Jesus Barabbas of Jesus Christus?

21 September, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Barabbas of Jesus Christus?

Matteus 27:11-26

Onder die Romeinse bewind kon die Joodse Raad nie die doodstraf oplê nie. As hulle iemand ter dood wou laat veroordeel, moes hulle ‘n versoek aan die Romeinse regering rig, en dié kon dan besluit of hulle versoek toegestaan sou word. Dit is dáárom dat Jesus na Pilatus toe gebring is in die vroeë oggendure. Hy was goewerneur van Rome in die jare 26 tot 36 nC, en die finale besluit was syne. Hy was allerweë beskou as ‘n goeie en regverdige regter.

Vir Pilatus is hierdie ‘n bitter moeilike saak. Uit al die beskuldigings wat die Joodse Raad oor Jesus bring, kan hy werklik niks sien wat Jesus aan enige misdryf volgens die Romeinse wet skuldig maak nie. Boonop handhaaf Jesus ‘n stilswye, en probeer Hy Homself nie eers verdedig teen al die aanklagte nie. Hierdie het niks te make met enige lydelike verset nie. Hier was drie hoof redes vir Sy stilswye. Hiermee bewys Hy Sy volle vertroue in God. Tweedens het Hy geweet dat dit ‘n integrale deel is van God se groot raadsplan dat Hy ter dood veroordeel moes word. Dit sou géén sin maak om Homself te probeer verdedig nie. In die derde plek is hierdie verhoor deel van Sy lyding. Hy ly namens ander. Lees gerus wat Jesaja hieroor skryf in Jes. 53:7 asook vers 11 en 12.

In Jesus se stilswye herken ons die Kneg van die Here wat Sy lydenstaak volvoer het sonder om te kla of teë te praat. Maar terselfdertyd sien ons ook daarin Jesus se Koninklike waardigheid. Die enigste vraag waarop Jesus antwoord is toe Pilatus Hom vra of Hy die koning van die Jode is. Hierop antwoord Hy positief. Inderdaad is Hy nie alleen die Jode se koning nie, maar Koning oor die ganse heelal wat Hy persoonlik uit niks geskep het.

Hierdie koningskapgedagte onderstreep Jesus se hoë status nog verder wanneer Pilatus probeer om Jesus vry te spreek deur iemand anders in Sy plek te laat sterf. Die berugte gevangene, Jesus Barabbas word vir die Jode aangebied in die plek van Jesus die Christus. Hier is ‘n baie interessante woordspeling: nie alleen is hulle voorname dieselfde nie, maar die naam Barabbas beteken letterlik “seun van die vader.” Jesus Barabbas, wat letterlik sy pa se naam deur die modder gesleep het met sy misdaad, is die seun van ’n aardse vader. Jesus Christus is daarenteen die Seun van die Almagtige God die Vader. Barabbas is daardie eretitel geensins waardig nie, maar deur Sy onskuld sien ons dat Jesus Christus by uitstek die Regverdige is. Hy verteenwoordig dus die volmaakte beeld van die Vader in die hemel.

Die droom van Pilatus se vrou speel ook ‘n baie belangrike rol. Drome het ‘n besonderse openbaringsfunksie gespeel in Matteus, en dit beklemtoon Gód se gesigspunt in die verhaal. Hierdeur bevestig God as’t ware persoonlik die onskuld van Jesus. Lees gerus maar Mat. 1:20, 2:12-13 en 2:19. Daar het ons duidelik gesien watter belangrike rol drome gespeel het.

Jesus se totale onskuld word verder bevestig wanneer Pilatus twee maal verklaar dat Jesus onskuldig is. In Mat. 27:23 sien ons dat hy géén kwaad in Jesus vind nie. In vers 24 sien ons hoedat hy sy hande in onskuld was, en op hierdie simboliese manier sê dat ‘n onskuldige Man oorgelewer word. Daar was ‘n soortgelyke Ou Testamentiese ritueel waarvan ons lees in Deut. 21:1-8. Met hierdie handeling plaas Pilatus die volle aanspreeklikheid aan Jesus se dood op die Jode. Hulle antwoord hierop laat die hare op jou nek regop staan! Die Joodse leiers aanvaar die volle verantwoordelikheid namens die hele volk asook hulle nageslag. Hiermee aanvaar hulle ook enige gevolge wat hulle daad sou inhou, of dit nou goed of sleg is. Selfs die straf wat sou saamhang met die daad, aanvaar hulle onvoorwaardelik. En om dit erger te maak, aanvaar hulle dit selfs namens hulle kinders ook.

Dit is ‘n verskriklike ding wat hulle doen. Die straf wat die Jode met hierdie woorde op hulleself haal is hulle verlies aan status as die Godsvolk. Van nou af sal hierdie status alleen behoort aan alle gelowiges. Nóg ‘n element van hierdie straf is waarskynlik die verwoesting van Jerusalem in 70nC. Ons mag egter nie uit hierdie straf aflei dat die Jode as volk vir ewig sal boet vir Jesus se dood nie. Dit skreeu teen die bloed van Jesus wat gestort is vir almal wat Hom aanneem, selfs ook die gelowige Jode.

Vandag hang die swaard van die ewige straf steeds oor die kop van elkeen wat Jesus se versoeningsdood misken. Elkeen wat nog nie deel van God se nuwe volk geword het, deur Jesus as enigste Verlosser te aanvaar nie, sal die ewige (skrikwekkende!) straf verduur. Die ander sy van die saak is egter ook waar: as jy in die Seun glo, het jy die ewige, salige lewe. (Joh. 3:16). In Joh 3:18 word hierdie stelling bevestig: “Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.

Gebed:

Dankie Here Jesus, dat ek vanoggend kan getuig dat ek met my hele hart en siel en liggaam glo in U as die enigste Seun van God die Vader, en dat ek nie hoef te vrees vir die ewige straf nie, maar dat U vir my ook die ewige lewe geskenk het uit U groot genade.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026