Jesus Loop op die See

5 September, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Loop op die See

Markus 6:45-52

VIDEO * OUDIO

Dit het baie laat begin word, en die manne was desperaat vir ‘n bietjie rus na hulle reuse taak om vir tienduisend mense kos te gee. Jesus het gesien dat die manne gedaan was, dus stuur Hy hulle om solank na die oorkant van die meer te vaar. Eintlik was dit ‘n relatief kort entjie, want vanaf Betsaida-Julius moes hulle slegs na Betsaida roei, seker nie veel meer as twee kilometer nie. Hy sê vir hulle dat Hy die mense wat nog in hulle duisende daar bymekaar was, sou huistoe stuur. Hy sou dan sommer later te voet by hulle aansluit.

Teen die tyd dat hulle in die skuit geklim het, was dit al sterk skemer. Maar toe kom daar moeilikheid: ‘n stormwind het begin opsteek, en die arme manne het reg teen die wind ingeroei. Intussen het Jesus teen die berg opgeklim om te gaan bid. Van waar Hy op die hoogte gestaan het, kon Hy sien hoe Petrus en die manne stoei teen die wind. En toe oorval die donker hulle. Hulle het gebeur en gesweet en geroei en gestoei, maar dit het vir hulle gevoel asof hulle nie eers beweeg het nie!

Ek ken daardie gevoel! Toe ek nog maar ‘n tjokkertjie was, het ons eendag in Mosambiek gaan visvang in die Limpoporivier se mond. Ons is rivier-af in ‘n roeibootjie tot by die monding, waar ons ‘n paar dae oorgeslaap het op die strand. Toe dit tyd word om terug te keer, klim ons almal in die skuitjie, en die roeier, ‘n seuntjie van sekerlik nie ouer as tien jaar nie, slaan sy roeispane in die water. Dit was ook al sterk skemer, en ek onthou hoe die water helder gegloei het elke keer as sy roeispane dit tref. Toe ons egter die middel van die stroom bereik, was daar ‘n probleempie: dit het gevoel asof ons nie vorentoe kon kom nie, maak nie saak hoe hard die outjie roei nie.

En skielik tref die besef my dat die gety besig was om uit te gaan, en ons word diepsee toe gesuig deur die massa water van die magtige Limpopo. Die seuntjie het verwoed geroei en die fosfor het die water in ‘n geheimsinnige blou skynsel verlig. “Hier versuip ons vandag!” het dit deur my kop gemaal. Boonop was die omgesukkelde rivier vervuil van krokodille en monster-haaie!

Uiteindelik het die outjie besef dat hy op hierdie manier nooit by sy bestemming sou uitkom nie. En toe slaan my hart ‘n slag bollemakiesie toe hy sy roeispane neersit en uit die bootjie spring. “Wat maak hy nou! Gaan hy ons hier aan ons eie genade oorlaat? Gaan hy nou huistoe swem?” Ek het my yskoud geskrik! Die seuntjie het egter doodluiters agter die skuit gaan staan en begin stoot. Ek kon my oë nie glo nie. Toe bars ons almal uit van die lag. Die rivier was hier skaars kniediep!

Jesus se dissipels het egter ‘n ietwat groter probleem gehad. Daardie meer is baie dieper as kniediep, en die wind was nou so sterk dat dit hulle totaal van koers af gedwing het. In plaas daarvan dat hulle na Betsaida geroei het, was hulle nou vinnig op pad na Gennesaret, ‘n volle tien kilometer verder. In gunstige toestande sou dit nie ‘n probleem wees nie, maar hierdie wind was reg van voor, en hulle kon maar net nie vorder nie. Die ure het verbygegaan en steeds het hulle teen die wind en golwe baklei.

Dit was twaalf baie uitgeputte manne wat so kort voor dagbreek hulle laaste kragte ingespan het om die land te bereik. Maar toe gebeur iets wat hulle harte amper laat staan het. In die mistigheid van die stormsee het hulle ‘n gedaante aangeloop sien kom op die water. Die manne het mekaar vasgegryp: “Dis ‘n spook!” het Johannes gegil. “Ons is gedoem!” Hulle het geskree van pure angs toe die gedaante al nader en nader kom, reguit op hulle skuit af. Dit was nog te donker om behoorlik te kon sien, maar hulle kon duidelik uitmaak dat dit ‘n menslike gestalte was. Hulle het aan mekaar vasgeklou toe hulle sien hoedat Hy tot reg langs hulle skuit loop.

En toe praat die “Gedaante” met hulle: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

Toe Jesus by hulle in die skuit klim, het die storm onmiddellik bedaar, en hulle kon kant toe roei.

Markus wil met hierdie vertelling Jesus se Goddelikheid beklemtoon. Ten spyte van die woeste storm, het Hy rustig oor die see gestap. In Job 9:8 word God beskryf as die Een wat op die golwe loop. Jesus wys hier vir Sy dissipels dat Hy waarlik God is. En as Hy hulle gerusstel, dan sê Hy: “Dit is Ek!” - dieselfde woorde waarmee God Homself aan Moses bekend gestel het. As hulle ooit getwyfel het in Jesus se Goddelikheid, moes hulle dit nou begryp het. Maar steeds het hulle dit nie verstaan nie.

Jesus wou nie die manne bangmaak nie. Hy wou hulle verseker van Sy Goddelikheid en ook van Sy beskermende teenwoordigheid. Vandag is dit steeds ewe waar. Dikwels wil ons in vrees en bewing wegkruip vir God, want Hy gaan ons straf oor ons misstappe. Nee, dit is nie eers náástenby waar nie! Hy is ‘n liefdevolle Vader, en Hy wil ons verseker van Sy almag en Sy oneindige Vaderlike liefde vir ons. Die dissipels het hierdie dinge eerstehands beleef, maar steeds kon hulle nie verstaan nie. Nogtans het Jesus hulle nie verwerp nie. So dikwels kan ons ook maar nie verstaan nie, en kan ons nie die omvang van God se genade begryp nie. Maar wees verseker dat Hy vir my en jou ook nie sal verwerp nie. Al wat Hy vra is dat ons in Jesus glo.

Gebed:

Dankie Here, dat U groot en almagtig is. En dankie dat U my in liefde aangeneem het nét soos ek is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026