Josua 1:1-18
“Ek sal by jou wees” - sekerlik die mees bemoedigende woorde wat jy kan kry! Die Here het vir Jeremia daardie versekering gegee in Jeremia 1:8 en Jesus het dit ook in Mat. 28:20 met Sy hemelvaart vir Sy dissipels gesê. Nou lees ons in Jos. 1:5 dat die Here vir Josua sê: “Soos Ek by Moses was, sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie.”
In Numeri 27:22 lees ons dat Moses kort voor sy dood in opdrag van die Here vir Josua die hande opgelê het en hom geseën het vir die reuse taak wat op Josua se skouers sou rus om die volk die beloofde land in te lei. Kort daarna het Moses sy laaste reis onderneem. Hy het na die Moabsvlakte vertrek waar hy tot op die piek van die Neboberg naby Jerigo geklim het. Hiervandaan kon hy die hele Beloofde Land sien. En toe was Moses gereed om sy Skepper te ontmoet. Hy het gesterf en die Here het hom persoonlik iewers op die Moabvlakte begrawe, maar sy graf is nooit gevind nie - hiervan lees ons in Deuteronomium 34.
Nou is die mantel vierkantig op Josua se skouers om die Beloofde Land in besit te neem vir Israel. Sommer dadelik kry hy 'n opdrag van die Here om oor die Jordaanrivier te trek met die volk en die land op te eis. Dit klink só eenvoudig! Maar Josua gaan nie alleen nie, die Here is mos met hom – só het die Here hom belowe! Boonop gee die Here vir Josua die versekering: “Ek gee vir julle elke plek waar julle kom.” Dan spel die Here vir hom uit presies waar die grense van hierdie nuwe land moet wees. Al wat Josua moes doen was om dit in besit te gaan neem.
Dit beteken egter nie dat Josua maar in sy leunstoel kon gaan sit en alles sou in sy skoot val nie. Dit sou van hom harde werk vra, en hy sou hom letterlik in mure vasloop. Dinge sou dikwels vir hom totaal onmoontlik lyk. Hy moes dus vasberade en dapper wees en hom deur niks van stryk laat bring wanneer hy by hierdie hindernisse kom nie. Bo alles moes Hy die Here ten volle vertrou met sy hele lewe. Dan gee die Here hom die versekering in vers 5: “Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie!”
Daar was egter 'n ander baie belangrike saak wat die Here aanroer in vers 7: “Wees net baie dapper en sterk, sodat jy die hele wet wat Moses, my dienskneg, jou beveel het, nougeset uitvoer. Moenie links of regs daarvan afwyk nie, sodat jy sukses kan behaal oral waar jy gaan.” Die Wet van die Here moet die rigsnoer wees vir hulle lewens so ver as wat hulle gaan.
Tydens die Groot Trek het die ou Voortrekkers hulle Bybel in die wakis gehad voor op die waens. Dit sou die rigsnoer word vir hulle lewens wanneer hulle die vreemde intrek. Hoe kan dit ook anders? Vandag kan géén gelowige die lewenspad aandurf sonder daardie belangrike rigsnoer vir ons lewens nie. Maar jou Bybel moet nie maar net in jou “wakis” bly lê nie. Dit moet gebruik word en jy moet dit deel van jou alledaagse lewe maak. Ons kan nooit genoeg kry van God se Woord nie.
Wanneer Josua die opdrag van God kry om die land in te neem, spandeer hy nie eers maande met voorbereidings en beplanning nie. Hy gee opdrag aan sy beamptes om die woord onder die volk te gaan versprei: “Kry padkos gereed – oor drie dae trek ons die land binne.” Oor drie dae! Dis sommer nóú. Josua laat nie gras onder sy voete groei nie!
Maar eers is daar 'n klein probleempie wat uitgesorteer moes word: In Numeri 32 lees ons van drie stamme, Ruben, Gad en Manasse. Hulle het groot troppe vee gehad, en hulle moes plek kry om die vee te laat wei. Moses het vir hulle grond gegee aan die oostekant van die Jordaan. Nou is hulle bekommerd dat hulle hierdie grond sou verloor wanneer hulle in Kanaän intrek.
Josua besluit om 'n vergunning te maak. Hulle kon die grond behou op voorwaarde dat hulle eers moes gaan help om Kanaän te verower. Hulle vee, vrouens en kinders kon egter op die grond agterbly. Die manne stem in, en boonop sou hulle sommer die voorste linie vorm van die invalsmag.
As gelowiges is ons deel van 'n span wat moet saamwerk. Dit begin in my gemeente waar ek nie maar 'n kliek vorm saam met my ander selgroeplede nie, maar waar die span die hele gemeente is. Om die gemeente te laat slaag, beteken dat ons almal saam skouer aan die wiel sit. As een van die ander groepe iets aanpak, ondersteun almal om dit te laat slaag. Maar dit gaan veel verder as net ons gemeente. Ons is deel van 'n baie groter span wat al die ander denominasies insluit. En dit maak nie saak of die “ander span” swart of bruin of pienk is nie – ons is almal deel van die eenheid.
Almal is sommer dadelik opgewonde oor hierdie nuwe “avontuur” en ek kan my indink hoe daar in die kamp van die Israeliete rondgeskarrel is om alles betyds op te pak en gereed te kry. Hulle het immers veertig jaar gewag vir hierdie groot dag!
Gebed:
Here, ek is deel van 'n baie groot span. Help my om my oogklappe af te haal en deel te word saam met die ander!