Handelinge 21;1-16
“Die Heilige Gees het vir my gesê ……” So begin iemand die anderdag vertel waarom ‘n sekere ding gedoen moet word. Hoe weet ons wanneer die Heilige Gees jou lei om iets te doen of sê? Hierdie is baie beslis nie ‘n maklike vraag om te antwoord nie. Dikwels gebeur dit dan ook dat iemand ‘n wilde gedagte in sy kop kry, en dan besluit hy dat dit die werk van die Heilige Gees moet wees. Sodoende word die Heilige Gees dikwels “misbruik”. ‘n Voorbeeld is die kêrel wat ‘n paar jaar gelede vir ‘n persoon wat gesterf het se familie gesê het dat die Heilige Gees vir hom meegedeel het dat daardie man weer lewendig sou word op ‘n bepaalde tyd. Hy het die familie baie hartseer veroorsaak toe dit nie gebeur nie. Ons moet baie versigtig wees wanneer ons iets aan die Heilige Gees wil toedig. Pasop dat dit nie dalk jou eie wil is wat jy aan Hom wil koppel nie.
Lukas vertel vir ons dat hulle vanaf Milete, naby Efese die lang reis na Jerusalem per skip aangedurf het. Lukas was hier een van Paulus se reisgenote. Hulle skip doen aan by verskeie hawens en eilande. In Tirus staan hulle oor vir ‘n volle sewe dae terwyl die vrag afgelaai word. Daar was nog nie reuse hyskrane soos vandag nie, en alles moes met die hand gelaai word! Paulus maak die beste van ‘n slegte saak, en daar doen hy wat hy die beste kan doen, om die gemeente te besoek en die gelowiges te versterk. “Deur die Gees gelei,” skryf Lukas, “het hulle vir Paulus gesê om nie na Jerusalem te gaan nie.” Natúúrlik was hierdie mense bang vir wat op Paulus in Jerusalem gewag het. Hulle het gewéét dat die Jode daar Paulus se bloed gesoek het, en daarom het hulle by hom gesmeek dat hy sy reis moet heroorweeg. Of ons hulle pleidooi aan die werk van die Heilige Gees kan toeskryf is beslis debatteerbaar.
Uiteindelik was die vrag afgelaai, en het dit tyd geword dat Paulus en sy geselskap moes vertrek. Die hele gemeente is af strand toe om te gaan afskeid neem. Hier sien ons ‘n interessante verskynsel, naamlik dat werklik álmal daar was, kinders inkluis. Waar Godsdiens aksies deur die Jode hoofsaaklik deur die mans bedryf was, en die vrouens, en veral kinders totaal uitgesluit was, sien ons nou in die Christelike gemeenskap dat vrouens en kinders ingesluit is in kerkwees. Hierdie feit word nog verder gevoer wanneer Paulus-hulle in Sesarea aankom, en Lukas vertel van die evangelis Filippus, wat vier ongetroude dogters gehad het wat almal profetiese gawes besit het. Hierdie jong vroue het met ander woorde ‘n onderwysende funksie in die gemeente gehad. Vrouens, so sien ons, speel ‘n aktiewe, en soms leidende rol in die vroeë kerk.
Die Filippus waarvan Lukas hier skryf was een van die sewe manne wat vroeër as helpers aangestel is in die Jerusalemgemeente. Hy het later na Sesarea gegaan om sendingwerk daar te doen, en nou, twintig jaar later, woon hy in die stad.
Weereens word Paulus gewaarsku deur die profeet Agabus dat Paulus in Jerusalem gevange geneem sou word. Maar selfs hiérdie dringende waarskuwing laat hom nie vir ‘n oomblik twyfel oor sy besluit nie, selfs al sou dit sy dood beteken. Dit herinner ons sterk aan Jesus, toe Hy na Jerusalem wou gaan, en hoedat Sy dissipels Hom probeer keer het, want hulle het geweet dat daar net moeilikheid wag. Nogtans het Jesus nie vir ‘n enkele oomblik getwyfel oor Sy besluit nie. Jesus het geweet presies wat in Jerusalem op Hom sou wag. Sy voorland was gevangenskap, marteling, kruisiging, en uiteindelik die dood. Wat Paulus betref, het hy besef dat ook hý in die leeu se bek sou instap, maar oor die verrykende gevolge het hy gelukkig nie geweet nie. Paulus se een begeerte was om nog in Rome te kon kom, en daar die Evangelie te verkondig. Sy besoek aan Jerusalem was die voertuig wat die Here vir Paulus sou gee om na Rome te gaan. Hierdie slag nie eers op sy eie onkoste nie, maar op staatskoste! Jerusalem sou ‘n totale draaipunt wees in Paulus se bediening. Van nou af gaan sy sendingwerk totaal anders daar uitsien. Maar nou loop ek alweer die verhaal vooruit!
Van Sesarea af na Jerusalem was dit ongeveer ‘n honderd kilometer. Hierdie laaste stukkie pad het hulle te voet afgelê, en dit het hulle ‘n paar dae geneem.
‘n Baie moeilike vraag wat ons dalk vanoggend kan vra, is of Paulus die regte ding gedoen het om deur te druk met sy besluit om na Jerusalem te gaan, ten spyte van die vele waarskuwings daarteen. Vandag kan ons natuurlik met sekerheid sê dat hy reg gedoen het, want dit was deel van God se raadsplan. Daardie tyd moes twyfel beslis aan hom gevreet het. Paulus het egter ‘n lewe gelei wat so naby aan die Here was, dat hy dit kon verwerk, en die Here se antwoord kon hoor. Dikwels is ons ook in vertwyfeling oor ‘n besluit wat ons moet neem. Die antwoord is om so naby aan die Here te leef dat ons Sy stem duidelik kan hoor en onderskei. Hoe nader jy aan Hom leef, hoe helderder word Sy stem in jou lewe.
Gebed:
Here, trek my asseblief nader aan U - so naby dat ek U stem duidelik kan hoor.