Johannes 8:1-11
Johannes vertel dat Jesus die nag op die Olyfberg deurgebring het.
‘n Rabbi was daardie tyd se ekwivalent van ‘n professor, dus iemand wat redelik luuks gelewe het. Jesus was anders, Hy het dikwels sommer in die veld geslaap op die harde grond!
Jesus stap vroegoggend na die tempel toe. Hy word begroet met ‘n groot klomp mense wat reeds op Hom wag. Hy gaan sit en die groot kring mense rondom Hom spits hulle ore met groot afwagting. Nie almal is egter opgewonde oor wat Hy gaan sê nie, ‘n klompe Fariseërs en Skrifgeleerdes staan jaloers eenkant. “Hierdie Jesus trek al meer en meer van die volk! Hy vergiftig hulle met Sy leerstellings!”
“Ja, maar vanoggend het ons ‘n onaangename verrassing vir Hom! Bring daardie vrou!”
Hardhandig word ‘n jong vrou nader gesleep. Sy huil histeries want sy weet ál te goed wat op haar wag. ‘n Verskriklike einde staar haar in die gesig. Sy bewe van angs! O waarom het sy tog toegegee aan haar begeertes? Daardie man het haar voete onder haar uitgeslaan met sy sjarme! Dit het nie eers saakgemaak dat hy getroud is nie, want sy was smoorverlief op hom. Hy het gesê dat sy vrou hom nie verstaan nie – dat sy hom nie bevredig nie. Een enkele nag van hartstogtelike passie ...... en toe word hulle uitgevang!
Snikkend staan sy daar, hardhandig rondgepluk deur die wagte. Die einde is te verskriklik om aan te dink. Hulle gaan haar met klippe doodgooi. Dit is ‘n grusame, pynlike dood wat nie vinnig kom nie. Haar bene gaan gebreek word deur groot klippe, en as sy uiteindelik sterf, gaan haar liggaam gegooi word waar die aasvoëls haar gaan opvreet. Grusaam!
Huilend word die vrou gesleep tot in die kring waar Jesus besig in om die mense te leer. “Uit hierdie tameletjie gaan Hy Homself beslis nie kan uitwurm nie!” Die geleerde manne is baie tevrede met hulleself! Met ‘n vroom gesig wat drup van die heuning tree een van die Fariseërs na vore: “Meester, hierdie vrou is op heterdaad betrap terwyl sy owerspel pleeg.” Hy grynslag, want nou het hy hierdie Jesus in ‘n strik wat Sy einde gaan beteken. “In die wet het Moses ons beveel om sulke vroue te stenig. Maar U, wat sê U?”
Hy weet baie goed dat daar ‘n paar lelike slaggate is. Jesus het net eenvoudig nie ‘n keuse nie, want volgens die wet móét sy gestenig word. As Hy egter sou saamstem, dan wys dit dat Hy nie die wet goed genoeg ken nie, want die man moet na regte sáám met haar gestenig word.
Daar is egter ‘n ander probleem: die Romeinse wet sê dat die Jode nie ‘n doodsvonnis mag voltrek nie. As hierdie vrou dus gestenig word soos wat die Joodse wet vereis, dan oortree hulle die Romeinse wet. As Jesus egter sê dat sy nie gestenig moet word nie, dan gaan Hy téén die wet van Moses in. Boonop sou dit terselfdertyd beteken dat Hy ook sonde goedkeur. Nou het hulle Hom uiteindelik vas! Watter kant toe Hy ookal antwoord, Hy ís in die moeilikheid!
Tot hulle groot frustrasie, maak Jesus egter of Hy hulle vraag totaal ignoreer. Hy buk vorentoe en begin om iets in die grond te skryf. Dit maak hulle briesend! Hy móét ‘n antwoord gee! Uiteindelik kyk Hy op. Bedaard sê Hy: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, die eerste klip op haar gooi.” Hy buk weer vorentoe en ignoreer die spul totaal deur bloot met Sy vinger in die grond te skryf!
Een vir een begin die manne omdraai en wegloop. Die enigste een wat agterbly is die vrou.
Die Jode het ‘n leuse, dat jy nie aan ander moet doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. As een van hulle dus ‘n klip sou optel, dan stel hy homself bloot aan dieselfde soort oordeel. Die kring mense rondom Jesus is tjoepstil. Wat het hier gebeur? Jesus het elkeen van hulle regter gemaak oor sy eie lewe. Die maatstaf wat jy vir ander mense wil stel - is dit dieselfde maatstaf waaraan jy jou eie lewe meet? Voldoen jy self daaraan? Ek dink elkeen van daardie skare het diep skuldig gevoel, want almal het al hierdie vrou veroordeel vir haar vieslike daad!
Na ‘n bitter ongemaklike stilte, kom Jesus orent. Hy kyk die vrou in die oë: “Vrou, waar is hulle? Het niemand jou veroordeel nie?”
“Niemand nie, meneer!”
Terwyl die trane van dankbaarheid oor haar wange stroom, hoor sy hoe Jesus haar in liefde vergewe. Hy veroordeel haar óók nie! Maar dan waarsku Hy haar: “Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie.”
Hoe groot is God se genade en Sy vergifnis nie! Selfs hierdie vrou se doodsonde word vergewe. Mense het al dikwels vir my gesê dat hulle sonde só groot is dat hulle nie weet of God hulle óóit sou vergewe nie. As jy dalk so voel, lees dan maar gerus weer Jesaja 1:18. Ja, Sy vergifnis is allesomvattend. Saam daarmee is daar egter ook ‘n verantwoordelikheid, ‘n opdrag om die sonde af te sweer. Dit beteken in kort dat ons in ‘n intieme verhouding met Jesus moet leef. Sonde is om nie God se wil te doen nie. Sy wil is om in Jesus te glo - om Hom te dien en elke dag daardie verhouding met Hom meer en meer intens te maak, en Hom met jou hele hart en siel en verstand lief te hê. Die natuurlike uitvloeisel hiervan is dat jy ernstig gaan probeer om heilig te lewe!
Gebed:
Here, dankie dat U ook al mý gruwelike sondes vergewe het. Ek wil U dien, Here, met alles wat in my is.