Jannie se Plaatkoekies

2 March, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jannie se Plaatkoekies

Efesiërs 1:3-5

Video

Audio

Hou mense van jou? Wel, ek dink baie mense hou nogal van my! Party het my selfs lief! So sal ek ten minste graag wil glo! Waarom sou mense van my hou? Aag, ek is vriendelik en ek het ‘n mooi glimlag. En ek skryf dagstukkies. Dalk hou hulle van my omdat ek hard werk. Ek wil graag glo dat ek baie vir ander mense beteken. Elkeen van ons wil graag hê dat mense van ons hou, en veral dat hulle vir ons lief is.

Die probleem is, dat ons so maklik ook wil dink dat God vir ons lief is oor ons mooi eienskappe. Hy is lief vir my omdat ek hard werk in Sy koninkryk of omdat ek so baie goed doen vir ander mense. Hy is lief vir my omdat ek elke Sondag kerk toe gaan, gereeld my Bybel lees en bid. Of omdat ek Hom gereeld loof en prys en lofliedere vir Hom sing.

Die feit is egter dat God se liefde vir my absoluut niks te doen het met wat ek alles vir Hom doen, of hoe lief ek vir Hom is nie. Inderdaad is daar wél ‘n “omdat”, maar hierdie “omdat” lê by God. Hy het my lief omdat Hy my lief wíl hê. Hy het my lief ten spyte van al my gebrekkige pogings om vir Hom lief te probeer wees en dinge vir Hom te probeer doen.

Vergewe my as ek jou hierdie storie al ‘n dosyn keer vertel het! Maar lees hom gerus maar weer ‘n slag.

Klein Jannie besluit om vir Mamma en Pappa te verras deur die Saterdagoggend vir hulle ontbyt te maak. Hy spring uit die bed, en op pad kombuis toe besluit hy dat plaatkoekies nét die regte ding is. Hy haal vier eiers uit die yskas, maar sommer met die intrapslag gebeur die eerste oepsie alreeds, want vier eiers is te veel vir sy klein handjies, en twee van hulle val flenters op die vloer. Eerste groot gemors!

Jannie laat nie toe dat die taai gemors hom afsit nie. Hy haal ‘n bak uit die kas uit en gooi ‘n paar koppies meelblom in. Ongelukkig mors van die meel op die vloer, nogal rég op die stukkende eiers, en nou is dit éérs ‘n gemors. Gelukkig sien hy dit nie raak nie, want hy staan hoog bo die aarde op ‘n stoel en werk.

Stap een is om die eiers in die meel te kry. Hy kap ‘n eier teen die rand van die bak, soos hy Mamma sien doen het. Dit wil egter nie so lekker werk nie, net helfte van die eier beland in die bak, dop en al. Die ander helfte spat oor die toonbank. Maar Jannie is min gepla!

Nou trek hy die suikerpotjie nader en meet noukeurig ‘n paar handjiesvol suiker af. Nou is sy handjies een taai gemors en sy vingers klou aanmekaar vas. Hy klouter van die stoel af om die melk uit die yskas te kry, maar in die proses stamp hy die suikerpot van die toonbank af sodat dit aan skerwe spat op die vloer. En suiker lê die hele kombuisvloer vol. Jannie het egter nie nou tyd om daaroor te bekommer nie, die plaatkoekies moet klaar kom! Hy klouter weer op die stoel en gooi melk by die meel en begin heftig roer.

Op daardie oomblik kom Kat die kombuis ingemarsjeer. Hy spring op die toonbank en kom ruik aan die taai gemors in die bak. Jannie vererg hom vir Kat en hy swaai ‘n wilde hou na hom met die houtlepel. In die proses stamp hy die bak per ongeluk raak. Dit kantel. Jannie gryp tevergeefs na die bak, maar dit tol buite sy bereik en val met ‘n harde slag van die toonbank af en maak nóg ‘n groter gemors van die reuse gemors op die vloer!

Vir Jannie is dit die laaste strooi. Sy lippie begin onbedaarlik te bewe. As hy omkyk, sien hy vir Pappa in die deur staan. Jannie bars in trane uit. Al sy beste pogings het net mooi op niks uitgeloop nie! Sy liggaampie ruk soos die rou snikke deur hom skeur. Pappa moet baie mooi in die taai gemors trap om nie nog op ‘n glasstuk óók te trap nie. Hy tel vir Jannie van die stoel af en druk hom styf teen sy bors vas. “Pappa is baie lief vir jou!” troos hy.

Hoe lief het die Here jou?

Hy het my en jou uitgekies om Sy kinders te wees, ten spyte van die feit dat ons in vyandskap met Hom geleef het. Hy het ons ryklik geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is (vers 3). Ons sal nooit werklik ons verlossing kan verstaan nie, want dit is só onbegryplik. Hy het Sy besluit oor ons alreeds geneem nog voordat ons gebore is. As dit van ons goeie hoedanighede of mooi werke moes afhang, sou ons nóóit kinders van God kon word nie. Dit was alleen Sy groot liefde en genade vir sondaars soos ek en jy wat van ons Sy kinders gemaak het.

Wat moet my reaksie hierop wees? Liefde! Liefde vir my medemens, maar veral liefde vir God deur Hom dankbaar te loof en prys en Hom te dien met alles in my! Hy het immers juis vir óns uitverkies, ten spyte van al die gemors wat ons aangevang het. Ons moet soos Paulus dit uitjubel in ‘n lofprysing oor hoe groot en goed die Here werklik is. Sy genade oor my is asemrowend groot. Ek kan Hom nooit genoeg dankie sê daarvoor nie.

Gebed:

Here, al my lof en dank en aanbidding gaan aan U, want U is groot en aan U genade is daar geen einde nie. Dankie vir die onbeperkte liefde wat U elke dag oor my uitstort!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026