1 Tessalonisense 2:13-16
Die Jode is seker die weerbarstigste klomp mense wat die geskiedenis van die wêreld óóit opgelewer het. Wanneer jy deur die Ou Testament blaai, sien jy kort-kort hoedat hulle die spoor totaal byster raak. Jaco Thom het ‘n boek geskryf: die Bybel Roman. Hierin poog hy om die hele geskiedenis van die Bybel, van Adam tot Paulus, in verhaalvorm weer te gee. Dit is fiksie, in die sin dat hy soms fiktiewe karakters moes skep en vertel hoe hy dink dat die gebeure dalk kon plaasgevind het. Nogtans is dit feitelik korrek, en dit maak jou oë oop, in die eerste plek hoe die Jode hulle Godsdiens beleef het, en gedurigdeur agter afgode aangedrentel het. Aan die ander kant vertel hierdie boek ook van ‘n uiters genadige en geduldige God wat maar net weer en weer en weer vergewe en die volk uit die as optel en herstel. Dit is veral deur die tydperk van die rigters en konings waar die volk so dikwels in afgodery verval het. Natuurlik het dit ‘n absolute hoogtepunt bereik onder die regering van die bose Agab en Isébel.
Wanneer die Nuwe Testamentiese tydperk aanbreek is dit weer ‘n ekstreem na die ander kant, waar die Jode ‘n hiper-Godsdienstige tyd beleef onder leiding van die wets-mal Fariseërs wat elke faset van die lewe op wette en nogmaals wette baseer en uitleef. Só erg was hulle verdiep in hulle wetsnakomingsrituele, dat hulle gladnie die Messias herken het waarvan hulle in die Skrifte geleer het nie. Toe Hy God se liefde uitleef het hulle Hom as wetteloos beskou en doodgemaak. Hulle het die navolgers van Jesus met wortel en tak probeer uitroei, en die arme Paulus moes telkemale vlug vir sy lewe om uit die kloue van hierdie fanatiese klomp Jode te bly. Die ironie van die saak is, dat Paulus sélf ‘n Fariseër was en sélf aan die spits gestaan het van die klomp wat Christene vervolg het voor sy bekering!
Dit is teen dié agtergrond wat Paulus hierdie gedeelte skryf aan die gemeente in Tessalonika. Daar het hulle immers sélf hulle eie dosis vervolging deur die Joodse fanatici beleef. Dit is nou al tweeduisend jaar later, en steeds het die Jode nie veel verander nie. My dogter het vir twee jaar in Israel gaan werk. Sy het groente geplant, winkelrakke reggepak, kinders opgepas en vloere geskrop Sy was ‘n wrak toe sy terugkom, want die Jode is slawedrywers en steeds nog nét so fanaties en hardkoppig!
Wanneer Paulus so van die Jode praat, dan verwys hy natuurlik nie na ál die Jode nie. Jy kan mos nie sommer die kind met die badwater uitgooi nie! Hy praat spesifiek oor diegene wat so teen sy bediening gekant was. Natuurlik was daar steeds baie Jode wat hom goedgesind was, en nét so kan ons ook nie vandag sê dat alle Jode ‘n gemene klomp is nie! Wat egter wél waar is, is dat dit dikwels jou eie mense is wat teen jou draai wanneer jy ‘n gelowige word. Dit is bitter as jou eertydse vriende jou bespot en verwerp, of as jou eie familie jou aankyk asof jy nou totaal koekoes geword het. Ek onthou die absolute walging op ‘n ongelowige dokter se gesig, jare gelede, toe hy my vertel het dat sy seun die mediese professie prysgegee het om predikant te word. Dit was asof die seun sy pa ‘n klap in die gesig gegee het!
Wanneer ons vanoggend se Skrifgedeelte deurlees, merk ons op dat Paulus se kortstondige bediening in Tessalonika ‘n beduidende invloed gehad het op die inwoners. Hulle het gelowig gereageer! Twee dinge het dit duidelik gewys wat hulle reaksie was. Eerstens het hulle die boodskap as die Woord van God aanvaar. Tweedens het daardie boodskap ‘n positiewe uitwerking op hulle lewens gehad. Oor die afgelope klompie jare het ek die wonderlike voorreg gehad om die boodskap van God se verlossing met baie mense te kon deel. Op elkeen van hulle, en dit sluit jou ook in, rus daar ‘n verantwoordelikheid om eerstens aan die Woord te gaan toets wat ek hulle meegedeel het. Jy moet seker maak dat dit die waarheid is, Skrifgetrou is en werklik die Woord van God is. Klop dít wat ek geskryf het met wat elders in die Bybel geskryf staan? Tweedens is dit van uiterste belang om die Woord van God te aanvaar. Wanneer jy dit doen, moet dit ‘n uitwerking op jou lewe hê. Jy kan nie sommer gerieflikheidshalwe vergeet wat jy gehoor het nie, maar jy moet lééf wat jy gehoor het! Die nuwe gelowiges van Tessalonika het nie maar gaan terugsit nadat hulle gelowig geword het nie. Hulle het onmiddellik aan hulle geloof begin werk. Dieselfde moet in ons lewens gesien kan word. As ‘n baba nie groei nie en maar net ‘n baba bly, is daar ‘n verskriklike groot fout met hom. Net so moet ‘n gelowige groei in sy geloof. Gebeur dit nie, dan is daar gróót fout!
Ek wil dan vanoggend vra dat as jy een van dié is met wie ek die Evangelie gedeel het, dat jy vir my sal skryf hoe jy jou geloof ervaar en uitleef. Maar ek wil ook vra dat as jy al ‘n ou gelowige is, dat jy vanoggend saam met my introspeksie sal doen. Kom ons kyk of ons nog steeds groei in ons geloof. Dit is die een aspek in jou lewe waar jy kan groei tot die dag wat jy doodgaan.
Gebed:
Ek wil vanoggend vra dat U my sal aanspoor om steeds geestelik te bly groei, Here.