Jesus - Koning - God!

23 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus - Koning - God!

Hebreërs 1:1-14

VIDEO | LUISTER

Is die Ou Testament vandag nog vir ons relevant? Moet jy dit nie maar oorslaan en liewer net die Nuwe Testament lees nie? Die Ou Testament is tog net vol grillerige verhale van doodslag, oorlog en lelike dinge - die Oue het tog verbygegaan! Of het dit werklik? Persoonlik put ek vandag nét soveel inspirasie uit die Ou- as die Nuwe Testament.

Dis tóg interessant hoe die Hebreërskrywer dan ook die Ou Testament gebruik. Hy het van die standpunt uitgegaan dat die verse uit die Ou Testament twee betekenisse het - ’n letterlike betekenis vir die tyd waarin dit geskryf is asook ‘n dieper geestelike betekenis met ‘n toepassing op Jesus. So byvoorbeeld is Psalm 110 oorspronklik ‘n troonpsalm wat gesing is wanneer ‘n nuwe koning die troon bestyg. Die Hebreërskrywer maak dit egter van toepassing op Jesus se koningskap. Ander skrywers doen dit ook - Matteus, Markus, Lukas en Handelinge haal almal Psalm 110:1 aan om Jesus se koningskap en uniekheid te bevestig.

Vers 5 tot 14 van Hebreërs 1 is ‘n pragtige gedig, saamgestel uit aanhalings uit die Ou Testament - meestal uit die Psalms. Op die oog af lyk dit na ‘n spul aanhalings wat maar net ingeryg is, maar as jy mooi gaan kyk daarna, dan sien jy dat dit ‘n bepaalde volgorde het en ‘n bepaalde boodskap wil uitdra. Saam vorm hulle die verhaal van Jesus, en veral hoe Hy deur engele vereer is. Inderdaad was Hy nie maar net ‘n gewone baba nie, maar die Koning van alle konings - ‘n Koning wat nie maar net deur mense vereer word nie, maar selfs die engele val in aanbidding voor Hom neer! Dink maar byvoorbeeld aan die magtige engelekoor wat gesing het vanuit die hemel by die Koning se geboorte, en hoe die skaapwagters in verwondering hierdie skouspel ervaar het!

In hierdie samestelling sien ons die verganklikheid van alles - so verganklik soos ou stukke klere. In skrille teenstelling hiermee is Jesus ewig! Selfs al het Hy gesterf aan die kruis, en is Hy begrawe - Hy hét weer opgestaan uit die dood en na die hemel opgevaar! Vandag sit Hy op die troon en heers. Ons - ek en jy is Sy gesante en dienaars! Watter wonderlike voorreg is dit nie!

Enkele gedagtes wat uit hierdie pragtige gedig na vore kom, is:

Vers 5: Jesus is die Seun van God. Aanhalings kom uit onder meer Psalm 2:7.

Verse 6 en 7: Die engele aanbid Hom. Sal die engele enigiemand anders as God Sélf aanbid? Jesus is dus inderdaad God!

Vers 8: Sy heerskappy is vir ewig en Hy laat reg geskied.

Vers 9: Hy het geregtigheid lief en haat wetteloosheid.

Vers 9: Hy is gesalf met olie van vreugde.

Vers 10: Hy is Skepper van die heelal.

Vers 11: Hy is ewig en onverganklik.

Vers 12: Hy is onveranderlik.

Vers 13: Aan géén ander wese – selfs engele kan die eienskappe hier bo toegedig word nie - Ps 110:1.

Vers 14: Almal is ondergeskik aan Hom en dien Hom.

Hoe raak die eerste hoofstuk van Hebreërs vandag vir my en jou as gelowiges? Soos ons reeds gesien het in die vorige dagstukkie, is dit ‘n geloofsbelydenis. Met reg kan ons dalk vandag bekommerd wees oor die dinge wat rondom ons gebeur. Sonde is besig om die wêreld te verswelg – of so wil dit vir ons lyk. Dit wil voorkom asof daar al hoe minder en minder gelowiges oorbly. Kyk maar hoe bars die dobbelhuise uit hulle nate uit - nie dat dobbel uitgesonder moet word as ‘n “groot” sonde nie, maar dit is ‘n “meetinstrument” wat die mate van verval van die mensdom aandui. Kyk maar hoe floreer die bordele. Kyk maar hoe word jou sosiale media oorstroom met gemorspos en alles wat vuil en lelik is. Bedrog en korrupsie is aan die orde van die dag, tot in die heel hoogste gestoeltes van ons land. Roof, kapings, moord, verkragting, geweld en uitbuitery is ‘n alledaagse - dikwels steur ons ons nie eers meer daaraan nie. En dan is daar die vernietiging van ons atmosfeer en grond en waterbronne deur besoedeling. Klimaatsverandering dreig om ons planeet te vernietig. ‘n Bitter donker prentjie?

Ons kan maar net, soos die engele wat hier beskryf word, voor Jesus neerbuig in aanbidding, want selfs deur al hierdie dinge sien ons Hom as heerser oor alles. Hy het immers alles gemaak, en Hy is steeds in beheer. Ons moenie kortsigtig wees en ons blindstaar teen die probleme van die hier en nou nie. Ons moet verby dit alles kyk en die ewigheid raaksien, waar die ongeregtighede alles uitgewis sal wees - waar selfs ons eie sondige, armsalige bestaan sal verander in ‘n heerlikheidslewe saam met Jesus, die Heerser oor alles. Oor die onbeskryflike mooi van die ewigheid kan ons dalk nou maar net droom, maar dit is ‘n werklikheid wat vir elke gelowige wag.

Gebed:

Wonderbare Koning, dankie dat U ook Here van my lewe is. Dankie dat ek deel het in U ryke erfenis!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026