Lukas 24:36-49
Kleopas en sy maat het die stukkie pad tussen Emmaus en Jerusalem sekerlik in ‘n rekordtyd afgelê, want die nuus wat hulle aan die ander gelowiges moes oordra, kon nie wag nie. Almal moes dadelik daarvan weet. Wanneer hulle by die huis aankom waar die ander dissipels daardie Sondagaand bymekaar was, vertel hulle opgewonde van hulle ontmoeting met Jesus. “Hy leef! Hy leef!Ons Meester, Jesus het waarlik opgestaan! Ons het Hom gesien!” Elke klein detail van hulle ondervinding daar op die pad tussen Jerusalem en Emmaus word bespreek en oor en oor vertel. Dit was die grootste ondervinding óóit in hierdie twee manne se lewe. “Hoe brandend was ons harte nie!” vertel hulle.
Terwyl hulle nog besig is om oor hierdie dinge te gesels, hoor hulle die bekende, vriendelike stem van Jesus tussen hulle: “Vrede vir julle!” En daar staan Hy! In lewende lywe staan Jesus tussen hulle. Kan jy jou die skok indink van hierdie mense? Petrus het alreeds vir Jesus gesien, en Kleopas-hulle het ‘n middag saam met Hom op die pad deurgebring, maar steeds is dit so verskriklik onwerklik. Net drie dae tevore het hulle Hom sélf daar aan die kruis sien hang. Hulle het met hulle eie oë aanskou hoe Hy dood en begrawe is. En nou staan Hy hier saam met hulle! Is dit ‘n Gees? Die manne het gebewe van angs!
Jesus het maar ál te goed verstaan hoe hulle moes voel, want hier het hulle skielik die wêreld van die totaal-onbekende betree. En vir enige mens sou dit skrikwekkend wees. Daarom stel Hy hulle gerus, en Hy verseker hulle dat Hy nog presies dieselfde Jesus is wat hulle onthou. Hy het steeds ‘n liggaam waaraan hulle kan vat. Hy eet selfs voor hulle oë ‘n stukkie gebakte vis. Geen spook is tot sulke dinge in staat nie!
Dan begin Jesus vir hulle te verduidelik van die volle betekenis van alles wat hulle die afgelope paar dae beleef het. Hy verduidelik waarom Hy móés sterf. Dit was noodsaaklik om te betaal vir hulle sondes. Hy verduidelik waarom Hy weer moes opstaan uit die dood. Hy wys hulle uit die Skrif waar al hierdie dinge haarfyn voorspel is deur die verskillende profete.
Die verhaal van Jesus loop soos ‘n goue draad regdeur die ganse Ou Testament, van die eerste hoofstuk in Genesis met die skeppingsverhaal tot met die heel laaste boek. As ons met oop oë die Ou Testament lees, sal ons Jesus duidelik daarin herken! Ds. Danie Haasbroek het ‘n boek geskryf met die titel: “Die Wonder van Jesus in die Ou Testament”, waar hy die sluier lig oor Jesus. Jesus kom nie alleen in profesieë voor nie, maar by etlike geleenthede het Hy ook Persoonlik in die Ou Testament aan mense verskyn, soms selfs in die vorm van ‘n mens!
In die drie jaar wat die dissipels saam met Jesus was, kon hulle steeds nie verstaan waaroor dit alles gegaan het nie. As hulle geweet het, sou hulle dinge dalk baie anders benader het, en dit sou Jesus se versoeningswerk in die wiele gery het. Maar nou dat Sy werk afgehandel is, maak Hy hulle verstand oop sodat hulle kan begryp. Skielik is dit asof ‘n helder lig vir hulle opgaan, en hulle verstaan van die vergewing van sondes en Jesus se versoening en alles wat Jesus nog die hele tyd vir hulle gesê het.
Maar dan verduidelik Jesus ook dat alles nog nie hééltemal klaar afgehandel is nie, en dat daar ‘n wonderlike verrassing op hulle wag. Hy gaan vir hulle ‘n “Gawe” gee, maar daarvoor moet hulle geduldig hier in Jerusalem bly wag. Ek dink nie die dissipels het ooit in hulle wildste drome kon dink wat die geweldige omvang van hierdie “Gawe” sou wees nie. Ons lees later in Handelinge dat Lukas beskryf hoe daardie beloofde “Gawe” op Pinksterdag aan die dissipels uitgedeel is. Daardie dag het die Heilige Gees in volle glorie die harte en lewens van almal daar teenwoordig kom vervul, en hulle toegerus met ongekende en onbeperkte krag en wysheid. Hy het lewens totaal kom verander en opgehef tot groot hoogtes.
Die wonder is dat daardie selfde Heilige Gees vandag steeds met ons as gelowiges is, en dat Hy ons vandag steeds toerus en vul met presies dieselfde krag en wysheid wat die gelowiges daardie tyd ondervind het.
Die klein handjievol mense wat daardie aand bymekaar was, was op die punt om moedeloos uitmekaar te spat. Kleopas-hulle was al klaar op pad, en ons weet ook dat Thomas daardie aand ook alreeds nie meer by was nie. Jesus het egter ‘n verskil kom maak, en skielik het hulle nuwe hoop gekry. Uiteindelik, ‘n maand of wat later, was daar nie minder nie as drieduisend van hulle bymekaar op Pinksterdag toe die beloofde “Gawe” gegee is. Die entoesiasme van die klein handjievol mense was aansteeklik.
Dit is die soort van reaksie wat my en jou lewe ook moet uitlok. Ons entoesiasme oor Jesus moet so aansteeklik wees dat almal met wie ons in aanraking kom, sal wil meedoen.
Gebed:
Here, dankie dat Jesus in my lewe gekom het en ‘n verskil gemaak het. Help my om dit entoesiasties uit te leef.