Lukas 3:1-20
Agtien jaar gaan verby sedert die jong twaalfjarige Jesus die leermeesters en Skrifgeleerdes so op hol gehad het in die tempel. Wat in daardie agtien jaar gebeur het, ag Lukas nie as belangrik nie. Beide Jesus en Johannes het opgegroei tot volwasse manne. Johannes het hom afgesonder in die woestyn ter voorbereiding van die reuse taak wat op hom wag, om die pad vir Jesus, die Messias voor te berei. In daardie tyd het hy begin blom as ‘n ware profeet, nét soos wat oor hom voorspel was nog voor sy geboorte.
Lukas stel die verhoog op vir die volgende toneel: ‘n rits name word op die tafel gegooi, name van belangrike mense wat in die volgende hoofstukke feitlik almal ‘n beduidende rol sou speel. Hy begin by Tiberius, die keiser van die Romeinse ryk, die magtigste man op aarde in sy tyd. Dan trek hy die kringetjie nouer en hy noem die name van die plaaslike regeerders: Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea en Herodus Antipas. Antipas was ‘n seun van Herodus die Grote, en hy het op daardie tyd in Galilea regeer. Jy sal seker onthou dat Herodus die Grote se ryk in vier verdeel is. Lukas noem ook twee van die ander regeerders in hierdie ryk: Filippus en Lisanias. Om die prentjie af te rond meld hy die geestelike leiers: Annas en Kajafas die hoëpriesters.
Hierdie was nie net ‘n klomp vervelige inligting nie. Lukas wil ons egter wys op die wêreldwye betekenis wat die Hooffiguur van die verhaal gaan speel, want die gebeure in hierdie klein landjie het wêreldwyd uitgekring, en mense van alle stande geraak. Ons word voorberei daarop dat God se reddingsplan vir die hele wêreld bedoel is, en nie net vir die handjievol Jode nie.
Daar is egter ‘n ander, baie belangrike punt wat Lukas by sy lesers wil tuisbring, en dit is dat Jesus nie maar ‘n fiktiewe karakter in ‘n storie is nie, maar Iemand wat aan tyd en omstandighede gekoppel kan word. Die liggelowiges wat steeds dink dat Jesus slegs in die gees van die dissipels was, moet dééglik hiervan kennis neem!
Lukas neem ‘n aanhaling uit Jesaja 40 om te wys hoedat die optrede van Johannes alreeds baie jare tevore voorspel is, en dat sy optrede profetiese gesag kry. As spesiale gesant van God rus die taak vierkantig op sy skouers om die pad voor te berei vir Jesus se optrede, en dit doen hy met volle oorgawe. Hy ontsien niks en niemand nie, en hy gee nie om wat mense van hom dink nie. Tree-vir-tree vul hy die gate in die pad op sodat God se verlossingsplan seepglad kan verloop.
Jesaja het hierdie gedeelte natuurlik geskryf terwyl die Israeliete in ballingskap was in Babilon, en alles vir die volk baie donker was. Dit het gelyk asof God se plan met die volk op ‘n doodloopstraat uitgeloop het. Jesaja het die taak gehad om vir die Israeliete hoop te gee: God se groot verlossingsplan sou steeds kom, al lyk die prentjie tans so donker. Dit herinner ons daaraan dat daar selfs in vandag se donker tye van wanhoop, steeds die ware hoop op God is, en vandag nog baie meer so as in die tyd toe Jesaja die stuk geskryf het.
Johannes was ‘n regte “vuur en swael” prediker, wat almal kaalkop die waarheid vertel het. Die Jode het onder die wanindruk geleef, dat solank as wat hulle afstammelinge van Abraham was, hulle die saligheid besit het. Johannes kom keer die prentjie op sy kop, en blaas hulle borreltjie deur te sê dat Abraham geen waarborg is vir hulle verlossing nie. Die regte (herstelde) verhouding met God was noodsaaklik, en dit was slegs moontlik as daar ‘n bekering plaasgevind het. Wanneer daar in die regte verhouding met God geleef word, dan moet dit ook deurslaan na jou verhouding met ander mense, so sê Johannes. Dit beteken dat jy mededeelsaam sal wees en die nood by ander sal raaksien en daadwerklik iets daaromtrent doen. Dit beteken ook dat ‘n mens eerlik moet wees, selfs al is jy in ‘n hoë magsposisie.
Só eerlik en opreg is Johannes se prediking dat mense begin wonder of hy nie dalk die Christus is nie. Hy ontken dit egter heftig, en maak dit duidelik dat hy maar net die wegbereider is. Uiteindelik bring Johannes se prediking hom in die moeilikheid, wanneer hy selfs die magtige Herodus Antipas nie ontsien nie en hom aanspreek omdat hy skande gemaak het deur met Herodias, sy broer se vrou te trou. Dit was ‘n daad wat in Levitikus 18:16 duidelik verbied word. Ongeag die gevaar wat hy sou loop, skroom Johannes nie om die hoogste gesag aan te vat nie, en daarvoor moet hy boet deur in die tronk toegesluit te word. Uiteindelik het dit dan ook gelei tot sy wrede dood tydens ‘n wilde partytjie van Herodus, toe Johannes onthoof is en sy bebloede kop op ‘n skinkbord, tot groot vermaak van Herodias ingebring word.
Die verhaal van Johannes moet vir elke prediker ‘n voorbeeld wees van die ywer en eerlikheid waarmee die Woord van God verkondig moet word, en dat absoluut niks in jou pad durf staan nie.
Gebed:
Here, maak my asseblief onverskrokke om U Woord aan almal uit te dra.