Matteus 17:1-13
Wintertyd kan dikwels uiters frustrerend wees vir die voëlkyker, want dan lyk die hele lot dieselfde. Natuurlik is daar uitsonderings, maar as jy kyk na die KBV’s (dis nou die Klein Bruin Voëltjies), dan is daar bitter min verskil. Moontlik is die een se bekkie ‘n bietjie swarter of rooier as die ander, of sy pootjies is oranje en nie vaal nie. Maar verder lyk hulle vir die leek presies dieselfde.
Maar wanneer die somer aanbreek en broeityd kom, ontplof hierdie selfde ou vaal voëltjies in kleurvolle laventelhane (ek praat natuurlik nou spesifiek van die mannetjies). Die Koning-rooibekkie se vaal veertjies maak plek vir ‘n spierwit hemp en pikswart manelpak met swierige lang sterte. Die vaal Paradysvink se metamorfose is nog indrukwekkender, want hy verruil sy grys werksklere vir ‘n roomkleur hemp, ‘n oordrewe rooibruin strikdas en ‘n pikswart tuxedo waarvan die stertpunte wie-weet-hoe-ver agterna sleep. Meneer Rooikopwewer trek vir hom ‘n bloedrooi mus oor sy kop, wat tot op sy skouers hang, terwyl Meneer Rooivink weer ‘n pikswart masker dra by sy rooi mus, en daarby ‘n pikswart hemp aantrek en ‘n rooistert baadjie. Langstertflap se metamorfose is asemrowend: van ‘n vaal ou KBV’tjie met ‘n niksseggende kort stertjie verander hy na ‘n sjarmante pikswart pierewaaier met ‘n halfmeter-lang welige blinkswart stert en ‘n swart en wit baadjie met bloedrooi skouerklappe. As hy oor die hoëveld se grasvlaktes fladder, kan niemand hom miskyk nie.
Gewoonlik herken ‘n mens nie eers hierdie grys voëltjies nie, en is dit maar net nóg ‘n ou valetjie. Maar vir ‘n kort tydjie kry hulle skielik name, en wil almal na hulle kyk. En dis veral die wyfie-vaalvoëltjies wat ékstra hard kyk! Moet hy dan nou eers sy tuxedo en strikdas aantrek voordat hy belangrik word?
Matteus beskryf ‘n insident waar Jesus saam met Petrus, Jakobus en Johannes teen ‘n berg opgeklim het. Ons moet onthou dat Jesus soos enige ander Joodse man gelyk het. Dit was alleen die dinge wat Hy gesê en gedoen het wat Hom anders gemaak het as die ander. Selfs Sy eie dissipels het gesukkel om Hom te herken as die Messias. Selfs tot op die héél einde was hulle nog nie eers seker nie. Dit was slegs vir vlugtige oomblikke wat hulle waarlik seker was oor Wie Hy werklik was.
Dan gebeur hierdie byna onbeskryflike ding op die berg, die gebeurtenis wat permanent in die geheue van die drie manne ingegrafeer is. Skielik verander Jesus se hele gedaante. Sy gesig blink helder soos die son. Dan verskyn Moses en Elia uit die hemel om saam met Jesus te verkeer. Vir Petrus en sy makkers is hierdie asemrowende verskynsel een te veel. Hulle wil dit vir altyd so bewaar. Hulle wil selfs vir hulle hutte daar bou sodat hulle vir ewig daar kan bly. Petrus-hulle val op die grond neer as hulle die Stem van God hoor. Dit is uiters kosbare oomblikke! Maar eers is daar ’n reuse taak om af te handel, want as dit nie tot die laaste druppel bloed uitgevoer word nie, is Jesus se koms op aarde nutteloos! Vir Jesus lê daar ‘n bitter moeilike pad voor, ‘n pad van lyding en vervolging, en aan die einde daarvan die afskuwelike kruisdood.
Wat die drie manne daardie oggend aanskou het, is slegs ‘n klein kykie in die toekoms, wanneer Jesus in heerlikheid op die troon sal sit. Die manne het wel die wonderwerke gesien wat Jesus gedoen het, en by ‘n paar geleenthede het hulle bely dat Hy die Seun van God is. Maar hierdie dinge het nog nie werklik vir hulle behoorlik ingesink nie. Hulle het Jesus so half as vanselfsprekend aanvaar as maar net nóg ‘n vaal Profeet. En dan, vir slegs ‘n enkele oomblik, kry hulle ‘n kykie in die hemel in, en hulle sien Jesus vir wie Hy werklik is, die ware, Lewende God! Moes dit dan nodig wees vir Jesus om Homself op só ‘n wyse te openbaar voordat hulle Hom werklik sou herken?
Ag, ons doen eintlik maar presies dieselfde! Al te dikwels aanvaar ons Jesus maar as vanselfsprekend. Hy is mos maar daar! Hy het so deel van ons alledaagse lewe geword, dat ons Hom nie meer herken as die Ware Lewende God nie. Ek kry dikwels diep seer as ek hoor hoe Christen-gelowiges verkleinerend of alledaags van Jesus praat. Dikwels word daar skertsend of selfs in ‘n grap na Hom verwys, wél in ‘n goeie sin. Maar met sulke soort opmerkings bring ons eintlik vir Jesus af na die vlak van die mens in ‘n slegte of vernederende sin.
Inderdaad is Hy elke oomblik van die dag by my. En inderdaad kan ek te enige tyd met Hom gesels. Inderdaad kan ek al my vreugdes en sorge en smarte met Hom bespreek. Maar ons moet altyd onthou WIE en WAT Hy werklik is. Hy is uiteraard God ALMAGTIG! Hy is die Koning van alle konings, die Skepper van die heelal! Hy is die Een wat vir ewig op die troon sit en regeer oor alles en almal! Ons moet te alle tye aan Hom daardie nodige eer en respek betoon, al sien ons Hom nie in die glans en glorie wat Petrus en sy makkers Hom gesien het nie.
Kom ons verheerlik vandag vir Jesus, en betoon aan Hom die respek wat Hom toekom!
Gebed:
Here Jesus, ek aanbid U as my Koning en my Here en my God. Al die lof en dank en aanbidding kom U alleen toe.