Josef - Tronkvoël / Heerser

4 February, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Josef - Tronkvoël / Heerser

Genesis 41:1-57

Video

Audio

Die Skinker het hom vergeet! Almal het van Josef vergeet - die res van sy lewe sou hy in die stinkende kerker verslyt, en dit vir ‘n daad wat hy gladnie eers gepleeg het nie!

Josef is die volgende persoon waarmee ons God se wonderbare liefde verbind. Ons het Josef leer ken as die dromertjie, maar terselfdertyd ook as die bedorwe brokkie wat op sy broers geklik het. Dan neem sy broers wraak en verkoop hom as slaaf, waar hy in Potifar se huis beland, saam met hierdie Egiptenaar se wellustige vrou. Sy probeer hom verlei, maar Josef verset hom omdat hy God eer. En dan beland hy onskuldig in die tronk.

Dan, een nag gebeur die ding wat God se plan in werking stel, die ding waarvoor God Josef bestem het. Alles begin met ‘n afgryslike droom wat die Farao in die middel van die nag sopnat gesweet laat regop spring in sy kooi. Hy skud sy kop om seker te maak dat dit ‘n droom was en nie die werklikheid nie. Alles was so helder en werklik! Hy kon sweer hy staan persoonlik self op die Nylrivier se walle. Farao se hart klop in sy keel. Hy sien weer die prentjie voor hom: ‘n rustige prentjie waar sewe spekvet koeie in die vleigras staan en wei. En dan gebeur die bisarre ding. Uit die Nylrivier kom daar die aakligste maer gedrogte van koeie uitgekruip - óók sewe van hulle. Die maer koeie gryp die sewe vettes en vreet hulle op! Farao gril vir die verskriklike beeld in sy kop. 

Later droom hy weer van sewe mooi uitgeswelde, vet koringare wat op die land staan, en dan word hulle verslind deur sewe maer, uitgedorde koringare. Met ‘n asem wat jaag, skrik Farao weer wakker. Wat sou die betekenis wees?

Die volgende oggend laat roep hy sy raadgewers. Hulle kry ‘n bitter omgekrapte Farao waar hy op en af stap. “Ek het gedroom”, begin hy, en dan vertel hy hulle van die verskriklike drome. Die wyse manne is stomgeslaan. Hulle het hiérdie kant toe en dáárdie kant toe kleigetrap, maar hierdie droom is een te veel vir die jarelange opleiding wat hulle het in die uitleg van drome. Die groot grap is dat Farao beskou word as ‘n god, maar nou skielik is hierdie “god” bang en kan hy nie eers sy eie drome uitlê nie!

In die middel van hierdie chaos onthou die skinker skielik van Josef, en dat hy daar in die tronk hulle drome so absoluut akkuraat uitgelê het - alles het presies gebeur soos Josef voorspel het.

Josef word laat haal. Hy word skoon geskeer en netjies aangetrek, en voor die Farao gebring. Josef besef onmiddellik sy afhanklikheid van God, en hy laat die Farao dadelik baie goed verstaan waarvandaan sy wysheid kom. “Nie ek nie,” deel Josef hom mee, “God is die Een wat dié goeie antwoord vir u gee” (Gen 41:16).

En dan vertel die magtigste man op aarde vir Josef van sy verskriklike nagmerrie. Sonder om eers twee keer te dink, weet Josef wat die betekenis is. Die Heilige Gees lê die uitleg daarvan in sy gedagtes vas, en Josef vertel vir Farao dat daar sewe jaar van oorvloed gaan wees en daarna sewe jaar van die allerverskriklikste hongersnood regoor die wêreld. Farao skrik hom asvaal - “Wat gaan ons maak?”, hyg hy. Maar Josef staan al klaar gereed met ‘n antwoord: “Stel ‘n uiters bekwame man aan om betyds voorsorg te tref.

Farao is so beïndruk met die wysheid wat Josef aan die dag lê, dat hy hierdie jong man, toe maar pas dertig jaar oud, aanstel om die saak te hanteer. Dit moes iemand wees “met die verstand van ‘n god” - letterlik: “iemand in wie die Gees van God is” (v 38), en dit is duidelik dat Josef presies so ‘n persoon is. Saam met hierdie aanstelling kry Josef die magsposisie as tweede hoogste gesag in die land. Hy kry ook ‘n nuwe naam, ‘n nuwe (?) vrou en ’n splinternuwe ryding, (’n Rolls Royce?) alles dinge wat sy nuwe status bevestig.

Oor die volgende sewe jaar bewys Josef dat die Gees van God in hom is, en op briljante wyse bou hy graanskure regoor die Koninkryk en vul hulle tot oorlopens toe, sodat wanneer die sewe jaar van hongersnood die wêreld tref, Josef tevrede kon terugsit met ‘n taak wat uit die boek voltooi is.

Nou is die verhoog gereed vir die volgende toneel in die geskiedenis van Jakob en sy seuns, die volk in wording,  Israel.

Hierdie is ‘n verhaal vol aangrypende emosionele belewenis wat my en jou meesleur. Net wanneer ons wil vra: “Waar is God dan?” dan gebeur die mees aangrypende wonderwerk wanneer God ingryp. Dan sien ons dat Hy nog al die tyd daar was. God staan nie eensydig nie. In Josef se verhaal leer ons God ken as die God van liefde, die God wat die arrogante jong seun Josef vorm na iemand wat waardig is om die volk van God van 'n sekere hongersnood te red. Maar ons leer Josef ook ken as die man wat standvastig gebly het ten spyte van 'n baie verleidelike aanbod, selfs al beteken dit tronkstraf vir hom, net omdat hy God liefgehad het. En wat steeds deur die jare in die tronk sy volle vertroue op God behou het. Ons kan werklik van Josef leer oor liefde vir God en vertroue in Hom. 

Gebed:

Here, die verhaal van Josef laat my snak na my asem. Dit laat my net weereens besef hoe groot U werklik is. Dankie dat ek ‘n Almagtige God kan aanbid - ‘n God wat omgee en altyd daar is vir my.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026