Jerusalem, Jerusalem!

11 March, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jerusalem, Jerusalem!

Matteus 23:37-24:14

Daardie laaste week voor Jesus se kruisiging was vir Johannes een groot nagmerrie. Hy dink terug aan die oggend toe hulle van Betanië af na die stad stap. Skielik het Jesus gaan staan, en toe bars Hy in trane uit. Dit was aangrypend, en Johannes se hart het inmekaargekrimp.Jerusalem, Jerusalem!het Jesus gesnik.Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerk bymekaarmaak, maar julle wou nie! Kyk, nou word julle stad as ‘n puinhoop aan julle oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

Johannes onthou nog dat kort nadat Jesus hierdie uitspraak gemaak het, Hy van die tempel af weggeloop het in 'n simboliese aksie.

Die tempelgebou het Johannes se asem weggeslaan elke keer as hy daar kom. Oorspronklik was die tempel natuurlik deur Salomo gebou, en dit was glo ‘n indrukwekkende gebou wat mildelik versier was met Sederhout, Sipres, koper en goud. Met die val van Jerusalem tydens die ballingskap, het die Babiloniërs die tempel verwoes en totaal afgebrand. Later is dit herbou onder leiding van Serubbábel, maar hierdie gebou was nie naastenby so mooi soos dié van Salomo nie. Baie jare later, kort voor Johannes se geboorte het Herodus die Grote, die tempel stuk-vir-stuk afgebreek en herbou. Hierdie was waarlik een van sy mees manjifieke bouwerke. Dit was ‘n asemrowende gebou!

Terwyl Jesus en die dissipels van die tempel af wegstap, verwonder Johannes hom weereens aan die verruklike bouwerk van die tempel. En toe sê Jesus ‘n ding wat hulle in hulle harte ruk: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker ek julle: hier sal nie een klip op ‘n ander bly nie. Alles sal afgebreek word.Johannes en sy maats het gedink dat Hy dit “geestelik” bedoel. Dit kon tog nie moontlik wees nie? Maar hóé verkeerd was hulle nie! Die eerste ramp het die tempel alreeds slegs enkele dae later getref, toe die voorhangsel in die tempel van bo na onder skeur tydens die kruisiging.

En toe, 42 jaar later word Jesus se profesie waar, tot op die laaste kommatjie. Dit het gebeur toe die Jode in opstand gekom het teen Rome. Jerusalem word aangeval deur die Romeine. Ongeveer 600'000 Jode sterf in die brutale aanval, en selfs die tempel word afgebrand. In die hitte van die inferno smelt die goud wat mildelik in die bouwerk gebruik is, en dit vloei tussen die krakies van klippe in die mure in. Natuurlik was dit baie kosbaar, en die Romeinse soldate het letterlik elke klip afgebreek en omgekeer om die kosbare goue metaal in die hande te kry. En so word Jesus se profesie tot op die laaste stoffie waar.

Waar Johannes op Patmos sit, kry hy trane in sy oë. Sy geliefde stad, sy geliefde tempel...... niks het oorgebly nie, niks! Van Salomo, Serubbábel en Herodus se ongelooflike bouwerke het daar nie 'n enkele klip, geen enkele splintertjie sederhout of greintjie goud oorgebly nie.

Na Jesus hierdie ontstellende dinge gesê het, het hulle na die olyfberg toe gestap, en daar saam met Jesus gaan sit. Hulle was verward oor al die uitsprake wat Jesus gemaak het, en die veroordelings. Wanneer sou dit gebeur? Hoe sou hulle weet dat die einde gekom het? En wanneer sou Jesus dan terugkom? Toe begin Jesus vir hulle vertel van die verskrikking van die eindtye: allerhande soorte rampe wat die aarde sou tref, natuurrampe en verskriklike oorloë. Maar daar was nog meer: daar sou ‘n verskriklike vervolging van Sy volgelinge wees. Baie gaan afvallig word, en by baie gaan hulle liefde afkoel. Daar sal ook valse profete verskyn wat dwaalleringe verkondig. Maar deur dit alles sal die kerk die Evangelie verkondig, totdat dit dwarsoor die ganse aarde versprei het, en niemand sal kan sê dat hy nie die Evangelie gehoor het nie. Eers dan sal die einde aanbreek.

Jesus wou iets uiters belangrik by hulle, en ook vandag by my en jou tuisbring. Ons moenie probeer sommetjies maak oor wanneer die einde gaan kom nie. Al die tekens wat Jesus hier noem het al oor en oor deur die geskiedenis gebeur. Wanneer hierdie dinge egter plaasvind, moet ons weet dat die einde naderkruip. Hierdie dinge moet ons op ons tone hou sodat ons te alle tye gereed kan wees vir Sy Wederkoms. Al die tekens is reeds hier, nog meer intens as óóit deur die geskiedenis. Vandag het die laaste teken waarvan Jesus praat ook al waar geword, dat die Evangelie elke volk en nasie bereik het. Nog nooit in die geskiedenis was ons so naby aan Jesus se wederkoms nie. Natuurlik mag ons nie mislei word of verskrik staan nie. Ons moet waaksaam wees, volhard en vasstaan in die liefde en geregtigheid. Alleen só sal ons gereed wees wanneer die einde kom. En die einde sal baie, báie onverwags aanbreek, wanneer absoluut niemand dit verwag nie.

Gebed:

Here, hou my elke oomblik van die dag op my tone, sodat ek gereed sal wees om U te ontmoet wanneer U onverwags kom.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026