Jona 3:1-4
Dit was 'n bitter lang nag. Jona het byna nie 'n oog toegemaak nie. Heelnag lank het hy lê en rondrol en hom morsdood bekommer oor sy preek van die volgende oggend. 'n Klip het hom knaend iewers in die sy bly kasty en hy kon nét nie van die ding ontslae raak nie.
Vir sy volksgenote kan hy baie goed preek want hulle word almal mos al van kleins af die Skrifwaarhede ingedril. Vir hulle borduur jy mos net 'n preek rondom die dinge wat hulle alreeds ken. Maar vir heidene? Hulle weet dan nie eers wie God is nie! Wat sê jy vir hulle? Hoe verduidelik jy van Abraham en Moses en die wondere van die uittog? Jona het nie die vaagste idee waar om te begin om sy preek voor te berei nie!
As die son uiteindelik oor die stowwerige vlaktes van Nineve uitkruip, bid Jona wanhopig: “Here, ek weet rêrag nie wat om vir hierdie heidene te preek nie!”
“Waarom bekommer jy jou, Jona?” hoor die bekommerde profeet weereens binne in hom daardie sagte fluistering, “Ek het mos vir jou gesê dat Ek vir jou die boodskap sal gee.”
“Ja Here, maar wat móét ek vir hulle sê?”
“Sê vir hulle: Oor veertig dae gaan Ek Nineve verwoes oor die mense se goddeloosheid! Dis al wat jy hoef te sê, Jona! Is dit dan so moeilik?”
Die son is skaars op of Jona stap met bewende knieë die stad binne. Hy kyk nie links of regs nie maar hy stap reguit na die markplein, waar hy wéét dat hy 'n klomp mense gaan kry. Daar tref hy ‘n gewoel en ‘n geklets en gekekkel aan wat skrik vir niks! Elke smous wil sy eie ware adverteer en die een skree harder as die ander, so erg dat Jona skaars sy eie stem kan hoor!
Dan knyp hy sy oë styf toe en skree uit volle bors: "Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”
Hy staal hom vir die bulderende gelag en bespotting wat sal volg. Maar dit gebeur nie. Daar sak net ‘n doodse stilte om hom neer. Jona kry hoendervleis! Half verbouereerd herhaal Jona die boodskap, net vir ingeval daar iemand iewers is wat dit nie gehoor het nie: "God die Almagtige het gesê: Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”
Een vir een verdwyn die mense in doodse stilte van die markplein af weg.
Jona kan sy oë nie glo nie! Hy stap verder en dan merk hy 'n klompie manne wat vrolik sit en gesels in die vroeë oggendsonnetjie. Jona gaan staan by hulle en die manne se oë draai vraend na die vreemdeling. “Ek het 'n boodskap aan julle van die God van die Hebreërs: Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”
Die manne word wit in die gesig van skrik. Een-vir-een staan hulle op en verdwyn in stilte.
Hy tref 'n groepie vroue aan met waterkanne op hulle koppe, op pad na die put, kekkelend en skertsend soos net vroue kan wees. “Mag ek dit waag om die boodskap vir vrouens te gee?” wonder Jona. Op die ingewing van die oomblik gaan staan hy reg in hulle pad en kondig aan: “Die Almagtige God het gesê: Nog net veertig dae dan word Nineve verwoes!”
Verskrik spat die vroue uitmekaar en verdwyn in die nou stegies!
By elke mark en hool en vergadering wat Jona kom, preek hy sy eenvoudige enkel-sin preek en oral is die reaksie presies dieselfde. Jona kan dit net eenvoudig nie verstaan nie. Wat is hier aan die gang? Uiteindelik strompel hy doodmoeg teen skemeraand by die stadspoorte uit. Hy kry ‘n paar skaapwagtertjies en dan preek hy sy laaste preek vir die dag: “Nineve word oor veertig dae verwoes!” Die seuntjies hardloop al huilende huistoe om die verskriklike nuus vir pappa te gaan vertel. Uitgeput gaan sit Jona teen sy skurwe boomstam en dan raak hy sommer dadelik aan die slaap.
Die Here het nie van Jona groot wysheid of indrukwekkende woorde of ingewikkelde redenasies gevra toe Hy die profeet gestuur het nie. Die ooreenvoudige boodskappie wat Jona oorgedra het, het verstommende gevolge gehad. Sien, dit was nie Jona se woorde nie, maar die Heilige Gees wat in mense se harte gewerk het!
Wanneer die Here my en jou stuur, vra Hy ook nie ons mooi redenasies nie maar slegs dat ons na Hom sal luister en Sy eenvoudige boodskap sal oordra. Die boodskap wat Jona moes gee was kort en kragtig. Die boodskap wat ek en jy het vir die wêreld daar buite is nét so kort en kragtig: Die wêreld is besig om te vergaan in sonde. Geloof in Jesus Christus is die enigste uitweg tot redding. Só eenvoudig is hierdie boodskap. Die probleem is dat ons die boodskap te ingewikkeld wil maak en dink dat ons kan verbeter op God se Meesterlike plan. Alles klink net té eenvoudig! Ons wil probeer om allerhande fieterjasies by te voeg sodat ons boodskap darem geloofbaar kan klink. Dit is dán wanneer ons alles opmors.
Bly by God se "Spelplan" - Hy sal Sélf die res afhandel. Hy sal op die regte tyd en plek en manier deur die Heilige Gees in mense se harte werk en hulle oortuig.
Gebed:
Here, leer my om gehoorsaam te wees aan U opdragte en om dit uit te voer presies soos U dit beveel!