Lukas 8:40-56
Johannes is bitter moeg. Is daar dan nie ‘n bietjie rus vir hulle nie? Na gister se ellelange preek moes hulle heelnag spook en spartel in die storm. Skaars geland anderkant, of daar is die drama met die mal ou. En toe kry hulle nie eers kans om ‘n bietjie bene te rek nie, want hulle word summier weer teruggejaag na die oorkant van die see. Van ver af sien Johannes al hoe die mense begin saamdrom op die strand. Iemand moes Simon se skuit herken het waar hulle aangeroei kom. Skaars klim Johannes-hulle af, of ‘n groot skare mense drom alweer om hulle saam en hulle moet net bontstaan om almal te organiseer.
Dan sien Johannes hom - die man wat oorhaastig deur die skare beur. Johannes het hom al van ver af aangehardloop sien kom, en hy het gewonder hoekom die man so haastig is?
Johannes sien sommer dadelik moeilikheid kom want hy herken vir Jaïrus. Hy is een van die kerkleiers, ‘n raadslid van die sinagoge. Hierdie kerkleiers is nou nie juis lief vir Jesus nie. Hy val voor Jesus se voete neer, en dan besef Johannes dat hierdie man een van die min uitsonderings is, een van slegs enkele geestelike leiers wat goedgesind is teenoor Jesus.
Jaïrus se nood is baie groot, want sy dogtertjie lê op sterwe en hy smeek Jesus om saam met hom te kom. Jesus wink vir Johannes en nog ‘n paar manne om dadelik saam met hulle te kom.
Maar skielik is daar ‘n onderbreking. Jesus stop in Sy spore en draai om: “Wie het my aangeraak?”
“Here, daar is nie nou tyd om te wil weet wie aan U geraak het nie - die dogtertjie is besig om dood te gaan!” Johannes spreek nie die woorde hardop uit nie, maar hy raak half ongeduldig met Jesus wat nou nie Sy loop kan kry nie. Daar is ‘n reuse skare mense wat hulle die hele tyd verdruk, almal stamp en stoot! Wat is dan nou verkeerd met sy Meester?
Agter Jesus staan ‘n vrou verslae. Sy het ‘n geweldige groot nood. Sy ly aan ‘n volgehoue menstruele vloeiing. Volgens die Joodse kultus maak dit dat sy permanent onrein is. Dus mag sy met niemand direk in aanraking kom nie. Vir twaalf jaar al leef sy in hierdie onhoudbare situasie, en sy kan dit net nie meer vat nie! Jesus is haar laaste en enigste hoop. Volgens Joodse wette (Lev 15:19-30) durf sy nie aan Jesus raak nie, want dit sou Hom sélf vir sewe dae lank onrein maak. Dus raak sy net aan die verste punt van Sy klere se soom. Simon por vir Jesus aan om asseblieftog voort te gaan na Jaïrus se huis. Jesus bly staan. “Wie het aan My klere geraak?”
Die spanning bou op. Die tyd loop uit vir die sterwende dogtertjie. Johannes se hart klop in sy keel. Kan die vrou nie maar ‘n bietjie wag nie? Maar vir Jesus is die drama wat hier afspeel belangriker.
Die vrou besef dat Jesus weet dat dit sy was. Sy val bewend van angs voor Hom neer en erken haar daad. Sy vertel van haar verskriklike dilemma. Sy sê ook dat sy gevoel het hoedat haar liggaam genees die oomblik toe sy aan Jesus raak! Liefdevol spreek Jesus haar aan as “dogter,” en dan is die twaalf jaar waarin sy deur die ganse samelewing verwerp en verstoot is, skielik verby. Sy weet dat sy vir die eerste keer in jare nou weer deel is van die volk en selfs van haar eie familie!
Maar dan tref die tragedie. Johannes word yskoud as iemand aangehardloop kom en uitasem vertel: “Dis te laat! Jaïrus se kind het reeds gesterf!”
Johannes voel asof hy vir Jesus aan Sy skouers kon skud en vra: “Here, hoe kón U? Die vrou kon mos maar ‘n bietjie gewag het?” Menslik gesproke is enige verdere optrede van Jesus sinneloos. Maar Jesus troos vir Jaïrus: “Moenie jou ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.”
Johannes luister in ongeloof na die skokkende woorde. “Maar sy is dan dood Here!” wil hy vir Jesus sê. “Moenie nog die man se lyding erger maak nie!”
Wanneer hulle by die huis aankom, tref hulle ‘n troostelose situasie aan van mense wat kerm en huil oor ‘n kind wat gesterf het. Hulle verwag van Jesus niks verder nie, want alle hoop is verby. Dit is verstaanbaar dat hulle so reageer. “Die kind slaap net,” sê Jesus. Hulle lag Hom uit, hulle het immers sélf gesien dat sy dood is, en dit is finaal!
Jesus wink vir Johannes, Simon en Jakobus om saam met Hom en die ouers in te gaan. Hy gaan staan by die dogtertjie en vat haar hand: “Meisie, word wakker!” roep Hy hard uit. Johannes kan sy oë nie glo wat volgende gebeur nie, want die dooie kind reageer onmiddellik en sit regop.
Vandag wéét ons dat die dood vir ‘n gelowige gladnie meer finaal is nie! Jesus het gewys dat Hy heers oor die dood met hierdie kind se genesing. Enkele jare later het Hy die dood finaal oorwin nadat Hy die volle prys van verlossing betaal het aan die kruis. Ek en jy as gelowiges het ook deel hieraan. Jesus se woorde aan Jaïrus: “Glo net en sy sal gered word.” kry later soveel groter betekenis wanneer Paulus in Hand 16:31 sê: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word!” Johannes skryf baie jare later in Joh 3:16 van Jesus se woorde aan Nikodemus: “Die wat in Hom glo sal die ewige lewe hê.”
Gebed:
Here, dankie dat U my ook gered het, en dat die dood nou geen houvas meer op my het nie!