Josua 1:1-18
“Ek sal by jou wees.” Is dit nie die mees bemoedigende woorde wat jy ken nie? Jeremia het daardie versekering van die Here gekry toe hy sy moeilike opdrag moes gaan uitvoer (Jeremia 1:8). Jesus het dit ook vir die dissipels gesê met Sy hemelvaart (Mat 28:20). En hier belowe Hy dit vir Josua (Jos. 1:5).
Veertig jaar tevore het Moses die opdrag gekry om die volk Israel uit Egipte te lei na die beloofde land. As gevolg van die volk se weerbarstigheid, het hulle egter nooit daar uitgekom nie. Toe Moses 120 jaar oud is, kry hy opdrag van die Here om vir Josua, ‘n man vol van die Heilige Gees aan te stel as die nuwe leier van Israel. Moses moes hom die hande oplê en hom seën vir die reuse taak wat op sy skouers sou rus, om uiteindelik die volk in die land in te lei.
'n Tyd later het Moses na die Moabsvlakte vertrek waar hy tot op die piek van die Neboberg naby Jerigo geklim het. Hiervandaan kon hy die hele Beloofde Land sien. Moses was nou gereed om die ewigheid in te gaan. Hy het gesterf en die Here het hom persoonlik iewers op die Moabvlakte begrawe, maar sy graf is nooit gevind nie (Deut. 34).
En so word die verhoog gereed gemaak vir Josua om die Beloofde Land in besit te neem vir Israel.
Josua neem oor by Moses, en sommer dadelik kry hy 'n opdrag van die Here om oor die Jordaanrivier te trek met die volk en die land op te eis. Dit klink só eenvoudig! Maar Josua gaan nie alleen nie, die Here is met hom – so belowe Hy vir Josua. Boonop gee die Here vir Josua die versekering: “Ek gee vir julle elke plek waar julle kom.” Dan spel die Here vir hom uit presies waar die grense van hierdie nuwe land moet wees. Al wat Josua moet doen is om dit in besit te gaan neem.
Dit beteken egter nie dat Josua maar in sy leunstoel kon gaan sit en alles sou in sy skoot val nie. Dit sou van hom harde werk vra, en hy sou hom in mure vasloop. Dinge sou dikwels vir hom totaal onmoontlik lyk. Hy moes dus vasberade en dapper wees en hom deur niks van stryk laat bring wanneer hy by hierdie hindernisse kom nie. Bo alles moes Hy die Here ten volle vertrou met sy hele lewe.
Dan gee die Here hom die versekering: “Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie.” (Jos. 1:5).
Daar was egter 'n ander baie belangrike saak: “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie.” (Jos. 1:7). Die Wet van die Here moet die rigsnoer wees vir hulle lewe so ver as wat hulle gaan.
Tydens die Groot Trek het die ou Voortrekkers hulle Bybels in die wakis gehad voor op die waens. Dit sou die rigsnoer word vir hulle lewens wanneer hulle die vreemde intrek. Hoe kan dit ook anders? Vandag kan géén gelowige die lewenspad aandurf sonder daardie belangrike rigsnoer vir ons lewens nie. Maar jou Bybel moet nie maar net in jou “wakis” bly lê nie. Dit moet gebruik word en jy moet dit deel van jou alledaagse lewe maak. Ons kan nooit genoeg kry van God se Woord nie!
Wanneer Josua die opdrag van God kry om die land in te neem, spandeer hy nie eers maande met voorbereidings en beplanning nie. Hy gee opdrag aan sy beamptes om die woord onder die volk te gaan versprei: “Kry padkos gereed – oor drie dae trek ons die land binne.” Dit beteken nie net ‘n groepie soldate nie, maar die héle, groot volk Israel. Dit sluit selfs ook diegene in wat vergunning gekry het om oos van die Jordaan hulle vee te gaan laat wei, die stamme van Ruben, Gad en Manasse. Oor drie dae! Dis sommer nóú. Josua laat nie gras onder sy voete groei nie!
Ons moet egter mooi verstaan dat ons hierdie verhaal in konteks lees, en nie sommer aanneem dat ons blindelings God se opdragte moet uitvoer sonder enige beplanning nie.
As gelowiges is ons deel van 'n span wat moet saamwerk. Dit begin in my gemeente waar ek nie maar 'n kliek vorm saam met my ander selgroepmaats nie, maar waar die span die hele gemeente is. Om die gemeente te laat slaag, beteken dat ons almal saam skouer aan die wiel sit. As een van die ander groepe iets aanpak, ondersteun almal dit om dit te laat slaag. Maar dit gaan veel verder as net ons gemeente. Ons is deel van 'n baie groter span wat al die ander denominasies insluit. En dit maak nie saak of die “ander span” swart of bruin of pienk is nie – ons is almal deel van die eenheid.
Almal is sommer dadelik opgewonde oor hierdie nuwe “avontuur” en ek kan my indink hoe daar in die kamp van die Israeliete rondgeskarrel is om alles betyds op te pak en gereed te kry. Hulle het immers veertig jaar gewag vir hierdie groot dag!
Gebed:
Here, ek is deel van 'n baie groot span. Help my om my oogklappe af te haal en deel te word saam met die ander!