Lukas 2:41-52
Skaars het ek aan die slaap geraak, of Pa maak my wakker met ‘n “Opstaan! Opstaan!” Flink spring ek uit die kooi uit - bewend van opgewondenheid. “Ons gaan Wildtuin toe!” Waterval Boven se ysige Hoëveldluggie tintel op my vel as ek in die groen Zephyr Zodiac ingebondel word. ‘n Paar uur later skud Ma my wakker: “Kyk, daar’s Leeukop!” Ek vryf die wasem van die venster af. Dis nog steeds pikdonker, maar duidelik afgeëts teen die lug wat begin verkleur, pryk die silhoeët van Leeukop. Ek spring op en af van opgewondenheid, die Wildtuin is nou naby! By Numbi hek staan die tou motors kilometers ver en wag om in te gaan. Ek spring uit en hardloop langs die ry karre af. Die heerlike geur van die Bosveld vul my longe. Ouma haal ‘n koekblik propvol toebroodjies, hardgekookte eiers en wors uit die kattebak. Sommer daar in die tou waar ons staan en wag om in te gaan, brêkfis ons. Die stomende koffie uit die fles gee ‘n heerlike warm gloed in my maag.
Na ‘n opwindende dag van leeus, olifante en allerhande wonderlike gediertes, kom ons laatmiddag op Onder Sabi aan. Ons word begroet deur ‘n kamp met rye en rye vaalgroen tente. In die middel begin die reuse kampvuur, gepak met Hardekoolstompe alreeds te knetter. Almal in die kamp kom sit om die gesellige vuur en gesels. Ondervindinge van die dag word uitgeruil en mettertyd word rooiwarm kooltjies uitgekrap om ‘n worsie te braai. En as die leeu brul, dan bly almal stil om eers te luister......
Dit was 65 jaar gelede, maar die beelde is diep in my geheue ingegraveer. Onvergeetlike tye!
Tweeduisend jaar vroeër was die opgewondenheid in die dorpie Nasaret ewe groot: Dit was tyd vir die jaarlikse Paasfees, en vir weke lank al was Maria besig om voorbereidings te tref. Die donkie se saalsakke word gepak met padkos en kooigoed. En dan, een oggend vroeg-vroeg word daar in die pad geval. Ma ry op ‘n donkie en die jong seun Jesus hardloop opgewonde saam met sy maats vooruit op die lang pad na Jerusalem. Hoe verder hulle vorder, hoe groter raak die groep. Nefies en niggies wat mekaar ‘n jaar laas gesien het koek saam, totdat dit ‘n reuse fees word van saamsing en skerts en speletjies speel.
Vir die twaalfjarige Jesus is daar egter ‘n ander soort opgewondenheid, want volgende jaar word Hy dertien, dan word hy ‘n “seun van die wet.” Dis nog ‘n stappie nader aan Sy groot doel hier op aarde.
Na byna ‘n week se stap, kom hulle in Jerusalem aan, en hulle maak kamp tussen die olyfbome teen die hang van die Olyfberg. Wanneer die ander kinders speel en kattekwaad aanvang, hang Jesus rond by die groot leermeesters en drink elke woord in wat hulle sê. Natuurlik steur die grootmense hulle nie aan wat die kinders doen nie, want die hele spul kuier mos saam. En so vertrek Josef en Maria ‘n week later terug na Nasaret wanneer die fees uiteindelik verby is, salig onder die indruk dat Jesus tussen die bondel nefies en niggies is.
Maar Jesus is elders - tussen die ringkoppe met hulle grys baarde. Nou is Hy nie meer die een wat aan die oumanne se lippe hang nie, maar húlle hang aan Sy lippe, want sulke wysheid het hulle nog nooit uit die mond van ‘n jong seuntjie gehoor nie! Skielik word die bordjies verhang, want die leermeesters word nou die leerlinge en Jesus die Groot Leermeester wat almal oortref. Die res van die verhaal het ons al oor en oor gehoor, van hoe Maria later begin agterkom het dat Jesus nie meer by die groep is nie, en dat hulle begin soek het, en Hom uiteindelik drie dae later eers kon opspoor waar Hy steeds besig was om met die Skrifgeleerdes te gesels oor “die dinge van my Vader”. Wanneer Maria Hom aanspreek oor hierdie “onverantwoordelike” ding, is die heel eerste woorde wat Lukas van Jesus aanteken: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”
Nou sien ons duidelik Jesus se wysheid en toewyding, maar ook dat Hy Hom aan die wil van God onderwerp. Twintig jaar later, daardie aand voor die Vrydag van Verskrikking, word hierdie onderdanigheid aan God tot die uiterste beproef toe Hy in doodsangs gebid het dat die Vader asseblieftog die gruwel wat op Hom wag ter syde stel. Maar in dieselfde asem het Hy Hom ten volle aan die wil van die Vader oorgegee, want dit was die enigste weg waardeur Hy versoening kon bewerk vir die mens wat verlore is in sonde.
Lukas vertel nie veel meer oor Jesus se jeugjare nie, buiten dat Hy aan sy ouers onderdanig was, en dat Hy in groot guns was by almal om Hom. Alhoewel Hy aan sy ouers gehoorsaam was, was God prioriteit nommer een in Sy lewe.
Die vraag wat ons vanoggend vir onsself moet vra, is waar ons prioriteite lê? Is dit ons werk of ons vriendekring? Niemand - nie eers ons eie gesin - mag prioriteit inneem bo die Here nie. Rondom Hom moet ons al die ander dinge beplan.
Gebed:
Here, ek moet vanoggend bely dat daar so baie ander dinge in my lewe is wat voorrang geniet. Leer my asseblief om U voorop alles te stel.