Jerigo se Mure

28 October, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jerigo se Mure

Rut 1:19-20

So vertrek Naomi en Rut op hulle lang reis na Betlehem in Judea. Naomi is opgewonde, want na tien jaar van eensaamheid en verwerping, is sy weer op pad huistoe. Sy loop en sing al die pad, en haar hart maak bokspringe van pure opgewondenheid. Rut, aan die ander kant, loop met gemengde gevoelens. Sy laat al haar familie agter, haar ouers, susters, vriende. Ja, ook haar gode waarmee sy grootgeword het. Jy kan mos nie sommer net so die gode wat jy al die jare aanbid het, vaarwel toeroep nie? Dit is van babatyd af diep in haar wese ingebrand, soos ‘n tatoeëermerk. Hoe gaan sy daarvan ontslae raak? Maar daar is nie omdraaikans nie, want sy het klaar haar woord vir haar skoonma gegee: “U land is my land en u God is my God….”

Maar aan die ander kant lê daar vir haar ‘n splinternuwe avontuur voor. Daar is ‘n nuwe, onbekende land waarvan sy nog maar net gehoor het, ‘n land met nuwe mense en ‘n kultuur wat baie vreemd is. Sy oefen hard om aan hierdie nuwe idee van God gewoond te raak, maar sy is opgewonde, want Naomi het haar met soveel entoesiasme vertel van die God van Israel, die God van wonders. Die verhale wat Naomi vertel, slaan haar asem skoon weg. Met verbasing moet sy hoor dat hulle dieselfde voorvader het, Abraham!

Naomi vertel ook van die groot leier Moses, wat die ganse volk van meer as drie miljoen mense uit Egipte van slawerny bevry het. En van die asemrowende wonderwerk toe die Egiptenare die volk soos rotte vasgekeer het teen die Rietsee. Naomi se God het net eenvoudig die see voor hulle oopgekloof sodat hulle kon deurvlug. Toe die Egiptenare hulle volg, maak God weer die see toe en versuip ál die Farao se soldate!

Die pad is baie lank, en vir dae aaneen stap die twee vroue noordwaarts, bergop, bergaf oor byna onbegaanbare terrein. Dankie tóg vir die donkie wat hulle besittings dra! Maar die lang pad gee vir Naomi hope tyd om vir Rut alles omtrent haar God te vertel. Van die dag toe die volk so byna-byna vir God van aangesig tot aangesig ontmoet het by die Sinaï-berg. Tog só jammer dat Oupa-hulle so beangs was, dat hulle God nie wou sien nie! En sy vertel van die water uit die rots en die manna en kwartels. Rut se mond hang skaamteloos oop van pure verwondering.

Wanneer die twee uiteindelik wes draai en die steil afdraende afsukkel na die Jordaanrivier, vertel Naomi vir Rut van die dag toe die volk voor hierdie einste rivier te staan gekom het. Dit was ondeurgaanbaar, want dit was in vol vloed. En toe stap die priesters met die Verbondsark tot by die water. Die oomblik toe hulle voete die water raak, droog die siedende watermassa op, en die volk kon droogvoets deurstap.

Rut snak na haar asem. Hoe is dit óóit moontlik? Hierdie God moet ‘n almagtige God wees!

Dit gaan maar sukkel-sukkel om deur die Jordaan te kom, en dit kos baie mooipraat met die steeks donkie om hom deur die water te kry. En die rivier is nie eers in vloed nie! Rut kan haar indink hoe dit daardie dag moes gelyk het. Oorkant die rivier, stap hulle verby die bouvalle van ‘n stad. Rut kan duidelik sien dat hierdie eens ‘n welvarende stad moes gewees het. “Jerigo,” verduidelik Naomi. “Ons het maar net rondom die hoë mure van die stad geloop, sewe dae agtermekaar. Op die sewende dag het die ganse stad se mure voor ons oë verkrummel en inmekaar gesak. Ons manne het net eenvoudig oor die rommel geklim en die stad ingeneem sonder enige teenstand. Ons God het ons die stad gegee sonder dat ons eers daarvoor geveg het!”

Nou is Rut finaal oortuig. Hier is die tasbare bewys voor haar! Hierdie God sal sy met hart en siel en verstand aanbid! Hy is só anders as die gode waaraan sy gewoond is. Sy het gedurig in vrees geleef vir haar gode, maar hierdie God van Naomi is liefdevol en Hy gee om vir Sy volk. Sy wil ook deel wees van hierdie volk!

Jy sal my sekerlik nie verkwalik dat ek so ‘n ietsie meer skryf as wat in die Bybel gemeld word nie. Die Bybel beskryf Rut en Naomi se verhaal in enkele sinne. Maar ek is seker dat dit baie waarskynlik is dat iets soos wat ek beskryf moes gebeur het, want hoe anders sou Rut tot geloof in hierdie wonderlike God kon kom?

Sékerlik sou Naomi vir Rut moes vertel van haar God, want Rut het immers klaar besluit dat hierdie God ook háár God sou wees.

Die vraag is of ek en jy entoesiasties is oor ons Here? Ja, natuurlik sing ons met entoesiasme vir Hom in die kerk. Maar is ons bereid om ook entoesiasties oor Hom te gesels buite die kerk? By ons werk, in ons vriendekring, terwyl ons staan en braai? Maak Hy jou waarlik opgewonde?

Ek daag jou uit: wys jou opgewondenheid oor die Here teenoor ander mense. Begin met medegelowiges, en wanneer jy meer vertroue het, ook teenoor die wêreld daar buite.

Gebed:

Here, ek is baie opgewonde oor U. Ek kan nie oor U uitgepraat raak nie! Gee my asseblief die moed om ook my opgewondenheid uit te leef daar buite!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026