Markus 10:13-16
In die Nuwe Testamentiese tyd was kinders, veral seuns belangrik binne gesinsverband, maar daar buite was hulle bloot gesien as die pa se eiendom, dus héél aan die onderpunt van die sosiale leer. G’n ordentlike Jood sou enige aandag gee aan ‘n kind nie, en as jy boonop nog die status van rabbi gehad het, sou jy jou gládnie aan ‘n kind steur nie!
Met dit in gedagte gehou, vou ‘n toneel voor ons oop waar Jesus besig is om met ‘n klomp mense te praat. En dan gebeur die onvermydelike, dat iemand dit in haar gedagte gekry het om Jesus vir haar kinders te wys. Hulle voel dadelik aangetrokke tot hierdie vriendelike Man, en die vrou laat hulle toe om na Jesus toe te gaan. Die manne sien dit, en hulle skrik hulle yskoud: “Nee, dit mag nie! Ons durf nie toelaat dat ons Meester se kosbare tyd so gemors word deur nikswerd kinders nie!” Summier word die kinders verwyder, en die ma word behóórlik die hare gewas oor hulle onsinnige optrede. Sy wéét mos dit mag nie! Kinders het mos nie plek hier by hulle Meester nie!
Maar Jesus voel anders oor die saak - Hy is verontwaardig oor die manne se optrede en Hy roep die kinders terug. “Moenie hulle keer nie,” vermaan hy die manne, “die Koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” Jesus laat Hom nie bind deur sosiale norme nie. Die manne is gladnie gelukkig nie: hoe kan hulle Meester so laag daal? Elke Jood weet tog dat kinders nog nie eers die eerste sport van die sosiale leer bereik het nie. Hy is besig om so reg in die hande van die Fariseërs te speel.
Jesus lees hulle soos ‘n boek: “Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” verduidelik Hy vir die gebelgde manne.
Daarmee trek Hy die kindertjies liefderyk nader en sit Sy arms om hulle en seën hulle. Vir die eerste keer in hulle lewetjies voel hulle dat hulle iewers behoort!
Hierdie gebeurtenis gee vir Jesus die geleentheid om vir die mense iets baie belangrik te leer: ALMAL is vir God belangrik! Dit is van uiterste belang dat gelowiges veral aandag moet gee aan diegene wat gewoonlik geminag word. Hulle het dit soveel meer nodig as enigiemand anders!
Het jy dit al ooit ondervind hoe iemand wat ‘n klap van die lewe weg het, blom wanneer jy aan daardie persoon aandag gee? Hom laat voel dat hy óók íémand is, en dat hy ‘n volwaardige mens is? Iemand se Jesus-optrede kan vir onwaardige mense hulle menswaardigheid teruggee en hulle laat blom! Ja, natuurlik is daar baie kansvatters in die lewe wat op jou gevoel speel, maar wie is ek om te oordeel? Die suksesverhale van mense wat selfs boemelaars en uitgeworpenes ‘n tweede kans in die lewe gee is legio, en een enkele geval maak dit deur en deur die moeite werd!
Dit is moeilik vir ons om die situasie van daardie tyd in te dink. Vandag is kinders nie meer so 100% afhanklik van hulle ouers nie. Vroegoggend is hulle al in die skool in die sorg van onderwysers. Daarna is dit weer die sportafrigter wat na hulle omsien en Sondae die Sondagskoolonderwyser wat hulle van die Here moet leer. Ouers sien hulle dikwels net saans! Daardie jare was dit anders: Kinders was totaal afhanklik ALLEEN van hulle ouers. Natuurlik het hulle wél binne die gesin ‘n status gehad. As dit nie vir die ouers se goedgesindheid was nie, was ‘n kind op sy eie totaal verlore!
Dalk is dit juis hierdie gedagte wat Jesus by die mense wou tuisbring, dat gelowiges moet begin besef dat ons nét so afhanklik is van God soos wat daardie kinders was van hulle ouers. ’n Paar jaar gelede was ek dééglik aarde toe gebring toe ál my aardse sekuriteite van my weggeneem was, en ek prakties moes ondervind hoe dit voel om gestroop van alles voor die Here te staan in volle afhanklikheid. Ek het nie geweet waar ek ‘n blyplek sou kry nie, want sonder ‘n inkomste kon ek nie daarvoor betaal nie. Die Here het voorsien. Toe daar nie geld vir kos of brandstof was nie, het Hy elke keer op die mees verrassende wyse voorsien. Maar ek moes leer om ten volle afhanklik van Hom te wees. Dit is veral moeilik om jou afhanklikheid van die Here te besef as dit finansieel met jou goed gaan.
Dis egter nie net op stoflike gebied waar ‘n mens jou afhanklikheid van die Here moet besef nie. Ook op die geestelike terrein is dit ewe belangrik. Iemand sê eendag vir my: “Ek sal kerk toe gaan wanneer ek die behoefte voel.” Die probleem is dat ‘n mens daardie behoefte al minder en minder voel. Soms moet jy jouself dwing om in die kerk te kom, Bybel te lees of te bid. As jy vir jouself die dag sê: “Vandag het ek dit nie nodig nie,” dan beweeg jy op baie dun ys. Dan wil jy in werklikheid sê: “Ek het die Here nie rêrag nou nodig in my lewe nie!” Ons moet baie deeglik besef dat ons nie vir ‘n enkele oomblik kan bestaan sonder die Here nie.
My gebed vir jou vandag is dat jy elke oomblik van die dag jou afhanklikheid van die Here sal besef!
Gebed:
Here, gee my ‘n hart en ‘n passie vir diegene wat laag is op die sosiale leer.