ek self al jare gelede uitgestuur het. Dan wonder ek hoeveel duisende mense dit dalk al gelees en versterk geraak het daardeur!

Dis presies ook waaroor Paulus skryf in vanoggend se Skrifgedeelte. Nee, dit was beslis nie ‘n WhatsApp nie want Paulus het nie ‘n selfoon in die tronk gehad nie! Hierdie gedeelte handel oor die kwaliteit van jou lewenswandel. Hy beskryf die dinge wat jy in jou huis kry. Party is sommer alledaagse kleipotte en ander weer pragtige silwer eetgerei. Daar is dinge van goedkoop hout maar ook mooi goeters van suiwer goud. Daar is plastiekborde wat jy koop teen tiensent-’n-dosyn en héél bo op die rak is die borde van fyn porselein uitgestal vir "highdays & holidays!"

“Die Here ken dié wat aan Hom behoort,” skryf Paulus in vers 19. Natúúrlik weet Hy ook dat ons nie almal dieselfde is nie en Hy wil ons gebruik volgens ons eie vaardigheid. Hý is immers die Een wat ons verskillende talente gegee het. Die fyn porseleinborde word slegs afgestof vir ‘n maaltyd saam met belangrike gaste. Die plastiekborde daarenteen, word weer uitgehaal wanneer ons vir ‘n heerlike piekniek iewers in die veld gaan. Hulle is dus ewe belangrik, elkeen op sy eie terrein. Jy gaan mos tog nie porseleinborde op ‘n piekniek gebruik nie en vir grênd gaste gaan jy nie plêstiekborde voorsit nie!

Moenie jouself as minderwaardig ag, net omdat jy dalk nié sulke gesofistikeerde talente gekry het as iemand anders nie. Die ou wat die vloere vee se taak is nét so belangrik as dié van die prediker. Stel jou voor dat jy Sondagoggend in die pragtige kerkgebou instap, jou hart ingestel op aanbidding en lofsang en ‘n boodskap van die Here. Maar sommer met die intrapslag staan die stofdampe op die vloer omdat dit weke laas gevee is. Die kerkbank is stowwerig en jou deftige klere smeer vuil. Teen die plafon hang stokou spinnerakke en alles is sommer vuil. Daardie erediens gaan vir jou ‘n totale mislukking wees, want jy gaan die hele tyd sit en tob oor die vloereveër wat nooit sy werk gedoen het nie!

Dit laat my dink aan die storietjie van Ferdinand Deist oor die pomporrel konsert, waar die orrelis neergesien het op die koster wat die orrel moes pomp. En toe hou die koster op om te pomp, en die orreluitvoering sis tot ‘n stille einde. Eers toe die orrelis die nodige erkenning gegee het aan die koster en erken dat dit gesamentlik húlle konsert was, kon die uitvoering voortgaan.

Ja elkeen van ons is belangrik, maak nie saak hoe gering jou bydraetjie lyk nie. Daar is egter ook ‘n ander element wat bykom. As ons weer kyk na die kleipotte, sien ons dat sekere kansvatters wat ‘n vinnige pennie wil maak, sommer daar langs die pad uit ‘n moddergat klei gaan haal om potte mee te maak. Dáárdie is die potte wat kort voor lank mierekos word! Hulle is deurtrek van alle onsuiwerhede en selfs al is hulle goed gebak, bly hulle bros en breekbaar. Ander pottebakkers doen egter groot moeite om klei te gaan soek wat suiwer en van goeie gehalte is. Hulle potte hou vir jare en jare.

In vers 19 skryf Paulus: “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van ongeregtigheid.” Inderdaad is die Here die Pottebakker van jou lewe. Jy moet egter sorg dat jou klei van die beste gehalte is. Hoe meer onsuiwerhede van sonde in jou lewensklei is, hoe swakker gaan die gehalte van jou lewenspot wees. Dit gaan natúúrlik mos jou bruikbaarheid in die Koninkryk beïnvloed!

Moenie vir één oomblik twyfel dat God jou voorberei as ‘n bruikbare voorwerp om in Sy diens te staan nie. Juis dáárom is dit so belangrik dat jy veg teen enige kwaad, sodat die kwaliteit van jou “klei” die héél beste is en jy vir jare lank steeds bruikbaar vir Hom kan wees.

Gebed:

Here, help my asseblief om my lewensklei suiwer te hou!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026