Jetro Praat Hard

8 July, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jetro Praat Hard

Eksodus 18:1-27

???? VIDEO | ???? OUDIO

Dalk het dinge in Egipte te gevaarlik geraak vir Moses se gesin - ons weet nie verseker nie. Maar toe besluit Moses om sy vrou, Sippora en hulle twee seuns terug te stuur na Midian, na haar Pa. Maar nou het dinge weer rustig geraak, en Jetro, Moses se skoonpa, het te hore gekom van sy skoonseun en die klomp Israeliete. ‘n Man kan mos nie sonder sy gesin wees nie, en so besluit Jetro om sy dogter en kleinkinders na Moses te neem waar hulle by Refidim kamp gemaak het. Natuurlik was Moses nog op sy hoede na die aanval van die Amalakiete, dus laat Jetro vooruit weet dat hy op pad is, om nie dalk aangeval te word nie.

Die weersiens was groot, en al die nodige protokol is nagekom - die buig vir mekaar en die soengroet en al die uitvra na wedersydse welstand. Vandag sou ‘n blote handdruk presies dieselfde betekenis hê.

Moses het baie om sy skoonpa te vertel. Sedert hy uit Midian weg is, na sy ontmoeting met God by die brandende doringbos, het daar baie water in die see geloop en baie opwindende dinge het gebeur. Hy vertel van die Farao, en hoe sleg die ongepoetste kêrel hulle behandel het. Hy vertel van al die ontberinge wat hulle moes deurmaak, en hoe daardie man gedreig het om hom dood te maak. Maar hy vertel hom ook met groot smaak van hoe die Here die man op sy plek gesit het. Daardie koning was absoluut onversetlik, maar wanneer die Here ‘n wonderwerk gedoen het en Egipte getref het met die een of ander plaag, dan het die Farao vermurwe, om maar net weer die volgende dag sy ou klipharde self te wees!

Oopmond sit Jetro en luister na die asemrowende wonders wat God gedoen het in Egipte. Sy gesig vertrek met afsku as hy hoor hoe die Nylrivier en al die damme en fonteine en selfs die waterkanne en bekers vol bloed was. “O, hoe afgryslik!” roep hy uit. En dan klap hy weer hande van pure lekkerkry as hy hoor hoe die sprinkaanswerms Egipte opgevreet het. “Dit sal hom leer!” kry hy ‘n woordjie in. Hy slaan sy hande saam van pure ongeloof oor die drie dae duisternis wat geheers het, en hy deins terug as sy skoonseun hom vertel van die verskriklike steekvlieë. Die haelstorm gee hom koue rillings agter sy ruggraat af. “O, maar God is groot!” sug hy, “God is almagtig!” En dan, baie dramaties, begin Moses vertel van daardie laaste nag - die nag toe die gekerm en hartverskeurende weeklag opgeklink het uit Egipte - die nag toe die eersgeborenes gesterf het. “Daardie selfde nag nog,” sluit Moses sy vertelling dramaties af, “het die Farao ons gesmeek om te trek. Hy het ons as’t ware uit die land uitgejaag!”

Jetro is stomgeslaan van verwondering, ook wanneer Moses hom vertel van die asemrowende wonderwerk by die Rietsee, die manna en kwartels en die water wat God voorsien het. Jetro kan steeds nie glo dat hierdie ontelbare klomp mense in die woestyn kan oorleef nie. “Ongelooflik!” skud hy sy kop. Die volgende dag, uit pure respek vir so ‘n almagtige God, gaan bring hulle offerandes aan daardie God van Wonders. Daarna word daar sommer gróót feesgevier.

Maar daar is een ding wat Jetro geweldig bekommer: Hierdie skoonseun van hom is besig om sy kersie aan alle kante gelyk te brand. As hy so aanhou, gaan hy binnekort uitbrand! “Moses,” spreek hy hom die aand kwaai aan toe dit ‘n bietjie rustig raak. “Jy sal móét leer om te delegeer!” Hy het gesien hoe lang toue mense vir Moses staan en wag om regspraak te kry. Moses is die enigste een wat vir drie miljoen mense regter moet speel. En dan is hy boonop nog pastorale sielkundige en huil-skouer en ...... noem maar op.

“Maar Pa, die volk kom na my toe......” wil hy homself probeer regverdig.

“Moses, ou seun,” gee Jetro sy tagtigjarige skoonseun raad, “Jy kan net eenvoudig nie alles alleen doen nie! Dis nie net jy wat sélf daaronder ly nie, maar jou mense raak moedeloos omdat hulle so lank vir jou moet wag!”

Moses het geluister! Hy het besef dat sy wyse ou skoonpa hééltemal reg is en toe stel hy regters aan om die sake te hanteer. Hy doen self net die heel moeilikste sake, en verteenwoordig die volk by God. Daar was oorgenoeg bekwame manne wat die werk uit sy hande kon neem.

Ek het al dikwels in dieselfde strik getrap as Moses. Ek wil alles sélf doen, “want daar is niemand anders wat dit kan doen nie.” Werklik? Met so ‘n mentaliteit is ek nie alleen besig om myself uit te brand nie, maar is ek terselfdertyd besig om iemand anders die geleentheid te ontneem van iets wat hy dalk self baie graag sou wou doen. Ek ontneem daardie persoon die voorreg om iets vir die Here te kan doen. Dit kon dalk die geleentheid vir hom wees om geestelik te kan groei en te blom in die Koninkryk. Dus is ek indirek dalk die oorsaak dat hy nie geestelik kan groei nie!

Dit is veral geestelike leiers wat dikwels in hierdie opsig baie skuldig is. Dit het al by verskeie geleenthede ‘n “Jetro” gekos om my tot ander insigte te bring. Moenie dieselfde fout maak as wat ek gemaak het nie. Moedig eerder ander mense aan om pligte oor te neem. Uiteindelik is dit tot God se eer!

Gebed:

Here, ek staan dikwels skuldig daaraan dat ek selfsugtig alles self wil doen. Vergewe my, en leer my om te delegeer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026