Matteus 6:9-15
“Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Johannes se voorkop trek op ‘n frons - hy verstaan nie mooi nie. Nou hoekom bid die Meester dan en vra net vir een dag se brood op ‘n keer? Dit maak mos nie sin nie! Waarom kan ons dan nie vir die Vader vra vir hierdie week, of beter selfs, die volgende maand se brood nie? En hoekom net brood? Waarom nie ook vir vis en ‘n bietjie heerlike skaapvleis en ‘n lekker groot kruik wyn ook nie?
Maar dan word hy alweer uit sy dagdrome geruk met Jesus se volgende sin: “En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan.”
Nou is Johannes se gedagtes éérs in 'n warboel. Dit maak nie sin nie! God vergewe mos onvoorwaardelik? Nét die anderdag het iemand in die sinagoge voorgelees uit Jesaja se boekrol – iets soos “al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu.” Hy kan nie meer die woorde mooi onthou nie, maar dáár belowe die Here mos dat Hy ons sondes totaal vergewe! Maar nou sê die Meester dat ons óók moet vergewe. Dit sal maar moeilik wees! Hoe vergewe jy dan nou 'n Romein? Moontlik bedoel die Meester dat dit net mede-Jode is!
Baie jare later sit die gryse ou Johannes en terugdink oor sy drie kosbare jare saam met Jesus. Dan bars hy uit van die lag oor sy eie onnoselheid daardie jare. Daardie “daaglikse brood” waaroor hy destyds só gewonder het – Jesus het dit simbolies bedoel. Maar tóé kon hy dit mos nie insien nie! Eintlik het Jesus daarmee gesê dat ons die Vader moet vra om in ons behoeftes vir vandag te voorsien. Daarmee wil ons dan vir die Here sê dat ons totaal afhanklik is van Hom vir alles wat ons vandag nodig het. Maar dit gaan véél verder – ons vra nie vir die res van die maand se behoeftes ook nie. Ons vra net vir vandag, sodat ons elke dag ons afhanklikheid kan besef. Iemand wat klaar voorsien is vir die res van die maand of jaar, vergeet so maklik van sy afhanklikheid van die Here!
Johannes glimlag as hy terugdink deur die jare. Hoe klein was sý vertroue nie baiekeer nie. Daardie eerste keer toe Jesus gewys het hoedat Hy in alle omstandighede kan voorsien – die dag daar in Kana by die bruilof toe die wyn opgeraak het. Johannes moes tóé al besef het dat Jesus kon voorsien toe Hy daardie wyn uit niks uit gemaak het!
Maar steeds het hy keer op keer getwyfel. Toe Jesus vir hom en sy maats aangesê het om vir die 5000 mense kos te gee, het hy sy hande desperaat in die lug gegooi. Hoe kon Jesus dit van hulle verwag? Hoe skaam het hy nie daardie dag gevoel nie! Nadat hy telkemale gesien het hoedat Jesus voorsien, het hy steeds getwyfel. En toe hou die brood en vis net nie op nie! Totdat álmal genoeg gehad het om te eet!
Met die wonderlike voorsiening nog vars in hulle geheues, raak hulle dieselfde aand nog vreesbevange toe 'n ou stormpie hulle tref. En toe moes hy maar net wééreens sy kop in skaamte laat sak toe Jesus met 'n enkele woordjie die storm laat bedaar! Weereens voorsien Hy in hulle behoeftes.
Johannes sug salig met 'n groot glimlag op sy gesig. En hoe wonderlik het die Here nie deur ál die jare vir hom gesorg nie en elke dag sy “brood” vir hom gegee!
“Ja, en dan was daar die vergifnis-ding!” sug Johannes selfvoldaan. “Hoe verkeerd het ek dit nie daardie tyd verstaan nie!”
Inderdaad het hy darem één ding reg verstaan – die deel dat God se vergifnis volkome en onvoorwaardelik is! Maar die deel dat God slegs vergewe as ek eerste vergewe – dis 'n wanpersepsie! Dis nes liefde: as ek nie my medemens opreg, volkome liefhet nie – beteken dit dan dat God Sy liefde van my gaan onttrek? Nóóit! Maar Hy vra tóg dat ek Hom en my medemens moet liefhê. En natúúrlik gaan ek mos hard probeer, nie om daardeur God se liefde te probeer wen nie, maar bloot uit dankbaarheid vir Sy liefde.
Presies dieselfde met vergifnis. Ek vergewe mense wat my kwaad aandoen – nie om God se vergifnis te probeer wen nie, maar suiwer uit dankbaarheid vir God se groot genade, liefde én vergifnis vir my! Dis mos deel van my dankbaarheidslewe!
“Dis mos hoe 'n verhouding werk!” dink Johannes.
Ek en my vrou is in 'n verhouding. As ek die dag vir haar blomme bring – doen ek dit sodat sy vir my 'n lekker bord kos moet kook? Beslis nie! Ek doen dit suiwer om vir haar te sê ek is lief vir haar! En daai heerlike bord kos wat sy vir my maak, is nie om my guns te wen nie, maar bloot omdat sy lief is vir my en net die beste vir my wil gee! Sy verwag ook niks terug nie.
Ek is óók in 'n verhouding met die Here. In ons verhouding gee die Here onvoorwaardelik vir my liefde, genade, vergifnis van my sonde en nog baie meer. Hy vra ook niks terug in ruil daarvoor nie.
Op my beurt bring ek my kant van die verhouding deur liefde te gee teenoor die Here en my medemens. Nie uit dwang of om iets terug te kry nie, maar bloot omdat ek wil en omdat ek weet dat dit is wat die Here graag wil hê dat ek moet doen. En ek vergewe ook my medemens vir dinge wat hy teenoor my verkeerd gedoen het om dieselfde rede.
Gebed:
Here, my Here, ek het U baie lief! U doen soveel vir my en ek weet dat ek U nooit óóit daarvoor kan terugbetaal nie. Dankie ook dat ek kan weet dat U dit nooit van my verwag nie! Help my asseblief om totaal te kan vergewe, soos U my ook reeds vergewe het!