Inleiding tot Judas
Die naam “Judas” bring sommer dadelik by jou ‘n gevoel van antagonisme op. Hy is mos daai verraaier?! Eintlik was dit ‘n algemene naam in die Bybelse tyd en ons lees van etlike mense met hierdie naam. Die skrywer van hierdie baie kort boek, wat slegs twee bladsye in die Bybel beslaan, is beslis nie Judas Iskariot nie! Hierdie Judas was ‘n broer van Jesus Christus.
Wanneer ons deur die evangelies lees, kom ons agter dat Hy aanvanklik self baie skepties was oor sy Broer. Hy kon maar net nie glo dat hierdie Jesus saam met wie hy grootgeword het die Verlosser, die Christus kon wees nie. Ons lees onder meer in Joh. 7:5 dat Jesus se broers nie in Hom geglo het nie. In sy brief beskryf hy homself egter gladnie eers as Jesus se broer nie, maar hy sê dat hy die broer is van Jakobus.
Nou wie was Jakobus? Hy was die ander broer van Jesus. Hy het aanvanklik óók nie in Jesus geglo nie. Later was hy egter baie bekend onder die gelowiges van sy tyd. Hy het ná die Pinkstergebeure die leier van die gemeente in Jerusalem geword. Hy is volgens oorlewering in 62nC vermoor, en die vermoede bestaan dat Judas die leiding in die gemeente by sy broer oorgeneem het na Jakobus se dood.
Wanneer Judas beplan om hierdie brief te skryf, wil hy eintlik oor 'n pragtige onderwerp skryf: die Verlossing. Maar dan gryp die Heilige Gees in en sy onderwerp is iets totaal anders. Daar was probleme in die kerk, en die Here wou hê dat hy hierdie probleme moes aanspreek. Daar het dinge in die kerk aangegaan wat probeer het om die kerk presies gelyk te stel aan die wêreld. En dit mag nooit gebeur nie!
Judas noop ons vandag om vir onsself die vraag te vra: Is daar werklik vandag ‘n besliste verskil tussen die kerk en die wêreld? En as jy ‘n gelowige en ‘n ongelowige langs mekaar plaas, sal jy die verskil dadelik opmerk? Sal die gelowige waarlik anders optree in sekere situasies as ongelowiges? Bestuur die gelowige sy besigheid anders as die ongelowige?
Die Handves van Menseregte is ‘n pragtige idee, en op sigself is daar niks mee verkeerd nie. Maar die verskriklike gevaar daaraan verbonde is dat alle mense presies gelyk gestel word. Ons sal dadelik wil sê dat dit mos nou nie so ‘n slegte gedagte is nie. Die probleem is egter dat die klem só sterk val op die eendersheid van al die verskillende godsdienste, dat dit skrikwekkend is! Verdraagsaamheid tussen verskillende godsdiensgroepe is die in-ding, en so hoort dit seker ook te wees. Verséker is daar mooi dinge daaromtrent, want die Christengelowige behoort mos uit te reik na ander gelowe. Maar wanneer hierdie eenheidsgedagte verkeerd hanteer word, kan die gevolge vir die kerk katastrofies wees. Dit kan daartoe lei dat kerk-lidmate presies dieselfde lyk as mense wat kerkloos is of die een of ander heidense afgod aanbid. Kan jy jouself voorstel: ‘n kerk wat bedryf word soos ‘n gewone klub?
Wanneer ons Judas se brief lees, sien ons dat die skrywer pleit vir ‘n duidelike onderskeid tussen gelowiges en goddeloses. Hy pleit dat gelowiges hulle identiteit sal gestand doen, en dat skyn-gelowiges wat dikwels ‘n gemeente binnesypel, aan die lig blootgestel word sodat hulle ware kleure kan uitkom. Dit gaan immers oor die eer van God! Hy vra jou en my as gelowiges om te stry vir die suiwer beeld van die ware geloof.
Wanneer ons hierdie boek begin lees, merk ons op dat dit ‘n tipiese briefaanhef het, wat dit na ‘n brief laat lyk. Maar lees ons ‘n bietjie verder, dan verander die hele opset, sodat dit eintlik ‘n preek word. Daar is byvoorbeeld gladnie die gebruiklike briefslot nie. Ons moet dus die boek sien as ‘n preek wat Judas geskryf het vir ‘n gemeente of gemeentes.
Judas, net soos al die ander Bybelboeke, is tydloos. Dit is tweeduisend jaar gelede geskryf vir mense wat in daardie tyd geleef het in totale ander omstandighede as ons vandag. Maar wat hy geskryf het is steeds tweeduisend jaar later relevant, want die éintlike Outeur van die boek was die Heilige Gees. En oor 'n verdere tweeduisend jaar sal dit nog steeds relevant wees.
Vir my en jou sê hierdie boek vandag dat ons moet waak teen allerhande strominge wat die waarheid van die Evangelie wil verdraai. Ons moet vasstaan in die geloof - letterlik stry vir ons geloof soos wat dit suiwer vir ons geleer word uit die onfeilbare Woord van God. Die kosbare dinge wat Jesus ons geleer het, moet ons in ons harte bewaar en daaraan vasklou soos 'n kleinood. En ons moet die dinge wat skrywers soos Paulus vir ons nagelaat het met passie uitleef. As ons waarlik die opdragte van Jesus uitvoer, sal die kerk nie swig voor hierdie dwaalleraars nie, en sal dit van krag tot krag gaan soos wat dit gedoen het oor die afgelope tweeduisend jaar.
Gebed:
Here, help my asseblief om staande te kan bly voor al die versoekings van dwaalleraars. En help my om U opdragte uit te leef met passie!