Genesis 28:1-10
Die kollig van ons verhaal verskuif nou na Jakob, die bedrieër, die vader van die volk Israel, die mens in konflik. Tydens sy geboorte was Jakob alreeds in konflik. Esau het sélf al in die minuut van sy geboorte die indruk geskep van iemand wat nog sy vuiste gaan swaai. Daardie bloedrooi harige lyfie van hom het net één ding gesê: “Pasop vir my!” Maar Jakob, slinks soos die houtjie van die galg kom hy van agter en gryp sy klein boetie aan die hakskeen.
Wanneer hy ‘n jong man is, buit hy Broer Esau se nood uit wanneer Esau rasend van die honger uit die veld aangestrompel kom. Wanneer hy op sy kwesbaarste is, rokkel die geslepe Jakob sy eersgeboortereg af. En nou het hy so pas weer sy skelmstreke uitgehaal en op laakbare wyse vir sy pa gelieg en Esau se seën gesteel. Ons wil vra: “Wat kan tog van so ‘n skelm man word?”
Vir oulaas probeer Pa Isak om tóg net ‘n bietjie sin in sy seun se lewe in te praat. Wanneer sy bui gesak het oor die groot onreg wat Jakob hom aangedoen het, laat roep Isak vir hom. “Jy mag nie met ‘n Kanaänietiese meisie trou nie, Jakob!” Wie weet, dalk sal Jakob nie dieselfde fout maak as Broer Esau nie. Hoe verpes hy nie Esau se heidense vrouens nie! Hy gee vir Jakob duidelike instruksies om na sy ma se broer Laban toe te gaan en met een van sy dogters te trou.
En dan gebeur die wonderlike: Ten spyte daarvan dat Isak al die jare vir Esau voorgetrek het, en ten spyte van die verfoeilike ding wat Jakob hom aangedoen het en die walglike manier wat hy vir sy pa gelieg het, seën Isak sy seun weer 'n slag: “God die Almagtige sal jou seën my seun.” Hierdie is sékerlik die laaste keer dat hy óóit weer sy seun sal sien. “God sal jou vrugbaar maak en jou ‘n groot nageslag gee, en Hy sal aan jou hierdie hele land gee as jou besitting.”
En so vertrek Jakob op die lang tog na Haran, ‘n tog wat hom drie maande sou neem. Nie alleen gaan hy vrou soek nie, maar hy moet so ver as moontlik wegkom van sy woedende broer Esau, anders is hy ‘n dooie Jakob.
Esau het intussen te hore gekom van hierdie gesprek en dat Jakob gevlug het. Hieroor was hy woedend! Maar iets anders het hom nog meer ontstel: Hy het ook gehoor dat Isak-hulle nie sy twee vrouens goedkeur nie. Hy probeer die sakie regstel op sy eie manier, en gaan vat toe maar vir hom nóg ‘n vrou, een van sy oom Ismael se dogters, sodat een van sy harem darem so half in die familie is.
‘n Eensame vlugteling op pad na Haran, Jakob, bedrieër. Oupa Abraham het daarvandaan gekom as ‘n skatryk man en boonop vriend van God. Ma Rebekka het uit Haran gekom, oorlaai met geskenke en jubelend gelukkig. Jakob strompel voort na Haran, eensaam en met ‘n reuse skuld wat op sy skouers rus. Die prys vir sy bedrog is baie groter as wat hy óóit kon droom. Dit het na so ‘n goeie idee gelyk. Nou is hy egter ‘n weggeworpe vlugteling, voortvlugtend vir sy eie broer.
Wat maak jy met jou verkeerde besluite, met die dinge wat jy gedoen het wat ander mense bitterlik seergemaak het? Wat doen jy as jy selfs vir God bitterlik bedroef het? Vlug jy daarvoor? Die probleem is dat jou skuld soos ‘n skaduwee saam met jou trek. Die krimineel, Dirk Prinsloo, moes dit op die harde manier leer, toe hy gedink het hy vlug Rusland toe, want daar is hy weg van al sy probleme. Daar land hy toe egter in nog ‘n groter moeilikheid! Jy kan nie vir sonde wegvlug nie.
Jakob het net een troos gehad: Pa Isak se seën! “God is by my,” sê hy dit die hele tyd vir homself. “God is darem nog by my......” Maar Jakob is sélf ook nie eers so seker of God werklik nog by hom is, en of God ooit nog in hom, die skelm hakskeengryper sou belangstel nie.
Mamma se seuntjie, Jakob was sy lewe lank ‘n huismens. Anders as boetie Esau wat heeldag lank in die veld geboer het, het Jakob homself besig gehou in die kooktent saam met Ma Rebekka. En nou pluk hy die wrange vrugte daarvan, want hierdie tog van hom is nie maklik nie. Hy is nie gewoond daaraan om heeldag lank in die son te wees nie, en sy sagte voetjies is teen die eerste middag al seer geloop. Hy sug swaar. Hoe ver nog?
Wanneer die son begin sak, besluit hy dat dit genoeg is vir een dag. Hy het niks by hom nie, nie eers ‘n tent om in te slaap of ‘n kussing vir sy kop nie. “Hoe gaan ek hierdie lang pad oorleef?” Hy soek vir hom ‘n plekkie uit om sy seer liggaam vir die nag neer te lê. Genadiglik kry hy darem ‘n plat, gladde klip in die hande wat hy onder sy kop kan sit. Mens wil darem nie dat die oorkruipers en goeters in jou hare kom nesskrop nie!
Hy gaan lê met die maan en miljoene sterre wat vir die eerste keer in sy lewe sy tentdak is, en verwonder hom aan die skoonheid daarvan. Jakob sug swaar. En dan oorval die slaap hom, ‘n diepe slaap onder die hemelkoepel, God se groot skepping. Dan gebeur iets wat Jakob in sy lewe nooit sou kon vergeet nie......
Gebed:
Here, soos Jakob het ek ook dikwels ‘n swaar las van sonde op my skouers. Dankie dat ek vandag kan weet dat U Seun Jesus alreeds ál my sondes vergewe het en elke minuut van die dag by my is.